Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Botha gesels oor geloofsdissiplines. Foto: verskaf
Jaco Botha gesels oor geloofsdissiplines. Foto: verskaf

‘Jy kan nie ’n dominee in ons land wees en nie met jou voete in die stof loop nie’

Marileen in gesprek met Jaco Botha

Omring deur ’n wêreld vol gars, geel canola en groen koring staan die klassieke wit kerkgebou van die NG gemeente Bredasdorp met sy houtdeure en formidabele toring. Jaco en sy vrou bly net om die hoek.

Kleur en kuns begroet jou as jy binnegaan. Teen die mure hang kuns uit Afrika. Op een van die boekrakke staan ’n borsbeeld van oudpresident Nelson Mandela.

Sowat drie jaar gelede het ek en Jaco saam met ’n klompie vriende in ’n retraitesentrum gesit en wyn drink en oor versoening tussen rasse gesels. Nie lank daarna nie, op Pinkstersondag 2018, herenig die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Bredasdorp om Bredasdorp Gemeente te word. En Jaco word in Januarie 2019 daar bevestig.

Ek kan nie anders nie as om ons hele gesprek in die lig van hierdie konteks te lees nie. As hy byvoorbeeld na “ons” verwys, is dié “ons” ’n groter, wyer begrip as by die meeste predikante.

Omvattende voedselhulp

Vroeg in 2020, op die derde dag van die aangekondigde grendeltyd, voel Jaco ontsettend skuldig oor die nood wat hy om hom raaksien. Hy weet hy moet iets doen. Maar wat?

In hierdie einste tyd het ’n gemeentelid en wyksraadslid besef dat die kinders nie meer kos by die skool kry nie en met ’n sopkombuis begin. Hieruit is ’n hele kosvoorsieningsprogram gebore.

Jaco se kollega, Braam Coetzee, het dit vanuit die kerk bestuur. Met die hulp van ’n aantal studente wat tydens die grendeltyd nie terug is universiteit toe nie, het dit die ruggraat van die projek gevorm.

Hulle kon verligting vir die nood bewerkstellig deur ’n sopkombuis te bedryf wat die eerste vier maande vanuit ’n bestaande spysenieringsdiens gefunksioneer het.

So is daar, aanvanklik drie dae per week, 700 liter sop gemaak wat saam met brood en vrugte by sewe uitdeelpunte aan sowat 3 000 mense uitgegee is. Gou was dit nodig om dit elke dag so te doen. Dit was ’n steil leerkurwe.

Die tweede fase

Een van die dinge wat die span sommer gou geleer het, was dat baie van die weerlose mense nie by die uitdeelpunte opdaag nie omdat hulle oud of sieklik is. Of omdat hulle buitelanders is.

Vanuit hierdie besef is ’n tweede fase van die voedselprogram gebore: om huise te besoek met kospakkies in die hand.

Hierdie been van die groter projek was Jaco se verantwoordelikheid. Dit het stadig begin, maar die omvang daarvan het gou toegeneem.

Die dringende versoeke het ingestroom: Mense wou hulp hê. Twee mediese studente en ’n klompie ander vrywilligers kon nou met die logistiek begin help.

Al hierdie en ander soortgelyke ondersteuning lê Jaco na aan die hart. “Dis van die belangrikste dinge wat in daardie tyd gebeur het.”

Teen die tyd dat hulle ’n stelsel gevestig het om te weet waar presies die besoekpunte is, was daar reeds 700 besoeke op rekord. “Ek weet nie hoe ons dit reggekry het nie,” vertel hy.

Die gemeentelede en die kerkkantoor, en verskeie sakeondernemings het almal gehelp om die pakkies reg te kry vir elke dag se uitry.

Brood en vis

Jaco vertel hoe een van die Leesroostertekste in hierdie tyd oor die vermeerdering van die brood en visse gehandel het. “Gee julle vir hulle kos,” was Jesus se woorde.

Jaco en sy kollegas en die gemeentelede het hierdie woorde ter harte geneem en dit as roeping uitgeleef.

Die voedselhulp was egter ook besonder kompleks, vertel Jaco. Dit was deels te wyte aan die munisipaliteit wat die kos wat húlle uitgedeel bloot in ’n bepaalde buurt gaan aflaai het, sonder om te verseker dat dit by al die behoeftiges uitkom.

Ten spyte van dié soort uitdagings het Jaco en die span daarin geslaag om ses maande lank kospakkies aan die gemeenskap te voorsien. Van die R300 000 wat hulle bestee het, het nie ’n sent uit die gemeente se begroting gekom nie. Daar was verskeie donasies van plaaslike inwoners, sowel as van mense uit Pretoria en van so ver soos Switserland.

Dominees met integriteit

Dit was nie bloot ’n los-en-loop-benadering nie. Die mediese studente is byvoorbeeld by die tuisbesoeke betrek. “Hulle kon na die fisieke behoeftes omsien en ek na die emosionele nood.”

In Oktobermaand stel die gemeente ’n maatskaplike werker aan wat in samewerking met Jaco sal poog om werkloosheid in die gebied te verlig.

“Dit doen iets aan jou as jy by ’n mamma met ’n baba kom wat drie dae laas geëet het. En dit terwyl jy self oorgenoeg het.”

Om ’n dominee te wees, sê hy, is om met integriteit te lewe tussen mense wat te veel het en mense wat nie genoeg het nie. Dit is een van die dinge wat kerkeenheid mense leer. “As ryk en arm saam om ’n tafel sit, dan doen dit iets aan jou teologie.”

“Jy kan nie ’n dominee in ons land wees en nie met jou voete in die stof loop nie,” sê hy.

Maar, bely hy, ook hy wat lank reeds hiervan bewus is, is aan die begin van sy bediening deur “die stelsel” ingesluk. “Eers toe Covid-19 sy verskyning gemaak het, het ek weer vanuit ’n teologie begin funksioneer wat vir my natuurlik kom.”

Dis vanweë sy stowwerige voete dat Jaco vanuit ’n beliggaamde ervaring kan preek, sodat hy nie net vir ander nie, maar ook vanuit ander kan preek. “Ek kan nie dominee wees met integriteit as ek nie langs die minste stap nie.”

Ritmes en liturgie

Hoe bly Jaco staande?

Die antwoord is vir hom voor die hand liggend: dissipline. Hy praat byvoorbeeld van gebed as ’n dissipline wat nie iewers in ons lewe “ingedruk” moet word nie. Hy vertel hoe gebed in sy lewe geïntegreer is, en hoe hy eerder die lewe by sy gebedsdissipline indruk.

“Dit kom wel nie natuurlik vir my nie; ek moes dit aanleer. Die moeilikste ding van ’n dissipline is die … dissipline. Ek is op kweekskool geleer hoe om dit deel van my lewe te maak, maar ek kry dit nie reg soos wat ek dink ek moet nie.”

Dis hierdie dissipline van gebed, saam met meditasie, wat hom gedra het in die tye toe hy moeg geword het. Hy vermoed hy is moeër as wat hy inderdaad besef hy is, maar sy spiritualiteit het hom verder gedra as wat hy dit op sy eentjie sou regkry.

Die pandemietyd het hom laat wonder oor die gedagte dat ’n diep spiritualiteit (met pro-aktiewe dissiplines) jou só kan voed dat jy nie ontvlugting nodig het nie.

Om gedissiplineerd te leef, is om in die ritmes tussen rus en gee, en die ritmes van gebed en van aanbidding te leef. “Jou lyf raak gewoond aan dié ritmes. Die liturgie en die ritme dra jou sodat jy bepaalde vraagstukke makliker kan hanteer.”

Om ’n kospakkie te pak, is liturgies gesproke soos om die nagmaaltafel te dek. En om daardie pakkie in liefde uit te deel, is soos om te aanbid. En só word dissiplines die kompas om God reg te aanbid, om die ego weer te oriënteer.

“Die NG Kerk,” sê hy, “het ná 1994 op ’n manier van haar openbare rol afstand gedoen. Maar in hierdie pandemietyd het die kerk, die ou tannies en die jong studente, ons dorp versorg. Dit beteken vir my die kerk is die hoop vir die wêreld.

“Mense hier vra bloot: ‘Wat kan ek bydra?’ Dít is hoe die kerk moet wees.”

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top