Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Franco Joubert* praat oor verbintenis. Foto ter illustrasie

Om tussen twee wêrelde te beweeg


Marileen Steyn in gesprek met Franco Joubert*

 

Dis een van daardie dorpies waar almal behalwe die beeste jou groet. Die son sit net op die regte plek om aan elke stukkie groen gras, bos en boom reg te laat geskied terwyl jy die verte inkyk.

Dis ’n byna-idilliese toneel.

Byna, ja. Want aan die huisies en die mense kan jy sien dat dit ’n harde wêreld is dié. Dit was maklik om die pastorie tussen al die ander huise uit te ken, omdat die kontras so opvallend is.

Twee wêrelde

Die pastorie is in een van Franco se twee bedieningspunte geleë. Terwyl die gemeentelede in dié omgewing hoofsaaklik staatsafhanklikes sonder tersiêre opleiding en ’n vaste werk is, is dié by die ander bedieningspunt persone in die hoëmiddelklas wat meestal in bestuursposte is of was.

Twee wêrelde, en tussen hierdie twee wêrelde beweeg hy elke dag.

Franco is daarvan oortuig dat die predikantbediening ’n bediening aan mense is – nie aan verpligtinge of vergaderings nie. Dis dus geen wonder nie dat die pandemietyd se gebrek aan aangesig tot aangesig-interaksie vir Franco moeilik was. Hy het die mense gemis.

Hy vertel wel dat hy van mense weet wat die invloed van die pandemie oordryf het, dat hulle dit selfs as ’n verskoning gebruik het om nie te wou werk nie.

Groeityd

Franco bely dat hy uitgebrand was voor Covid-19 die wêreld getref het. Hy was dus dankbaar vir die geleentheid om te rus, stil te word, te herstel. Hy kon ongestoord Bybel lees en bid. Dit was vir hom ’n geleentheid om teologiese boeke te lees, om deur ou materiaal te werk, om kursusse te volg, nuwe vaardighede te ontwikkel en om nuwe gewoontes te ontdek.

Dit was ’n tyd vir persoonlike groei, nuwe lewe. Hy vertel van sy interkerklike Zoom-groepie wat op dissipelskap gefokus het en wat moeite gedoen het om by mekaar te hoor hoe dit gaan en hoe die Here in hul lewe werk.

“Dit was ’n wonderlike stuk ondersteuning,” sê hy.

As hy praat oor alles wat hy in hierdie tyd geleer het, noem hy ook die sosiale media-teenwoordigheid wat hy moes ontwikkel. En die manier waarop hy by ander kon leer, al was dit nie altyd moontlik om dieselfde te doen in sy eie konteks met die beperkte hulpbronne nie.

’n Internet-teenwoordigheid is vir Franco ’n gawe van dié tyd, al het hy gevind dat prediking tans meer tyd en selfs beter voorbereiding verg as tevore. Hy, sowel as ander predikante in die omgewing, het ook op Sondae ’n radiodiens uitgesaai. Dit gaan steeds voort.

Hy lag oor hoe dit gebeur het, en is steeds verwonderd oor die groter reikwydte oor elke denkbare demografiese grens.

Kompleks

Dan loop die gesprek na die uitdagings van versorging in ’n omgewing waar daar meer mense van die staat afhanklik is as op baie ander plekke.

Die groot uitdaging, verduidelik hy, is dat die gemeente nie “die hele dorp” kan versorg nie; daar is doodgewoon te veel behoeftige mense. Hy vertel van die konflik wanneer bepaalde hulpverleningorganisasies net vir sommiges gee en nie aan ander nie. Of as sommiges baie kry en ander min.

’n Buitestander kan by Franco leer hoe kompleks dit is om by ’n armer gemeenskap betrokke te raak.

Franco het ook in dié tyd, met die baie siekes wat hy moes besoek en die vele begrafnisse wat hy moes waarneem, opnuut besef dat die lewe kort is en dat die mens baie broos is.

Te midde van dit alles het daar ’n groter innigheid by hom ontwikkel, ’n dieper vroomheid. Aan die kern hiervan lê die vaste vertroue dat God in ’n verhouding met die mens wil wees.

Franco se verhouding met God het verinnig, en dis hierdie verbintenis wat vir hom die sleutel tot sy belewenis van die koronaviruspandemie is.

*Skuilnaam


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.