Marileen Steyn in gesprek met Marinus Botha*
Ek voel hoe die son op my arms brand en kyk op die kar se horlosie. Dis nog maar 08:30. Maar dis die Karoo, en om my is daar … wel, niks.
’n Halfuur lank ry ek verby grys grond, bruin klippe en vaal bossies totdat ek ’n handjievol huisies voor my gewaar. Só ’n dorp het ek nog nie gesien nie.
’n Sewe jaar lange pandemie
Ek en Marinus gesels lekker, en sommer gou in ons gesprek let ek op hoe maklik hy glimlag. Ons gesprek, hoewel lighartig, gaan maklik oor tot die werklikheid van die harde wêreld waarin Marinus en die ander dorpsbewoners hulle bevind.
Ten spyte van die poel water van die vorige nag se reën wat die grond in Marinus se agtertuin effens troos, heers daar ’n ernstige droogte in die omgewing.
Dit is, vertel Marinus, asof die gemeenskap nou al sewe jaar lank “soort van die koronaviruspandemie” onder lede het.
“Dis nie die beste beskrywing nie,” gee hy toe, “maar die droogte is nou sewe jaar lank reeds hierdie lewensbedreigende ding wat ons in die gesig staar.” Terwyl die werklike pandemie dié afgeleë dorpie grootliks verbygegaan het, het dit die diskoers tot só ’n mate oorheers dat die buitewêreld van die droogte se impak begin vergeet het. Dermate dat die droogtehulp plek-plek gestaak is sonder dat die droogtesituasie enigsins verbeter het. Die boere hier is trouens slegter daarvan af as ooit.
Marinus herinner my daaraan dat die droogte nie bloot enkelinge raak nie, maar ganse gesinne, ’n plaas met werkers en dié se afhanklikes, ’n hele gemeenskap. Die bedreiging is ’n werklikheid, want die droogte diskrimineer nie.
Antwoorde?
Ek luister hoe Marinus vertel oor hy hierdie jaar probeer het om sy mense so goed hy kon te bemoedig. “Daar is soveel wat voel dat hulle nie kan voortgaan nie.”
Dis in die lig van ander se swaarkry en twyfel dat Marinus self ook wroeging beleef. Hy bely dat daar dae is dat hy dit regtig moeilik vind om mense in hierdie omstandighede by te staan, dat dit moeilik is om antwoorde te moet gee.
Dan weet hy om te bly soek na wat God se Woord bied. Om te probeer om dit in opregtheid oor te dra.
Om in die pandemietyd ’n preek in die verre platteland aan gemeentelede te lewer, is wel heel anders as hoe dit in ’n stedelike konteks sal gebeur. Data, seinsterkte en tegnologiese vereistes in die algemeen stel groot uitdagings. Daarby, en straks vanselfsprekend, is baie lidmate nie gemaklik met tegnologie nie.
Getrou aan dié kultuur het Marinus sy boodskappe nie net deur WhatsApp uitgestuur nie, maar dit ook skriftelik beskikbaar gestel. Gemeentelede kon dit op verskeie plekke gaan afhaal.
Ten spyte daarvan dat dit vir hom baie lekker was om Sondae vry te hê, het hy dit gemis om homself, in die woorde van prof Willie Jonker, “in die geloof in te preek”. Nietemin het die boodskappe wat hy uitgewerk het hom gehelp om op ’n gedissiplineerde wyse sy geloof te verwoord voordat hy dit aan ander sou uitstuur.
Gehaltetyd
Met huisbesoeke wat telefoonoproepe geword het, en ’n preek wat in drie boodskappe per week gelewer word, het Marinus begin skuldig voel, selfs angstig, omdat hy nie sy werk kon doen soos wat hy graag sou wou nie.
Om dié gevoelens teë te werk, het hy probeer om so besig moontlik te bly – met sy werk en met stokperdjies en oefening.
Ek kyk na die fiets in die een hoek van sy kantoor, en hy wys my die houtbankie in die ander hoek.
Hy gesels oor die gehaltetyd met sy vrou. Die dinge wat hulle saam kon doen, hoe hulle saam na ’n erediens oor die radio kon luister. Hoe hulle saam kon eet.
Om stadiger te leef
Op ’n manier, sê hy, het dit alles hom boonop rustigheid oor sy aftrede gebring; die gedagte aan afskaal en stadiger leef.
Marinus gesels oor afskaal. Oor hoe sleg dit is om eredienste af te skaal, oor die negatiewe belewenis van die erediensbywoning wat ook “afgeskaal” is.
Hy praat oor die positiewe kant van afskaal. Soos die ekstra tyd wat dit meebring om saam met die gesin te kuier, om weer kontak te maak met ou vriende.
In ons té besige bestaan, waar die boere hierdie jaar byvoorbeeld nie geweet het wat dit is om stadiger te beweeg nie, wonder Marinus of die kerk nie mense moet help om af te skaal wat bepaalde dinge betref nie. “Ons mense moet meer tyd kry om sake te oordink,” sê hy.
Intussen soek hy steeds na die plek en die stem wat hy in dié unieke gemeenskap het.
*Skuilnaam
