Marileen Steyn in gesprek met Nadia Muller
Simondium Familiekerk is in ’n idilliese omgewing geleë. Tussen plase en hoë berge nestel die dorpie halfpad tussen Stellenbosch en Paarl.
Maar dis nie waar ek en Nadia mekaar ontmoet nie. Ek vergesel haar op een van haar gereelde uitstappies na Huis Andrew Murray, ’n kinderhuis in Wellington, waar haar gemeente al jare lank betrokke is.
Opgewonde
Op pad vertel sy my van die jaar waarin sy Simondium haar tuiste gemaak het. Sowat die helfte van Simondium se lidmate bestaan uit boere. Hulle het nie deurentyd die volle impak van die koronaviruspandemie gevoel nie, hoewel hulle nie altyd voluit kon produseer nie.
Die gemeente het wel ’n lang oorgangstyd deurgemaak, met twee brugpredikante* in twee jaar.
Daarom, sê Nadia, was daar groot opgewondenheid by die lidmate omdat daar uiteindelik ’n voltydse predikant bevestig kon word. Die pandemie het wel vir eers ’n stokkie daarvoor gesteek.
Aanvanklik is die aanlyn eredienste nie juis ondersteun nie, maar toe die kerk se deure weer geopen en regstreekse uitsendings uitgestuur kon word, het meer en meer lidmate begin deelneem.
‘Hoe is dit moontlik …?’
Die lidmate het werklik eienaarskap van die gemeente geneem, vertel Nadia. “Ons het byvoorbeeld die soort geld ingesamel wat nog nooit voorheen ingesamel is nie.” Die begrotingsteiken is maklik oortref.
“Ek kan net ‘dankie’ sê …”
Die wonderlike vir Nadia is dat die gemeentelede nie bloot geld gee nie, maar ook van hul tyd en energie. Dis boonop nie mense wat bedank wil word en gepamperlang moet word nie. Hul gesindheid is een van: “Dis ons gemeente. Ons wíl dit vir ons gemeente doen.”
Sy sê sy kan nie help om dit toe te skryf aan die gemeente se ankerteks nie, Jesaja 43.
Oral waar sy kom, hoor sy dat die lidmate die diepe oortuiging koester dat dit die Here se gemeente is en dat dit die Here se wil is dat die gemeente nie sou ondergaan nie.
“As ek nou ’n doktorsgraad moet aanpak, sal dit oor Simondium wees,” sê Nadia. “Hoe is dit moontlik dat ’n gemeente só kon opstaan en nou weer relatief sterk is?”
‘Jy probeer net oorleef’
Volgens Nadia het die grendeltyd mense laat besef hoe afhanklik hulle van die interaksie met ander is. “Ek het self begin swaarkry omdat ek nie by mense kon uitkom nie. Omdat ek nie kon doen waarvoor God my geroep het nie.”
Dit was eers toe die eredienste hervat is en Nadia haar mense weer in die oë kon kyk, dat sy beter voel het.
“Alles was vir ons as gesin reeds nuut; Covid-19 het dit net moeiliker gemaak,” sê sy.
Sy het gesteun op haar oefenprogram, en op die wete dat sy ook vir haar kinders se onthalwe moet sterk staan.
Haar kinders, vertel sy, het veral swaargekry. Sy sê sy dink nie mense besef hoe swaar kinders kry as hulle nie sosiale interaksie met maats het nie.
“Éintlik,” gee sy later toe, “was dit ’n ‘horrible’ jaar vir ons gesin.” In die middel van die grendeltyd het haar vyfjarige haar been gebreek. Nadia self moes tydens die grendeltyd ses weke siekteverlof neem ná ’n operasie.
“Dit alles dreineer jou. Jy probeer net oorleef. Ek weet nie regtig hoe ek kon ‘cope’ nie.”
Dit was wanneer “die tolletjie van die wiel afgeval het” dat sy maar haar hardlooptekkies aangetrek en die pad gevat het.
‘So what?’
’n Deel van haar reis die afgelope jaar was om oor die doel van die predikant in ’n gemeente te herbesin. “’n Mens voel soms so ‘useless’.”
Dit was ’n tyd waarin sy die Here gevra het waarvoor sy regtig geroep is. In die normale gang van sake, wanneer jy besig raak, vergeet jy wat die doel is.
Nadia het tot die slotsom gekom dat prediking wel ’n lekkerte is, maar dat sy geroep is om by mense uit te kom. Al is dit bloot om vir hulle ’n boodskap te stuur en vir hulle te bid.
Prof Cas Wepener, een van haar eertydse dosente, het haar geleer dat sy altyd “so what?” moet vra. “Ons preek om mense goed te laat voel, ons prediking is vol fieterjasies wat mooi klink.”
Sy het dit probeer teenwerk deur haar preke te vereenvoudig, deur regtig by die kern te probeer uitkom.
Dit was vir haar as ’t ware ’n onderskeidingsproses: Sy moes vra wat belangrik is vir mense wat hul werk verloor of eensklaps ’n verminderde salaris ontvang.
Sy vertel van die keer toe sy ’n gesin waar daar ’n sterfgeval was, moes bystaan – en dit net voor sy moes preek. “Wat,” het sy haarself toe afgevra, “wat preek jy dan voor ’n gemeente wat nog nie hiervan weet nie? Wat sê jy wat werklik waarde toevoeg, wat mense iets van die Here laat beleef?”
Die hart
Nadia het dit in 2020 haar taak gemaak om meer as bloot ’n motiveringspreker op die kansel te wees, maar om werklik by die hart van sake uit te kom.
Wat ís die hart?
Dat die Here nie bloot toekyk hoe dinge gebeur nie, maar saam met sy mense huil. “Dit is tans die kern van my teologiese nadenke,” sê sy. “Die Here se seer was nie tot die kruis beperk nie; Hy het steeds seer.”
Wat het die koronaviruspandemie haar gegee?
Sy bly eers lank stil. “Ek dink die besef dat die lewe so buitengewoon kosbaar is. Ek is so moeg vir mense wat hulle met nuttelose dinge bemoei; daar is soveel belangriker sake.”
Haar onderskeidingsproses betreffende dit waarmee sy haar besig hou, wens sy ook ander mense toe. Dis noodsaaklik om te besef wat werklik saak maak. Haar gebed is vir ’n fyn aanvoeling oor wat belangrik is en wat nie – veral in ’n tyd soos dié.
*’n Brugpredikant word vir ’n bepaalde tydperk aangestel nadat daar groot trauma of ’n groot verandering in ’n gemeente was.


