Marileen Steyn in gesprek met Marizanne Pfeil-Wessels
Marizanne is pas nadat sy afgestudeer het na die NG gemeente Helderberg beroep, en is daar bevestig met die opdrag om die Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes te bedien.
Skaars drie maande nadat sy begin het, word sy met Covid-19 en al die gepaardgaande uitdagings gekonfronteer.
Oorweldig
Marizanne-die-introvert het nie die vrymoedigheid gehad om vreemdelinge te bel nie. Sy het dus siekes gebel, en ander gemeentelede vir wie sy ken. Uiteraard het sy nie die gemeente so goed geken nie, en sy was dus oorweldig deur die liefde en gasvryheid waarmee sy oorval is.
Mense wat sy skaars ken, het in Julie geskenke vir haar kombuistee gebring. Dié soort liefde en gasvryheid het haar energie gegee en haar grootliks gehelp om deur te druk.
Om voor ’n kamera te moes preek, was ’n enorme aanpassing. Sy het die gemeentelede se energie en reaksie gemis.
Noudat daar wel weer samekomste mag wees, vra Marizanne hoe ’n mens gasvryheid te midde van die nuwe regulasies kan beoefen en handhaaf. Hoe handhaaf jy die voorgeskrewe sosiale afstand wanneer die aard van die geloofsgemeenskap so informeel is?
Hoe speel sy, Marizanne, eensklaps verkeerskonstabel?
Haar spanningsvlak is voorts opgejaag deur haar troue wat van Julie na Augustus verskuif moes word. Maar teen die tyd dat sy uiteindelik getroud gekom en haar man by die huis ingetrek het, het dit soos ’n tuiskoms gevoel.
‘Leef so eenvoudig moontlik’
Die koronaviruspandemie het mense weer na eenvoud laat terugkeer, sê Marizanne, na die hart van hul bestaan. Die gastelys vir haar troue het byvoorbeeld van 87 na 20 gekrimp, en dit op sigself was vir haar ’n herinnering daaraan dat minder soms meer kan wees – meer as genoeg.
Sy droom van ’n samelewing waar daar meer dankbaarheid is en waar mense floreer met wat hulle het, en nie deurentyd na méér soek nie.
“Leef so eenvoudig moontlik,” sê sy. Dis iets wat almal kan leer by diegene wat nie so baie het nie.
Om nie na méér te streef nie, is vir haar deel van ’n ekologiese verantwoordelikheid waar mense só leef dat die aarde kan voortleef en oorleef. Die doppie-projek waarmee hul gemeente die Sweetheart Foundation ondersteun, maak haar opgewonde. Dis vir haar ’n teken dat iets so eenvoudig soos om koeldrankdoppies af te haal en bottels te herwin, hoop kan bring.
‘God gee ons oorgenoeg’
“Genoeg” behels egter meer as besittings. In 2020 het Marizanne ’n soort angstigheid beleef omdat sy nie geweet het of dit wat sy doen genoeg is nie. En dit het haar emosioneel uitgeput, veral ook omdat sy nie die vermoë gehad het om meer te doen of te gee nie.
Sy het egter geleer dat ’n mens nie jou doen en late met ’n ander s’n kan vergelyk nie.
Marizanne en ek stap uit die swierige restaurant in die Strand se hoofstraat en haar woorde maal in my kop: “God gee ons oorgenoeg, sodat ons dit met ander kan deel.”
Wat sou dit vir my lewe inhou?