Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Rudi Swanepoel skryf: Liewe Mens
Ja, ek begin so, want jy is ’n mens.
Jy is arms en derms, bene en skene, voete en sproete en allerhande ander goete.
Al is jy al ‘yster’, ‘sterk’ of ‘ster’ genoem, is jy nie ’n masjien nie.
Jy is ’n uiters delikate en super ingewikkelde wese.
Jy dra misterie in jou rond, want jy is uit Misterie gebore.
En deel van hierdie toestand – die komplekse en wonderbaarlike toestand van menswees – is dat jy nie altyd great voel nie; soms voel ’n mens net down, ’n vreemde soort weemoed kom klop aan jou deur of jy vang jouself dat jy verlang na mense wat jy nie eens ken nie.
Ander kere gebeur daar iets: Iemand drop jou, verraai jou of bepraat jou uit ’n donker hart en met ’n vuil mond. Jy kry nuus wat jy nie wou hoor nie of jy hou vir ure aan vir die versekering omdat jou karvenster die tweede keer in ses maande stukkend geslaan is.
Jy voel jy het genoeg gehad.
Ander kere voel jy down omdat daar absoluut niks verkeerd is nie. En dan voel jy skuldig, want jy is mos #soblessed.
Moenie worry nie: Min van ons verstaan ooit presies hoekom ons down voel of hoe om dit beter te maak.
Dalk skryf ek vir jou (dalk vir myself) om vir jou te sê dat jy nie ’n freak is nie. Weird, dalk (maar ons is flippenwil álmal weird), maar nie ’n freak nie. Jy is ’n méns.
Hierdie mens het vir jou ’n wens: My wens is dat jy sal voel wat jy moet voel, want iemand het mos eenkeer gesê dat die enigste ding wat ’n mens met ’n gevoel kan doen is om hom te voel. So voel hom. Noem hom. En moenie hom vashou nie, want dalk wil hy kom en weer gaan.
As hy bly, vra hy dalk spesiale aandag. In daai geval is my wens vir jou dat jy iemand met oop ore en ’n nog oper hart sal vind; iemand wat kan luister om te hoor, iemand met versorgende hande en baie sagte oë. Iemand wat kan vashou wat jy deel en dit dalk saam met jou kan dra, al is dit vir ’n kort entjie.
Moet asseblief ook nie vergeet om iets kleins te doen nie, al is dit net om diep asem te haal of koffie op die stoep te drink. Of dalk uit te sien na die son se aankoms.
En onthou tog die aard van enige pad: Daar sal ALTYD op- en afdraandes wees; daarsonder was die aarde heeltemal te plat (soos sommiges steeds wil glo) en die horison plein vervelig.
Ek belowe jou een ding, en ek nooi jou om dit ook aan my te belowe: As jy down voel, moenie minder van jouself hou nie.
Wees altyd lief vir jou HELE self.
Met liefde
Jou Mede-mens
- Ds Rudi Swanepoel is ’n leraar by die Andrew Murray Gemeente in Johannesburg. Die skrywe het hy oorspronklik op sy Facebook-profiel publiseer en word hier met sy toestemming gedeel.
