Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lounette Engelbrecht het geleer om net te 'wees'. Foto: verskaf
Lounette Engelbrecht het geleer om net te 'wees'. Foto: verskaf

‘Wat beteken ek? Watter waarde bring ek?’

Marileen Steyn in gesprek met Lounette Engelbrecht

Verbeel jou laatskemer in ’n buitelugrestaurant in Swellendam. Wat ’n heerlike ruimte om Lounette te leer ken!

Ten spyte van die mense aan die tafel langs ons s’n wat lag en raas, is daar ’n soort stilte aan die aand. Dit pas by ons gesprek.

Dis hier waar sy my vertel wat stil word vir haar die afgelope jaar beteken het en hoe dit haar gehelp het om te wees wie sy is.

‘Altyd besig, altyd haastig’

Aanvanklik het dit nie gelyk asof Lounette ’n stil jaar sou hê nie. Sy onthou die erge pas van Januarie, Februarie en Maart, en haar besorgdheid dat sy dit nie sou volhou nie.

In die lig hiervan was die grendeltyd vir haar ’n soort reddingsboei. Dit was wonderlik om bloot rustig te kon wees, om eensklaps tyd te kon hê om te dink.

Sy praat van die gejaagdheid van ’n dorp soos Swellendam, wat tog nie ’n buitengewoon groot plek is nie. “Ons gemeentelede is almal moeg. Hulle is altyd besig, altyd haastig.”

Sy praat ook oor predikante wat dikwels reken hulle kan slegs “’n goeie dominee” wees as hulle besig is. Lounette het gou besef dat geen mens dit kan volhou nie.

Toe kom die grendeltyd, en toe het almal skielik tyd wat hulle saam met hul kinders kon deurbring. “En dit was goed.”

‘My gasvrye vriendin’

Maar hoe is ’n mens predikant in ’n grendeltyd?

“Ek het nie geweet nie,” sê Lounette. “Kuier en fisieke kontak is my ‘ding’ – en toe kon ek nie my ‘ding’ doen nie.”

En omdat sy nie haar werk kon doen soos wat sy gewoond is om dit te doen nie, het sy aan haarself begin twyfel. “Wat beteken ek? Watter waarde bring ek?”

Daarby hou sy niks van tegnologie nie. Sy moes die Here vra: “Wat wil U met my as predikant doen? En met die gemeente?”

Toe vertrek sy op die Heuningland-staproete, en dit word ’n keerpunt. Hier bevestig die Here en haar medestappers aan haar wie sy werklik is. Lounette het besef dat die Here haar geplaas het waar sy is omdat sy eg is, omdat sy openlik oor haar worsteling is.

Ineens het sy onthou dat ’n groot stuk van haar identiteit in gasvryheid lê.

Ek kan laasgenoemde beaam. Sy is een van die predikante wat besorg was oor waar ek sou bly as ek haar besoek. Daarom het dit my nie verras toe sy vertel dat sy onlangs deur ’n vriendin as “my gasvrye vriendin” aan ander voorgestel is nie.

Sy vertel dat sy dié gawe afgeskeep het vanweë ’n besorgdheid dat haar huis nie netjies genoeg vir gaste sou wees nie, of dat die reëlings in elk geval nie sou uitwerk nie.

In dié tyd het Lounette onthou dat dit genoeg is om bloot “daar” te wees vir ander. “Dit,” sê sy, “is hoe stil word ’n mens help.”

 

Toe sy van die staptog terugkeer, het die Here haar gehelp om haar selfwaarde te herwin.

Sy praat oor hoe maklik dit is om jouself met ander te vergelyk, en hoe die pandemie ’n mens help om te besef dat jy nie met medegelowiges of kollegas meeding nie. “Ek het ander dinge as my kollegas wat ek kan gee, ’n ander rol om te speel. Daar is ’n ander doel met my bediening.”

Geseën om te seën

’n Gedeelte van Lounette se rol is barmhartigheid – al is dit bloot om iemand met ’n verjaardag te bel en geluk te wens.

Sy onderskei tussen barmhartigheid en “charity”. Die kerk, het sy besef, is nie ’n maatskaplike organisasie nie. Die vraag mag nie bloot wees of daar kospakkies uitgedeel word nie, maar “het ons ooit by die mense uitgekom?” Daarmee sê sy nie dat die kerk nie moet gee nie. Sy praat juis breedvoerig oor haar frustrasie wanneer gelowiges huiwerig is om te gee, wanneer hulle aan hul goed en hul geld vasklou.

’n Mens word juis geseën sodat jou seën na ander kan oorvloei, sê sy.

Sy is dankbaar dat dit ook in dié tyd goed gegaan het met die gemeente se finansies. “Dit sê jou heelwat van mense se gevoel vir hul gemeente.”

‘Van Hom is ek seker’

Kerk toe gaan het vir baie mense niks meer nie as ’n gewoonte geword. Die pandemie het wel tot gevolg gehad dat gelowiges hulleself begin afvra waarom hulle glo en wat die kerk vir hulle beteken. En waarom hulle hoegenaamd kerk toe gaan.

Op ’n manier het baie lidmate opnuut tot die besef gekom dat die kerk eintlik ’n seën in hul lewe is. Dat daar iets spesiaals aan die gemeenskap van die gelowiges is.

Dat dit ’n voorreg is om gereeld bymekaar te kom.

Gelowiges het weer besef dat die kerk ook daar is om ander in krisistye by te staan.

Sy vertel dat sy in dié tyd geestelike groei by baie mense waargeneem het. Gelowiges het opnuut besef hoe afhanklik hulle van die Here is. “Niks is vas en seker nie – behalwe God. Hy is ons Anker. Van Hom is ek seker.”

Die ou patroon

Om hierdie en ander redes is sy bang vir wat voorlê as die pandemietyd verby is. “Ons kan tog nie teruggaan na waar ons was nie,” sê sy.

Sy vrees die einde van die stadiger tempo, die opskort van die ruimte om meer en dieper te dink. “Ek weet regtig nie hoe ons gaan verhoed dat ons weer na die ou weë terugkeer nie. Ons is so suksesgedrewe …”

En dan wonder sy hardop hoe sy haar gemeente oor ’n klompie maande gaan help om nie weer in die ou patroon van besig wees en haastig wees en knaend moeg wees te verval nie.

Intussen skram Lounette van antwoorde weg. “Ek het al ’n soort weersin gekry in mense wat vir alles ’n verduideliking of ’n antwoord wil hê. Die lewe gebeur, en ek kies om ’n pad saam met Jesus te stap, omdat Hy ’n wonderlike voorbeeld is van hoe om hierdie lewe te leef.”

Dit gaan vir haar nie daaroor om mense se probleme op te los nie, maar om in hulle belang te stel. Om teenwoordig te wees in hul nood.

 

Die jaar 2020 was vir Lounette ’n tyd van stil wees. Sy kon uiteindelik wees wat God haar geskep het om te wees. Sy kon weer onthou hoe dit is om eg en eerlik te wees. Om rustig te wees. Om in die teenwoordigheid van God te wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top