Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Alex Clark praat oor teenwoordigheid. Foto: Verskaf

‘As dit net oor mý gaan, wat is die punt?’


Marileen Steyn in gesprek met Alex Clark.

 

Tussen Ceres en Citrusdal loop ’n pad die Koue Bokkeveld in. Langs daardie pad, in die skadu van Skurweberg, is ’n klein dorpie genaamd Op-die-Berg. Maar moenie dat die grootte, of gebrek daaraan, jou om die bos lei nie. Dié dorpie is geleë in ’n wêreld van groot boerderye en groot vrugte.

Ek en Alex sit op die pastorie se stoep. Ek ken Alex aan die herhalende temas in sy lewe: genade, en die alternatief. En deesdae aan die manier waarop ons geseën word om ’n seën vir ander te wees.

Dít is die temas wat vinnig na vore kom wanneer ons oor 2020 gesels.

Om dankie te sê

Dié jaar was vir hom, te midde van al die chaos, tog ’n hoogtepunt. Hy kon saans saam met sy vrou wees, hy kon sport saam met die kinders beoefen, hy kon saam met hulle lees. Vir die Clarks was 2020 dus ’n baie goeie jaar.

Alex vertel hy is diep dankbaar vir die manier waarop God aan hulle as gesin voorsien het, en hoe Hy hulle geseën het. “Daar was negatiewe dinge, verliese, maar dis gering teenoor wat ons ontvang het.”

Die negatiewe dinge?

“Die uitsigloosheid vang jou later,” vertel hy. Daarom het die gemeente vir 2021 beplan soos vir ’n normale jaar. Hy is hartseer oor die enkele nieregeringsorganisasies wat nie meer bestaan nie, en dankbaar oor ander wat floreer.

Hy gesels oor die manier waarop die gemeente ’n klompie randfigure “verloor” het: Daar was mense wat nie bereik kon word nie.

Daarby moes sulke mense, soos almal, vooraf kennis gegee het indien hulle die erediens wou bywoon. “Hoe kon ons in dié omstandighede die randfigure help om ’n tree nader te gee?”

Binne die konteks van die NG gemeente Op-die-Berg kon wyke en wykskerke uitstekend funksioneer, en kommunikasie en verhoudings is versterk. Volgens Alex was dít juis die grootste uitdaging in die pandemietyd: om gemeenskap en verhoudings en doodgewoon kontak te behou, en om die interaksie tussen mense te versterk.

“Ek is trots en dankbaar om deel van dié gemeenskap te wees,” sê hy.

Die gemeente is vir hom ’n bron van vreugde. “Op-die-Berg het ’n goeie jaar gehad,” vertel hy.

Hy is deeglik daarvan bewus dat dit in ander gemeentes nie die geval is nie. “Ons is bevoorreg. En ons kan dit nie, ons mág dit nie, ontken nie.”

Dis belangrik dat die gemeente daarvoor dankie sê – en dan ander help. “As dit net oor mý gaan, wat is die punt?”

‘Ek ook’

Alex praat oor die globale probleem van die skeiding tussen mense, iets wat ons in Suid-Afrika maar te goed ken. Oor die idee dat mense daarna neig om dinge sélf te wil doen, en dan net vir hulleself.

“Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie. Ons kan dit nie self doen nie. Of, beter gestel, ons moet en hoef dit nie self te doen nie.”

Dis waarom interkerklike samewerking vir hom so belangrik is. Hy beskou homself as ’n gemeenskapsmens. Hy glo in “ek ook”. En hy probeer eerlik wees oor homself en oor waarmee hy sukkel.

God is hier teenwoordig

Daar was baie dinge wat Alex in dié tyd energie gegee het. Sy lewensritmes is vir hom uiters belangrik, en hy beklemtoon die belang van ’n rusdag. “Die Inkarnasie wys dat die liggaam, oefening, kos en slaap belangrik is,” sê hy.

Selfs ’n normale roetine soos om jou bed op te maak, is vir Alex van groot waarde. Vanuit hierdie ritmes kon Alex die ander goeie dinge geniet wat Covid-19 gebring het. Dinge soos die aanpasbaarheid en soepelheid wat die pandemietyd vra.

Te midde van al hierdie seëninge én uitdagings bly Alex vashou aan die wete dat God by ons is. Dat Hy teenwoordig is, ook in ons gebrokenheid en pyn. Die seën wat die mens ontvang, lê nie in die materiële nie, maar in die teenwoordigheid van God.

“Kyk daar!” roep hy skielik uit. Hy wys na Skurweberg voor hom.

As Alex na die berg kyk, sien hy iets van die Goddelike, van sy teenwoordigheid en seën.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.