Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘My hart pyn oor die NG Kerk’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Amper emeritus skryf: Ek was seker so twee jaar in my eerste gemeente toe die buurgemeente se predikant aftree. ’n Gawe, goeie man, besadig en regsinnig. Maar ook ’n verbitterde man. Hy het sy lewe vir die kerk gegee, en hy kry geen dank nie, net kritiek, het hy gekla.

Ek het my voorgeneem om nie soos hy oud te word nie. En nou is ek ook daar. Een van die dae sal ek aftree, en ek begin al meer verstaan hoe die buurpredikant destyds gevoel het. Wat my verder ontstel, is dat baie van my tydgenote ook so voel. Gelukkig nie almal nie, maar daar is helaas te veel predikante wat diep ongelukkig is oor hulle persoonlike situasie in die gemeente waar hulle dien, en oor die NG Kerk oor die algemeen.

Gemeentes is oor die algemeen goed vir hulle predikante, maar dit kan ongelukkig nie altyd van die kerkrade van daardie gemeentes gesê word nie. Ek weet van kerkrade wat baie hard op hulle predikant is en nie kan wag dat hy aftree nie, of sommer ’n jaar of twee, drie vroeër as aftree-ouderdom van hom ontslae raak. Want die predikant is te outyds, of pas nie in in die kultuur van die gemeenskap nie, of is te liberaal, of het te veel van ’n ekumeniese aanslag, of … As jy ’n hond wil slaan, kry jy maklik ’n stok.

Die kerk is nie vir sissies nie. Die kerk is ’n harde plek wat sonder skroom houe kan uitdeel. Ek dink nou aan ’n vriend wat op 50 gedwing is om af te tree omdat die nuwe kollega nie van hom gehou het nie. Hy het die trauma van dié voortydige aftrede nie oorleef nie. Kerkrade (of laat ek sê die paar mense in die kerkraad wat die kitaar slaan) gee dikwels nie om wat van hulle leraar word as hulle met hom klaar is nie. Die res van die kerkraad bly liewer stil, omdat hulle weet wat goed is vir hulle. En die predikante in die hoë gestoeltes is ongelukkig ook nie altyd onskuldig nie.

Hoe het die kerk waarvoor ek só lief is, só ’n harde plek geword? Hoe kan dit wees dat predikante wat hulle lewe in diens van die kerk gewy het, vir jou sê hulle weet nie of hulle ná aftrede nog in die NG Kerk gaan bly nie?

Daar is tans ’n onverkwiklike oorlog in die kerk oor Skrifhantering en die sogenaamde vrysinnigheid in die teologiese fakulteite. Ongelukkig wen die agitators dikwels steun deur halwe waarhede te verkondig om mense verdag te maak. Oningeligte lidmate sluk dit maklik, soos Spreuke 18:8 tereg opmerk.

Om ’n genuanseerde standpunt te handhaaf, help nie, want daar is nie plek vir middelgrond nie. Òf jy praat mense na die mond, òf jy is te sag en huiwerig om jou sterk uit te spreek oor sake wat (volgens jou kritici) mos glashelder duidelik is.

My vrou het altyd hoopvol gesê dat Christus self sy kerk in stand hou, al blaak die hel van woede. Dit was totdat my dogter opgemerk het: “Ja, Ma, die Here sál sy kerk in stand hou. Maar dis nie te sê dis die NG Kerk nie.”

Ek is gelukkig nie ’n verbitterde mens nie. Maar die hel blaak van woede, en my hart pyn oor die NG Kerk.

  • Die skrywer se identiteit is aan Kerkbode bekend en word op versoek weerhou.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top