Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Kerk is g’n republiek waar die meerderheid besluit’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf:

Die woord “liberalisme” word nogal gereeld gehoor in ons kerk. Richard Niebuhr beskryf die liberale benadering in sy boek The kingdom of God in America as hy sê: “A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgement through the ministrations of a Christ without a cross.”

Eerder as die sondige mens wat onder die oordeel van God leef en slegs deur Christus gered kan word wat aan die kruis hierdie oordeel dra, sien die postmoderne, verligte, rasionele en goedbedoelende mens homself in veel positiewer lig.

Vir hierdie liberale en verligte mens lyk die Bybel dan ook baie vreemd. Saul beroep hom ook op die feit dat hy deur genade alleen gered word as hy direk teen God se opdrag in genadig is oor Agag (1 Sam 15). Die feit dat Agag die swak, moeë Israeliete afgemaai het, word maklik vergeet (Deut 25). Saul is skynbaar genadiger as God. Net so sou ’n mens kon beoordeel dat Natan geen werklike bewyse teen Dawid het rakende die owerspel met Batseba nie. Urija het dan in die oorlog gesterf – mense sterf mos in oorloë (2 Sam 11). Dawid sou Natan vir naamskending kon aankla. Die offer van Saul se sewe seuns (oor sy onreg en verbondsbreuk met die Gibeoniete) sou niks anders nie as menseregteskendings gewees het volgens ons moderne oordele (2 Sam 21).

Van kollektiewe skuld, sistemiese onreg en plaasvervangende lyding wil die moderne mens niks weet nie – want dit strook nie met sy vrye wil, menseregte en humanistiese moraliteit nie. Ook in die Nuwe Testament sal dit nie so maklik gaan nie, want Jesus mors ’n jaar se salaris op sy vuil voete uit en Judas was ooglopend heiliger en meer besorgd oor die armes as Jesus (Joh 12). Jesus se uitvaar teen die Fariseërs as addergeslag en witgeverfde grafte sou seker effe ongekultiveerd wees (Matt 23) en sy vleg van die sweep en die uitjaag van die lidmate uit die kerk sou beswaarlik ’n morele les kon word (Matt 21).

Miskien sou hierdie liberale mens effens huiwer as hy sien hoe modern en wreed Tomas se soeke na bewyse is (Joh 20) of hoe verlig en postmodern Pilatus se vraag na die waarheid is (Joh 18). Die was van hande het maar net meer gesofistikeerd geword – Jesus hang steeds aan die kruis.

Interessant dat dieselfde soort liberale denke in die vroeë NG Kerk ook die deurslag gegee het oor die eenheid van die kerk en hoe dit die hele toekoms van Suid-Afrika bepaal het. Ds Huet skryf oor die fatale besluit oor die “swakheid van sommige” in 1857 wat aparte raskerke tot gevolg gehad het: “die Kerk van Christus is nie ’n republiek, waar die stem van die meerderheid (die publiek) die wette mag voorskryf nie. Oral [in die Woord] is dit die koninkryk van die hemel, nie die republiek van die hemel nie. Die meerderheid, in ons arme kerk altans, bestaan uit onbekeerde sondaars. Sou hulle oor Christus se Kerk die gesag hê? Noem dan die kerk nie meer die Kerk van Christus nie, maar noem dit die Kerk van die publiek, of die Sinagoge van Satan (Openbaring 2:9).” – Hierdie brief is ná publikasie aangepas. – Red.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top