Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Martin Steyn het opnuut 'n roepingsbesef gehad. Foto: verskaf
Martin Steyn het opnuut 'n roepingsbesef gehad. Foto: verskaf

‘Roeping is ’n leefwyse’

Marileen Steyn in gesprek met Martin Steyn

Ek het voorheen al met Martin gesels – tien minute lank. In daardie tien minute het hy my onder meer vertel dat hy besluit het om saam met sy vrou en dogters op ’n plaas net buite die dorp te gaan woon.

Die manier waarop hy toe oor die huis gepraat het, het my laat dink dat dit vir hom ’n besonderse ruimte is, as ’t ware ’n heilige ruimte van versorging.

Noudat ek dit sien, verstaan ek alles. Die huis en die werf lyk soos iets uit ’n fliek. ’n Groen grasperk, uitgestrek onder die bome; ’n swaai vir die kinders wat uit ’n ou buiteband gemaak is; les bes die wit plaashuis met die reusagtige stoep wat vol sagte rusbanke en lang tafels staan.

“Hier kan ’n mens maar die grendeltyd deurbring!” sê ek vir myself.

Kreatiwiteit

Ek is dus nie té verbaas wanneer Martin my vertel dat hy eintlik gek was na die grendeltyd nie. Vir hom was dit op verskillende vlakke ’n tyd vol vryheid – vryheid om te speel, vryheid om weer ’n stuk van homself te herontdek.

Hy was vry van ’n besige program wat hom van alleentyd en nadenke weerhou het. Hy was vry om opnuut oor sy roeping te besin.

Ten spyte daarvan dat die digitale bediening vir Martin moeilik was – hy verkies persoonlike kontak – het hy die bediening in die grendeltyd oor die algemeen positief beleef. Hy verwys na ’n nuutgevonde kreatiwiteit en vertel hoe hy die afgelope klompie jare sy kreatiwiteit “weggebêre” het.

Die pandemiemaatreëls het hom gehelp om dit weer af te stof en uit te leef, ook in die bediening. Hy vertel: “Dit was lekker om die vryheid te hê om God op ’n alternatiewe manier te dien, om te speel, om kreatief te wees.”

Hy praat oor die eise van die bediening wat dikwels tot gevolg het dat jy ophou speel, dat jy tot ’n mate dele van jouself prysgee. Die afgelope tyd kon hy dit weer terugvind en dit weer geniet. Hy het onder meer weer begin houtwerk doen, fotografie beoefen, en hy het weer begin teken.

Geborg

Hierdie nuutgevonde kreatiwiteit gee Martin hoop, en dit het ’n positiewe uitwerking op sy roeping.

Roeping

Die afgelope twee jaar was nie sonder uitdagings nie. Toe hy dus die geleentheid kry om weer ’n slag stil te word, die tyd om saam met sy gesin deur te bring, en om weer oor sy én die gemeente se roeping na te dink, kon hy vir homself vra: “Waarheen is jy en die gemeente op pad? Doen jy die regte dinge?”

Hy praat baie oor roeping, kom ek agter. Ek vra hom wat dié woord vir hom beteken.

“Roeping is om ’n dissipel te wees, ongeag in watter opsig of in watter beroep jy staan. Roeping is ’n leefwyse.”

Ja, dit is soms moeilik om dit uit te leef – “maar jy moet dit êrens doen”.

Môre is nog ’n dag

Hoe het die pandemie Martin gehelp wat sy dissipelskap betref?

Stiltetyd, die oplees oor teologiese onderwerpe, die voorbereiding van preke en ander boodskappe waarmee hy gepoog het om mense hoop te gee.

Hoop, sê ek, is nogal ’n breë begrip …

Wat Martin betref is “hoop” doodgewoon die versekering dat môre nog ’n dag is waarna hy kan uitsien.

“Om vasgevang te wees, is die ergste wat jou kan oorkom. Hoop is om nie vasgevang te raak nie.”

Die pandemie het hom juis uit sy normale roetine en sy vasgevangenheid geneem en hom ander waardes gewys, en hieroor is hy besonder dankbaar.

Martin se hoop vir sy roeping, gaan gepaard met ’n stuk vryheid. ’n Vryheid wat begin wanneer God oorneem en jy bloot ’n toeskouer word.

Geborg

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top