Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Moenie kompeteer. Prioritiseer!" sê Annelet Slazus. Foto: verskaf.
"Moenie kompeteer. Prioritiseer!" sê Annelet Slazus. Foto: verskaf

‘Is dit wat ons doen dit wat mense nodig het?’

Marileen Steyn in gesprek met Annelet Slazus

Vanuit die kar lyk dit of die Augrabiesrivier en die Buffelsrivier soos stofpaaie onder die N7 deur loop. Wanneer ek Springbok nader, word die omgewing egter groener. Daar is groen bome en groen plante in die dorp se strate. Springbok, verduidelik Annelet later, het reën gekry, maar die omgewing se boere nie.

‘’n Leef- en oefengemeente’

Springbok is deur klipkoppies omring. Dit maak Annelet bly. Sy het gedink dat sy van die groen Boland met die blou berge na ’n vaal, stowwerige wêreld moet verhuis, maar die koppe was ’n aangename verrassing.

Annelet het op 1 Januarie 2020 by die gemeente ingeval. Haar koms was vir sommige gemeentelede ’n teken van ’n nuwe tyd. Dit het baie lidmate se prentjie van ’n dominee soos handomkeer verander.

Die belydenisgroep, vertel sy laggend, was so onseker oor dié nuwe dominee dat hulle haar maar “Tannie Dominee” genoem het.

Watter veranderings dié Tannie Dominee en die gemeentelede ook al beplan het, die grendeltyd het dit bespoedig. Annelet vertel dat die gemeentelede se kontakinligting bekom is, die kommunikasiekanale opgestel is en die gemeente en die lidmate se sosiale media-teenwoordigheid in ’n baie korter tydperk gevestig is as wat dit andersins die geval sou wees.

“Die gemeente se Facebook-volgelinge het in daardie eerste weke van die grendeltyd van 50 na 300 toegeneem!”

Hoekom is iets soos Facebook vir haar so belangrik?

“Dit gaan oor kommunikasie en deelname. Die gemeente moenie ’n ‘Sondag-gemeente’ wees nie.”

Daarom stuur sy daagliks boodskappe uit en probeer haar bes dat alles in die gemeente nie net op die eredienste gerig is nie. Haar ideaal is dat die kultuur van die gemeente van ’n “erediensgemeente” na ’n “leef- en oefengemeente” sal verskuif.

Annelet is goed toegerus om video-opnames te maak. Toe die grendeltyd aanbreek, het sy reeds in toerusting belê. En met haar man wat haar met die redigering gehelp het, kon sy gou op dreef kom.

Sy het verdere vaardighede bekom en meer oor video-redigering geleer.

“Ek is dankbaar,” vertel sy, dat ek vroeg reeds die tegnologie onder die knie gehad het. Dit het my in hierdie tyd gedra.”

Sy het sommer daardie eerste maand in die grendeltyd besef dat WiFi nie meer ’n luukse vir ’n dominee se werk kan wees nie; dis ’n noodsaaklikheid.

Sy het ook geleer dat ’n aanlyn bediening tydrowend is en dat niks daarvan op die nippertjie gedoen kan word nie.

Eensklaps anders

Daar was wel ’n klomp dinge wat in daardie tyd nié kon plaasvind nie. Die beplande bedieningstrategie, byvoorbeeld. “Alles lyk toe eensklaps anders.” Die nuwe dominee kon nie huisbesoek doen nie en moes noodgedwonge die gemeentelede leer ken deur hulle te bel.

“Die mense was uitgehonger vir gesels,” vertel sy. “Ek het partykeer tot twee ure met een persoon oor die foon gepraat.”

Die gemeenskap het goed vir Annelet gesorg. Sy vertel met sagte oë van die bederfpakkies wat voor haar voordeur gelos is.

Sy gesels oor ’n streng roetine wat ’n deel van haar ondersteuningstruktuur was. Sy het gereeld geoefen, en gereeld kontak gemaak met mense. Die feit dat sy webinare, voortgesette bedieningsopleiding en ander kursusse virtueel kon bywoon, was vir haar ’n bron van groot ondersteuning.

Die ritmes wat sy gevorm het, het ook haar selfdissipline opgeskerp.

Ten spyte van die waarde van Annelet se streng roetine, het sy tog gevind dat sy eensklaps sewe dae per week gewerk het. Ná Pinkster, wat tien agtereenvolgende dae vir haar ’n tiener-, ’n kinder- en ’n volwasse Pinkstertyd ingehou het, was sy baie moeg.

“Van toe af het ek net probeer inhaal op alles waarmee ek agter geraak het.”

Haar kreatiwiteit het egter opgedroog en sy kon eers teen die einde van September ’n week verlof neem. “Ek dink wel dit was te kort.”

‘Net mekaar’

Aanvanklik het Annelet baie positief gevoel oor die opwindende uitdaging voor haar, en sy was baie bly dat haar inisiatiewe so goed ontvang is. Die positiewe terugvoer en waarderende opmerkings het haar baie gehelp.

Mettertyd het sy agtergekom dat die lidmate begin moeg word. Die opgewondenheid het getaan. En daar was ’n groeiende ongeduld omdat die eredienste en ander byeenkomste nie hervat kon word nie.

Almal se emosionele welstand is erg deur die grendeltyd aangetas, en die droogte het hiertoe bygedra.

Die behoud van die gemeente was hul onderlinge samesyn. “Ons mense het net mekaar oorgehad.”

Samewerking

Wanneer ons gesprek by armoede en hulp gaan draai, sê sy: “Covid-19 het ’n lig laat skyn op sake waarvoor ons voorheen blind was. Verskillende mense het verskillende behoeftes.”

Haar fokus, vertel sy, het verskuif van preke lewer na die versorging van die gemeenskap. Die breër gemeenskap se kerkleiers het saamgekom, mekaar daagliks ondersteun, mekaar se hande gevat. Daar is versorgingsplekke vir bejaardes ontwikkel, daar was ondersteuning vir mense wat uit rehabilitasie gekom het, en kospakkies, saniteerder en klere.

Klankbord

In hierdie eenpersoongemeente was samewerking met ander belangriker as ooit. Wanneer die predikant nie soms afgelos kan word nie, kry sy of hy maar swaar. En die idees raak op.

Komende van haar is dit nogal veelbetekenend, want Annelet is een van die mees kreatiewe mense wat ek al ooit teëgekom het.

Sy vertel dat sy ’n groter span waardeer en geniet het. Gemeentelede kon haar idees aanvul en oor die algemeen help dink, en gevolglik het sy nie so alleen gevoel nie.

Die les wat sy hieruit met haar saamneem, is om diverse stemme in die gemeente te identifiseer met die oog op ’n klankbord. “Sodoende berus die finale oordeel nie by jou alleen nie.”

Sy het wel baie druk beleef, veral wanneer sy gehoor het hoe groter gemeentes in dié tyd kon funksioneer.

“Maar soms moet jy halt roep en vir jouself weer sê om nie met ander te probeer meeding nie,” sê sy. Nie dat daar in haar gemeente noodwendig ’n behoefte daaraan was om meer te ontvang as wat sy kon gee nie.

Gemeentes en kerke, sê sy, moenie in ’n vakuum werk nie. Gelowiges kan gerus goeie materiaal met mekaar deel, al ontvang ’n bepaalde gemeente of predikant nie self die eer nie. “Sharing is caring.”

Wanneer ek haar vra of “mededinging” ’n moontlike lens kan wees waardeur ons haar verhaal moet lees, kies sy eerder vir “prioritisering”. Hiermee bedoel sy dat predikante nie altyd oral kan uitkom nie, maar dat hulle hulleself gereeld moet afvra waarmee hulle besig is, en waarom.

‘Wat is regtig belangrik?’

In ooreenstemming hiermee is die groot vraag waarmee Annelet gekonfronteer is, die een na wat die kerk met jong mense beoog. Asook met lidmate oor die algemeen.

Gaan dit daaroor om mense besig te hou? Is die kerk werklik besig met geloofsvorming? Wat is regtig belangrik in die bediening en waaroor moet die kerk gesels?

“Is dit wat ons doen dit wat mense nodig het?”

Sy wonder hardop of dit nodig is om “na die wortels” terug te keer. En hoe dit sal wees om mense te bemagtig om hul eie teologiese beskouings te vorm vanuit ’n stel vaardighede waaroor hulle reeds beskik. Sodat hulle nie van ’n “geleerde” afhanklik is nie.

 

“Die kerk het inderdaad ’n rol te speel,” sê sy. “En dis ons eie skuld as ons nie daardie rol vervul nie.” Dis nodig dat kerkmense hul prioriteite in orde kry. Dat hulle sal terugkeer na wat regtig belangrik is: hul identiteit en roeping as Christene.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top