Marileen Steyn in gesprek met Scherlize van der Merwe
Daar word dikwels in Kaapstad gepraat oor die lewensomstandighede van die inwoners van Khayelitsha en van Mitchells Plain, en Scherlize reken dat die Ysterplaat-gemeenskap soms misgekyk word. Sy beskryf hierdie lae-inkomste, verarmende voorstad van Kaapstad as ’n “vergete, moeilike gebied”.
Die inwoners is meestal staatspensioentrekkers, vlugtelinge, kwesbare kinders. Daar is baie gebroke gesinne. Daar is ook groot uitdagings, wat middelmisbruik en bendebedrywighede insluit.
Dis ’n gemeenskap wat grootskaalse angs en depressie aan die einde van 2020 beleef het.
’n Plek van samekoms
Scherlize ken hierdie omstandighede maar té goed, maar dit was vir haar asof sy eers in 2020 haar konteks werklik leer ken het. Terwyl sy reeds ’n goeie verhouding met die skole, die maatskaplike werkers en die polisiekantoor gehad het, het dié verhoudings en die onderlinge samewerking gegroei om nie slegs die gemeente nie, maar ook die gemeenskap in te sluit.
Die gemeente bedryf reeds geruime tyd ’n nasorgdiens en ’n kleinerige groepie kinders uit die gemeenskap woon dit by. En toe die kinders in die grendeltyd nie meer kon kerk toe kom nie, het die gemeente besluit om na die kinders toe te gaan. Die gemeentelede, én die lede van die breër gemeenskap, is op dié manier by die huis met kospakkies en pastoraat bedien.
Scherlize vertel hoe die gemeente uiteindelik ’n plek van samekoms geword het van waar 500 gesinne in Ysterplaat van kospakkies voorsien is.
Al is dit ’n klein gemeente, het dié omvattende bediening eensklaps groot afmetings aangeneem.
Verhoudings
Scherlize ken elke straat in haar gemeente. Elke gesin. Elke storie. Kortom: Sy ken haar mense.
“‘Verhoudings’ is ’n maklike woord,” sê sy. “Maar om mense te ken, strek verder en gaan dieper as wat jy dink. Dit was vir my ’n openbaring om deel te word van mense se lewe.”
Dis die een geskenk wat die pandemie aan Scherlize gegee het: Dit het haar as geestelike leier gedwing om vas te stel wat alles in hierdie omgewing gebeur.
Om dit te moes doen, en om die kospakkie-projek te koördineer, was vir Scherlize ’n aanpassing. Alles was op ’n veel groter skaal as waaraan sy gewoond was. Sy moes op haar voete leer dink, en sy moes vinnig reageer op elke situasie wat dringende ingryping gevra het.
“Iets gebeur nou – en dan moet daar vandag nog ’n oplossing wees.”
Dit het van haar gevra om nuwe vaardighede en ander werkwyses aan te leer. “Dit was ’n ‘cool’ leerervaring,” sê sy nou.
Vrywilligers en kwesbare mense
Die veel groter bediening waaraan sy en haar gemeente skielik gewoond moes raak, was slegs moontlik omdat soveel ander gemeentes in die ring saamgewerk het. Die inkomste en skenkings uit die gemeente self het ook toegeneem.
“Dít is die onmoontlike wat toe wel gebeur het,” sê sy. Ongeveer die helfte van die ringsgemeentes het lidmate gestuur om by dié projekte betrokke te raak. “Baie mense wil betrokke raak,” sê Scherlize, “maar nie almal weet hoe om te werk te gaan nie.”
Daarom het sy geleer om spesifieke vrywilligers te vra vir wat sy gedoen wou hê. Hierdie vrywilligers was egter nie altyd voorbereid op wat hulle in die gemeenskap teëgekom het nie.
Scherlize vertel dat dit baie energie gevra het om die vrywilligers te help aanpas. “Om seker te maak dat hulle nog oukei is.”
In dié tyd het sy opnuut oor menswaardigheid begin nadink. Sy het geleer dat afhanklike, kwesbare mense ook voorkeure mag hê. Dat hulporganisasies en vrywilligers byvoorbeeld nie namens sulke mense kan besluit wat hulle moet eet nie.
Daarom het sy die vrywilligers gevra om nie sonder meer sop te maak nie.
“Ek wonder wat sou gebeur as organisasies eerder vir die hulpbehoewendes sou vra: ‘Vertel ons wat ons moet doen.’”
Missionale teologie
Teen die muur staan geskryf: ACT JUSTLY. LOVE MERCY. WALK HUMBLY WITH YOUR GOD. Sy begin oor missionale teologie gesels, ’n soort teologie wat van die veronderstelling uitgaan dat die kerk na die wêreld toe gaan.
Sy praat oor die eindelose aantal geleenthede wat daar is om missionaal op te tree, en hoe die kerk sigbaar in gemeenskappe kan wees.
“Mense hoef nie kerk toe te kom om deel van die kerk te wees nie; hulle moet net weet dat die kerk toeganklik is,” sê sy.
Om te ken
Wat het Scherlize in dié tyd aan die gang gehou?
Haar drafroetine soggens, vertel sy. Ook die wete dat sy hard gewerk het en dat sy daarom goed kon rus wanneer sy tuiskom. Haar huis was deurentyd ’n rustige ruimte te midde van die gewoel.
Op die pad vorentoe wil Sherlize in ’n noue verbintenis met die gemeenskap bly. Sy wil haarself verantwoordbaar hou vir alles wat sy in hierdie tyd geleer het, onder meer dat leiers werklik hul mense en dié se geskiedenis moet ken.
“Jy sal nie alles of almal kan ken nie. Maar jy moet hulle saam met jou neem, ook ter wille van jouself, want hulle ken dié dinge beter as jy.”
