Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Andries Potgieter is saam met God op reis. Foto: Unsplash
Andries Potgieter is saam met God op reis. Foto: Unsplash

‘Ek weier eenvoudig om negatief te word’


Marileen Steyn in gesprek met Andries Potgieter

Oudtshoorn-Welgeluk se pastorie is heerlik koel in die Klein-Karoo se hitte. Ek en Andries gesels oor die warboel emosies wat hy die afgelope jaar beleef het. “Ek is nou al twintig jaar in die bediening,” sê hy, “maar 2020 was lag-lag die moeilikste jaar nóg.”

Die probleem was nie soseer op ’n persoonlike vlak nie, eerder in die manier waarop hy aan mense wat verward en onseker was moes leiding gee.

Hy praat oor verskeie frustrasies en sê: “Dis nie hoe ek in die bediening werk nie. Alle moontlikhede om te beplan is by die venster uit.”

Harde werk, en toe

Andries sê hy het gedoen wat hy kon: Hy het gesorg dat hy ingelig bly oor wat in die wêreld en in die gemeente aan ’t gebeur is. En hy het voortdurend in verbinding met die kerkraad gebly. Die kerkraad kon sodoende interaktief en kollektief wees en op dié manier leiding gee.

Die gemeente funksioneer oor die algemeen interaktief, sê hy. “Hier is ’n ‘buzz’, en mense kom na die eredienste en ander byeenkomste om te gesels en te kuier. En dan wil hulle nie sommer huis toe te gaan nie …”

Andries vertel hoe hard die leierskap gewerk het om dit so te kry.

Die pandemie het die gemeente natuurlik van hierdie kultuur ontneem. “Die lidmate kom steeds kerk toe, maar dis asof daar nie lewe is nie. Die ‘buzz’ is weg.”

Hulle was aan ’n vol kerk tydens eredienste gewoond, maar hulle sukkel nou om die lidmate weer by die kerk te kry. Andries se oplossing hiervoor is onder meer intensiewe huisbesoek, met die uitsluitlike doel om mense aan te moedig om weer interaksie met mekaar te hê.

Altyd op reis

Ten spyte hiervan praat hy van die wonderlike gesinstyd wat hom en sy vrou en kind te beurt geval het. Eintlik, sê hy, was dit vir hom ’n baie goeie jaar. Hy kon dinge doen wat hy nie anders sou kon nie, en daaroor is hy diep dankbaar.

Hy praat oor die kerkraad se beweging in dié tyd. En oor die herinnering daaraan dat werk nie die mens se vernaamste prioriteit behoort te wees nie.

Die afgelope maand leef hy ook met ’n nuwe waardering vir sy gesondheid.

Dis te midde van al hierdie uitdagings dat Andries weer herinner is aan die werk van Gys van Schoor. Sy belewenis hiervan het hom help verstaan dat geloof en geloofsgroei ’n reis is, en dat ’n gelowige altyd op reis is. Hy het ook weer ontdek dat dit die evangelie is om jou met die koninkryk se dinge besig te hou.

Om doodgewoon voort te gaan

Hy vra: Wat is God besig om te doen in die kerk, in Welgeluk, in die samelewing?

Hierdie vrae help Andries en die gemeente om toegerus te word om kerk te wees in plaas daarvan om kerk te hou. “Ons is nie hier ter wille van onsself nie, maar om uit te reik.”

Geloofsgroei-as-reis behels ’n groei in die self, asook ook groei in die gemeente. Die lewe ná die pandemie bied ’n geleentheid vir die gemeente om die reis voort te sit, om desnoods nuut te begin. Om dinge anders te doen. Om doodgewoon voort te gaan.

“Ek weier eenvoudig om negatief te raak,” sê hy.

En as ek hom reg hoor, is daar geen rede tot pessimisme nie. Hy praat oor die goeie leierspan en hul gedeelde visie, en oor die onderlinge versorging in die gemeente. Hier is elkeen op reis, maar dit is vir seker nie ’n reis wat alleen aangepak word nie.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top