Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Om goed na te dink, sê Marius le Roux, het waarde. Foto: verskaf
Om goed na te dink, sê Marius le Roux, het waarde. Foto: verskaf

‘Christus hou wag oor ons gedagtes’

Marileen Steyn in gesprek met Marius le Roux

Gaan mense hierop terugkyk en sê dat dit die beste jaar ooit was?

Nee, sê Marius. “Maar dit was steeds anno domini, die jaar van ons Here.”

Ons sit in Marius se studeerkamer en gesels oor hoe Albertinia, ’n dorpie reg langs die N2 tussen Kaapstad en Mosselbaai, die koronaviruspandemie beleef het.

Hy is maar te bewus van die impak wat die pandemie op hom en sy omgewing gehad het. Hy is in sy 60’s, en hy praat openhartig oor die onsekerhede, oor die besef dat jy jouself moet beskerm, veral as jy onderliggende siektes het wat jou ’n sagte teiken maak.

Dis egter die vrees vir die virus, sê hy, wat ons gaan doodmaak. Vrees is die vyand.

Die aanbiddingsruimte

Op dié manier moes Marius die bedieningsuitdagings wat die pandemietyd meegebring het in die gesig staar. “Ons is nog nie eens behoorlik deur die derde industriële revolusie nie, en nou trek ons al by die vierde een.”

Hy sê dit terwyl hy verwys na die swak selfoonsein in die omgewing, en die afhanklikheid van ADSL en die beperkte data waaroor ’n gemeente beskik waar meer as 60% van die lidmate ouer as 60 is.

En al verwys hy na homself as ’n “tegnioot”, moes hy die tegnologiese uitdagings oor die afgelope jaar self hanteer.

Bedieningsgewys was daar die goue draad in die leesrooster dat die Here by ons is en dat Hy in beheer is.

Die kerkgebou is vir Marius ’n belangrike plek om die waarheid van God se teenwoordigheid te verkondig, en daarom het hy dié aanbiddingsruimte in sy prediking gebruik. Hy beskryf dit as ’n anker wat sin en betekenis gee.

Hier is die dienste opgeneem en na die ouetehuis uitgesaai. Die feit dat die prediker geen terugvoer kry nie (“hierdie lenskykery”) was wel vir hom ’n groot uitdaging.

’n Uitskudgeleentheid

Daar was egter ook die verryking om vir ’n keer aan die “ontvangkant” van ’n erediens te kon sit. Hy vertel hoe hy dit in dié tyd geniet het om musiek te luister. Hoe dit hom gehelp het om behoorlik te kan dink.

Die tyd vir diepe nadenke was vir hom uiters betekenisvol. In hierdie stil nadenke kon Hy met God gesprek voer in die wete dat Hy deurentyd teenwoordig is.

Die bepeinsing van die leesrooster se teks-van-die-week het Marius baie gehelp. Dit, te midde van al die uitdagings wat die pandemie gebring het, en gepaard met ’n vyf jaar lange droogte. En fondsinsamelings wat noodgedwonge afgestel moes word.

Hy praat oor die uitdagings rakende kosvoorsiening, oor mense wat vir kos wag terwyl ander oorboord gaan met die insameling daarvan. Hy praat oor die probleme wat ontstaan wanneer kospakkies ondeurdag uitgedeel word. “En dan is daar nog die politiek …”

Marius sê hy bekommer hom daaroor dat gelowiges nie verantwoordelikheid vir hul geloofsgroei aanvaar nie. Hy verwys na hulle as “teelepel-Christene”. “Mense ‘privatiseer’ hul geloof, en kort voor lank verbreek hulle hul formele bande met die kerk.

Dan voeg hy by: “Die kerk is tot ’n groot mate nog ’n volkskerk, maar soos wat ’n boom sy blare in die herfs verloor, so was die pandemie as ’t ware ’n ‘uitskudgeleentheid’ vir ’n gemeente. Nou kan almal sien wie werklik lidmate is.”

’n Gegronde bestaan

Wanneer ek vra wat die pandemie vir hom gegee het, speel hy met sy masker tussen sy vingers. “Dis ’n moeilike vraag,” sê hy eers. En dan begin hy gesels oor sy seun wat moes tuisbly nadat hy uit China teruggekeer het.

“Eintlik is ons so geseënd.”

Marius het die afgelope jaar diep nagedink oor die pad wat die Here met hom en met sy mense loop, oor die seën wat hy en hulle ontvang het. En oor die mens se weerloosheid.

Om goed na te dink, het groot waarde, sê hy. Dan haal hy Filippense 4 aan en sê dit het vir hom groot waarde. Hy gesels oor hoe Christus wag hou oor die mens se gedagtes en lewe. Hoe Hy vrede gee.

Hierin, sê hy, is jou bestaan gegrond.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top