Marileen Steyn in gesprek met Divan Vrey
Ek wens ek het oor meer elegante taal beskik om Divan na behore te kan beskryf. Die enigste woord wat nou in my kop kom, is “cool”.
Ja, ek ken Divan as ’n “cool” ou. Dalk sou jy ook so gedink het, as jy gesien het hoe hy in die parkeerterrein met so drie vingers vir my waai.
Dalk sou jy dit gedink het as jy hom gemaklik in een van sy gunstelingrestaurante met sy hoodie sien. Intussen moet jy maar my woord daarvoor aanvaar …
Om soos Josua te lei
Hierdie” cool” ou ken ek wel as iemand met ’n besonderse diepte en ’n buitengewone intellek. Ek word net weer daardeur getref wanneer hy oor 2020 begin praat. Dit was ’n jaar, sê hy, wat ’n baie groot openbaringskarakter gehad het.
Divan vertel van die openbarings wat hy oor homself beleef het, oor sy leierskapstyl, oor die gemeentekultuur en oor sy rol as predikant.
Dit was wel vir hom ’n ontwrigtende tyd, maar hy het dit geniet om nuut te dink en kreatief te wees. “Hoe lei ons, soos Josua, die mense in Kanaän in? In ’n nuwe omgewing in?” vra hy.
Dié uitdaging was vir hom opwindend. “Jy kan, wat jou bedieningsbenadering betref, óf reaktief óf proaktief wees.”
Sy benadering tot 2020?
Hy het besluit om tot die aanval oor te gaan.
Leiers en hul styl
Een van die dinge wat dit vir hom moontlik gemaak het om hierdie strategie te volg, was omdat die gemeente se kernbedieningspan vinnig besluite kon neem. Divan beskryf die bedieningspan van die NG gemeente Parow-Welgelegen as “plooibaar”.
Die koronaviruspandemie het mense se aanpasbaarheid en plooibaarheid kom toets, sê hy. En hy voeg by: “Geseënd is dié wat ‘flexible’ is, want hulle sal nie gebreek word nie.”
Die gemeenteleierskap se plooibaarheid, hoewel ’n seën, kan dalk ook leierskapmoontlikhede van ander ontneem, bely hy. Om hierdie rede wonder Divan oor die soort leiers wat juis nou ontwikkel moet word. Watter soort geestelike leierskap moet nou na vore tree? En hoe kan die plooibaarheid van die leierskap na die gemeente deursyfer?
Deur hierdie soort nadenke het Divan se leierskapstyl ál meer verander sodat hy nou graag ander bemagtig om spontaan – en toegerus – op te tree.
“Dis ’n waarskuwingsteken,” sê hy, “as jou leierskapstyl ’n domineekerk in stand hou.”
Om sagter met jouself te werk
Divan reken dat daar in die grendeltyd wonderlike geleenthede opgeduik het. Aangesien kerkgeboue gesluit was, het daar ’n bedieningskuif plaasgevind – van ’n fasiliteit-gebaseerde Christenskap na ’n huis-gebaseerde bediening. Hierdeur het die kerk ’n nuwe landskap betree wat voorheen nie toeganklik was nie.
Divan reken dat meer mense hierby inskakel. Hy bely dat dit nogal vreesaanjaend is dat mense nie terugkom kerk toe nie, maar in dieselfde asem praat hy van die deur wat die Here oopmaak om mense op ’n ander manier te gebruik, en om nuwelinge te bereik.
Hy praat oor iets wat hy onlangs gehoor het: dat mense se buitengewone vermoë om iets soos ’n natuurramp te hanteer net drie maande lank duur. Mense beskik normaalweg oor so drie maande se “ekstra” vaardigheid om vinnige veranderings te kan hanteer, waarna emosionele moegheid begin intree.
“Covid-19 duur nou al veel langer as drie maande, en mense se tamheid ten opsigte van al die vernuwing is nou opmerklik.
“Ons moet egter nie te veel van onsself verwag nie. Dis oukei om sagter met jouself te werk.”
God is in die toekoms
Wat het Divan gehelp om 2020 te oorleef? En om vernuwend te leef?
Hy noem op: “Materiaal wat sin maak. Webinare. Om gedurig te probeer peil wat saak maak en wat nié. Om te kyk wat ander doen. Om eerlik met myself te wees. Wyn, goeie kollegas en die internet.”
Voeg daarby die verskuiwing van sy Godsbegrip. Hy sê hy het besef dat dit juis in dié tyd met al sy eksistensiële vrae is dat God besig is om op ’n nuwe manier mense aan te raak.
Vandat die pandemie Suid-Afrika getref het, het Divan besef dat daar meer gemaak moet word van dié woorde: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.”
Meer as ooit glo Divan dat Jesus die antwoord is. Hiermee bedoel hy nie dat Covid-19 nie ernstig is nie, of om Jesus as ’n goedkoop antwoord aan te bied nie. Hy bedoel juis dat die mens uitgedaag word om dieper introspeksie te doen in wat hulle glo.
Divan praat baie oor eskatologie – oftewel die leer van die eindtye, dit wat ons glo oor Christus se wederkoms en die betekenis daarvan vir die hede. “Die koronaviruspandemie,” sê hy, “het ons eskatologie kom uitdaag. Sien ons ’n toekoms vol hoop, of verval ons in ’n skaarsheidsmentaliteit?”
Hy is daarvan oortuig dat God in die toekoms is, in die onvoorsiene. En dat as gelowiges dit weet, hulle vol hoop in die hede kan leef. Dat die toekoms nie vol onheil is nie.
Maar wat sê hy, wat is hoop ?
“Hoop is om te leef met die diep bewussyn dat ek nie net uitgelewer is aan my eksterne wêreld nie, maar dat God in my hede is. En daarom kan ek ook leef met vrede en vreugde. Met tevredenheid …”
Divan se benadering tot Covid-19 is dus een van sig – en nie sug nie – in God se toekoms. “Hoe jy sien,” sê hy, “bepaal die toekoms. God is die toekoms. God is hoop. Daarom is hoop die toekoms.”
