Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Franziska Andrag-Meyer gesels oor waardering vir die lewe. Foto: verskaf
Franziska Andrag-Meyer gesels oor waardering vir die lewe. Foto: verskaf

‘Jy moet die Here vertrou, en die lewe leef’

Marileen Steyn in gesprek met Franziska Andrag-Meyer

Struisbaai se huise rek hul nek om met groot glasoë die skoonheid van die seetoneel voor hulle behoorlik te kan sien. Franziska se huis kyk bo-oor die res, en die see-uitsig laat jou voel of jy hier kan kom vakansie hou.

Ons gesels in die ruim sitkamer oor die afgelope veelbewoë jaar.

Reis na binne

’n Gesprek met Franziska oor 2020 begin met ’n getuienis: “Dis wonderlik hoe die Here ’n mens voorberei! Struisbaai beteken vir baie mense Desember-vakansie, en daarom is Desember ’n baie besige tyd.”

Sy het dus die jaar moeg begin. Maar in haar beplanning vir voortgesette bedieningsopleiding het sy op ’n mediakursus afgekom. Sy het dit aangepak en voltooi. Nie lank daarna nie het die grendeltyd die land getref. Soos sy dit stel: “Die Here het my hiervoor geposisioneer.”

Struisbaai is nie bloot ’n vakansiedorp nie; dis ook ’n aftreedorp. Van die 890 belydende lidmate in Franziska se gemeente is 500 ouer as 65 jaar. En baie is nie juis tegnologies vaardig nie.

Sy kon nietemin die gemeente bedien deur die geleentheid wat die grendeltyd gebied het te gebruik om die lidmate voor te berei op ’n “tuisretraite”. Sy het hulle aangemoedig om na binne te reis.

Franziska het met Lectio Divina (’n bepaalde manier van kontemplatiewe Bybellees, en meditasie en gebed) as uitgangspunt deur die leesrooster gewerk. Daarby het sy daaglikse boodskappe uitgestuur, met een of twee vrae daarby.

Elke dag se video-vervaardiging het haar huis behoorlik in ’n produksieruimte omskep.

‘As jy die Bybel hardop lees

Die tema van die jaar was “Jaar van die Bybel” en in die lig hiervan het die gemeente Bybellees-maratons gehou. Van agtuur soggens tot agtuur die aand het die gemeentelede beurte gemaak om hardop, ’n uur op ’n slag, uit die Bybel te lees.

Vanuit hierdie soort Bybellees het daar ook uit haar huis interessante vrae na vore gekom. “Daar gebeur dinge met jou as jy die Bybel hardop lees.”

Wat, vra ek, het teologies gesproke met haar gebeur?

“Ek is lankal gewoond aan ’n onseker wêreld,” antwoord sy. “Dat die lewe onvoorspelbaar is.” Daarom het daar eintlik niks aardskuddends gebeur nie. Sy is steeds daarvan oortuig dat God saam met die mens op weg gaan.

Haar reeks video’s oor Job was vir haar ook tot ’n seën. Job se verhaal herinner haar daaraan dat die lewe nie altyd volgens oorsaak-en-gevolg verloop nie. Dat daar nie ’n truuk of ’n kortpad is waarmee ons dinge kan plooi soos ons wil nie.

“Nee,” sê Franziska, “jy moet die Here vertrou, en die lewe leef.”

‘’n Goeie jaar vir ons gesin’

Die afgelope jaar en al sy uitdagings het haar teen Pinkster behoorlik moeg gehad. As ’n besonder kreatiewe mens het dit haar op ’n dag getref dat sy reeds maande lank nie ’n verfkwas opgetel het nie. Daar was wel ’n aanlyn fotokompetisie wat haar baie gehelp het.

Sy wys na die geverfde portrette van haar gesinslede by die trappe: “Dit was ’n goeie jaar vir ons gesin.” Haar man was ook in die grendeltyd by die huis, en daar was baie tyd vir kosmaak, speletjies speel – en sommer ’n Super Mario Kart-toernooi ook.

Sy is veral ook dankbaar vir die kans wat die grendeltyd haar gebied het om gehaltetyd saam met haar tienerdogter deur te bring.

Franziska praat oor ander “geskenke” wat die pandemie haar gegee het: om tot stilstand te kon kom, en die digitale kommunikasie met mense wat teologies gesproke soos sy dink.

Dan kyk sy weer na die portretstudies in die hoek by die trappe: “Om portretstudies te verf, is my gunsteling. Jy kan kwalik skilder as jy nie van die mens hou nie.”

Daarom het Franziska geleer om, voor sy met ’n portretstudie begin, ’n halfuur lank net na die persoon te luister, haar in dié se menswees te begewe. Sy fokus dan daarop om goed te luister, nie afleidings te maak nie.

Om so diep moontlik te probeer kyk.

Om uiteindelik daardie mens lief te kry.

VDM

Op ’n manier, sê sy, het die pandemie en die grendeltyd haar die geleentheid gegee om drie belangrike gewoontes te vorm: “‘Pause’; Waarneem; Waardeer.”

Dit het haar gehelp om te beweeg van organiseer na kuier en uiteindelik na waardeer.

Dit wat Franziska die afgelope jaar opnuut leer waardeer het, sluit ook die Woordbediening in. “Eintlik behoort alles hieroor te gaan. Dit herinner my daaraan dat ek, in my geïsoleerdheid, deel van ’n groter prentjie vorm.

“Ek glo dat dit die rede is waarom ek hier is. Ek is VDM – Verbi Divini Minister. ’n Bedienaar van die Goddelike Woord.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top