Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elsché Eigelaar moes in 2020 letterlik en figuurlik leer stap. Foto: Unsplash
Elsché Eigelaar moes in 2020 letterlik en figuurlik leer stap. Foto: Unsplash

‘Ek is weerloos, maar nie hopeloos nie’

Marileen Steyn in gesprek met Elsché Eygelaar

Dis ’n wêreld van groot bome en ou, mooi huise, knus teen die agterkant van Tafelberg. Ek en Elsché ry deur die kronkelende strate. Ons stop by Maynardvillepark in Wynberg en maak ons tuis in ’n koffiewinkel.

Elsché is predikant by die NG gemeente Constantia. Ek ken haar as iemand wie se bediening nie bloot in ’n kerkgebou afspeel nie. Sy kry energie op die fietsroetes in die Berg, en daar bedien sy ook die mense wat saam met haar ry.

Tog is die lens vir haar Covid-19-verhaal “stap”. Op 1 Maart 2020 bevind Elsché haar in die hospitaal se ongevalle-afdeling. ’n Motor het haar fiets getref en sy het ernstige rugbeserings opgedoen. Sy moes van voor af leer loop.

Van ’n driekampkompetisie ’n week voor die ongeluk, tot ’n hospitaalbed. Een onbesonne oomblik het haar lewe tot stilstand gebring.

“That wasn’t fun,” sê sy droogweg.

‘En toe slaan ons Maart’

Daar in die ongevalle-afdeling, tussen die personeellede, het Elsché die hospitaalsusters se reaksie beleef toe die aankondiging kom dat die eerste Covid-19-geval in Suid-Afrika aangemeld is.

Daardie reaksie het haar laat besef dat iets ergs op almal wag. Dat die volgende ses maande van haar lewe nie dieselfde gaan wees as die vorige ses nie.

Elsché gesels oor die momentum wat sy voor die pandemie beleef het. “En toe slaan ons Maart.”

Dit was nie nét sleg nie. Die grendeltyd het haar toegelaat om behoorlik te herstel. Om haar eie gesondheid te prioritiseer.

Maar dit het ook haar beplanning vir die gemeente omvergegooi. Sy beskryf Maart as “’n kwaai keerpunt” in haar lewe. Van ’n besige lewe waarin sy allerlei aksies bestuur, tot ’n skielike aanpassing: Sy moes ’n manier vind om ander mense te help veilig hou.

“En dit is hoe ek die hele jaar moes funksioneer.”

Verskuiwing

Die NG gemeente Constantia se gemeenteprofiel is van so ’n aard dat die meeste van die gemeentelede in die hoërisiko-kategorie val, terwyl Elsché self se risiko laag is. Vandaar die fokus op ander se veiligheid.

Die gemeentelede het gewonder hoe hulle ander kon help. Persoonlike kontak, gegewe al die risiko’s, was nie ’n opsie nie. Daarom moes die kerkraad kyk na watter bronne hulle wel tot hul beskikking het.

“Ons was meer ingestel op ons bronne, ons kerkterrein en wat ons daarmee kon doen, en nie juis op die eredienste nie,” vertel Elsché.

Toe die algemene sinode se rampbestuur-taakspan Elsché nader oor ’n moontlike bêreplek vir kos, was die antwoord eenvoudig: by die kerk. Om die kerkgebou as hulpbron en kreatiewe ruimte te gebruik, en die meegaande skuif van ’n bediening vir die gemeente na een vir die gemeenskap, was vir Elsché baie positief.

Sommer gou het die gemeente se geboue in ’n soort skuur verander waar kos vir kospakkies en sopkombuise gebêre kon word.

Terselfdertyd is ’n soort deurrydiens gevestig waar skenkings afgelaai kon word vir ander inisiatiewe wat ondersteuning aan die gemeenskap gebied het. “Dit was die uitwaartse fokus in ons gemeente waarvoor ek toe reeds ses en ’n half jaar lank gebid het – en daar gebeur dit sommer net so!”

Dit was vir haar die herontdekking van haar roeping. “Dit is waarom ek in hierdie gemeente is.”

’n Ander pandemie

Elsché se pastorale bediening het nou ’n heel nuwe benadering gevra. Eensklaps moes sy dokters en verpleegsters oor die foon begelei. Sy moes ook baie gevalle van huishoudelike geweld hanteer.

Ek vra haar oor laasgenoemde: Is daar nie ’n persepsie dat dit slegs ’n probleem in armer woongebiede is nie?

Dié persepsie mag bestaan, antwoord sy, maar die voorvalle waar sy moes intree, was in die luukse veiligheidskomplekse.

Ons gesels verder oor geslagsgeweld. Oor hoe ons land se president dit as ’n pandemie verklaar het. Sy vra: “Wat sal gebeur as ons dieselfde hoeveelheid energie daaraan afstaan as aan Covid-19?”

Daar word in die NG Kerk, volgens haar, nie genoeg hieroor gepraat nie. Elsché reken dat predikante gou toegerus moet word om sulke situasies te kan hanteer. “Ék was nie goed genoeg toegerus nie. Ek moes by sielkundiges gaan aanklop, ek moes kursusse volg om myself toe te rus.”

Opruim en nuut dink

Die koronaviruspandemie het grootliks die “clutter” in die bediening kom verwyder, sê sy. Waar predikante dikwels besoeke aflê en vergaderings hou omdat hulle “moet”, het die pandemie hulle daarvan gestroop. Predikante is gekonfronteer met die vraag of sulke dinge werklik tot die kern van die bediening behoort.

En waar die predikantebediening dikwels prestasiegedrewe is, sal daar voortaan gevra moet word of ’n rustiger leefwyse hulle nie juis sal help om dieper verbintenisse en beter verhoudings te bou nie.

Daarby het bewegings soos Black Lives Matter die kerk daaraan herinner dat rassisme nog breed en diep in ons are vloei. En dat daar, ook op teologiese vlak, steeds met hierdie kwessies geworstel moet word.

Nie sonder hoop nie

Dit was ’n jaar van weerloosheid vir Elsché. Sy het die helfte van haar inkomste verloor, sy moes verhuis, sy moes noodgedwonge ’n stadiger pas aanleer.

In laasgenoemde kon sy wel hoop ontdek. Sy haal uit een van die musiekgroep Die Melktert Kommissie se lirieke aan: “Ek is weerloos, maar nie hopeloos nie.” In haar weerloosheid het Elsché opnuut die hoop ontdek dat God teenwoordig is, juis te midde van ’n groot chaos.

Sy vertel: “Sodra ek te gejaag is en die teenwoordigheid van God in mense en die lewe mis, verloor ek maklik hoop.”

Sy praat van “die sewende sintuig” wat die Heilige Gees aan die mens gee, maar wat maklik ongebruik bly as jou pas te vinnig is.

Haar wens is dat die samelewing ál die Covid-19-lesse sal onthou. “Dis maklik om in die ou normaal terug te val …”

Elsché moes die afgelope jaar letterlik tree vir tree aandurf. Slegs twee maande ná haar ongeluk kon sy weer tien kilometer in net oor ’n uur hardloop. Sy kon gemeentefondse insamel deur om haar huis te hardloop. Sy kon weer haar gesondheid terugkry.

Haar rustiger leefwyse het haar die kans gebied om by haar teologiese oortuigings te vertoef, om dienend te wees. En om die toekoms te betree met wat sy alles geleer en ervaar het.


 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top