“Ek het geweldig geestelike baat gevind by die pestilensie. Dit het my geloof in God versterk deurdat ek sy daaglikse Stem, Versekering en Vrede op ’n besondere manier ervaar het. Ons het ook die Here se versorging op ’n uitsonderlike wyse beleef: Vir twee jaar kon ek nie optree en inkomste verdien nie, maar dag na dag het Hy vir ons gesorg.” – Jan de Wet – Musikant/ Prediker/ Skrywer
COVID-19 bied groeigeleenthede
Covid-19 het die wêreld ongetwyfeld op sy kop gedraai en die mensdom onkant gevang. Tog, navorsing bewys dat ontwrigtende, stresvolle ondervindings dikwels geleenthede bied om te groei en nuwe strategieë te ontwikkel.
Ds Nioma Venter oor COVID-19 as besielende ervaring
Ds Nioma Venter, Predikant in Sinodale Diens: Diaconia, vertel dat ná die eerste grendelaankondiging in Maart 2020, Diaconia, die diensgroep wat ook verantwoordelik is vir rampondersteuning aan gemeentes, binne dae ’n bedieningsplan op die tafel gehad het.
“Die eerste grendelperiode is op Maandag 22 Maart 2020 aangekondig en ’n week later het ons ’n bedieningstrategie voorberei met ’n voorgestelde plan van plaaslike interkerklike aksienetwerke.”
“Wat in die daaropvolgende maande gebeur het, was een van die mees besielende ervarings van my loopbaan. Binne slegs drie maande het 75% van ons gemeentes, uit ’n totaal van 229 NG gemeentes in die Sinode van Wes-Kaap, aktiewe interkerklike samewerking gerapporteer. Die fokus was primêr op humanitêre ondersteuning gevestig,” sê Venter.


Emosionele groei ’n werklikheid, sê kundiges
Kundiges is dit eens dat sekere uitvloeisels van die pandemie mense se lewe verryk en selfs beter kan maak. Ook traumabelewenisse rondom sterftes, siekte, geestesversteuring en ekonomiese tekorte bied groeimoontlikhede wat nie misgekyk moet word nie.
Dr Deon van Zyl lewer kommentaar
Dr Deon van Zyl, kliniese sielkundige en voormalige medeprofessor in Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, sê die Japanners gebruik die woord kiki vir krisis, wat ’n tweeledige betekenis het: gevaar en geleentheid. Hyself omarm die geleentheid en sê selfs die donkerste belewenisse het ’n silwer randjie.
“Baie mense ervaar nou posttraumatiese groei deurdat emosionele veerkragtigheid hulle laat terugbons uit ’n krisissituasie – mense tree sterker hieruit. Wanneer jy angs en onsekerheid ervaar, wat COVID meebring, moet dit hanteer word en die individu moet vinnig leer om dit onder die knie te kry. Jy moet bronne uit jouself haal en dit lei na die ontdekking en ontwikkeling van positiewe emosionele groei,” sê Van Zyl.
Bewustheid van dood het positiewe impak
Die pandemie maak die mensdom wêrelwyd nou meer bewus van dood en lyding wat sinvol op lewens en instansies kan inwerk, meen kundiges.
“Bewustheid van dood is eintlik ’n goeie ding. Dit maak jou meer waarderend vir die lewe. Omdat jy self nog leef, begin jy klein dingetjies waardeer en word baie aspekte van menswees nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê Van Zyl.
Die owerheid en bewustheid van dood en lyding
Volgens Van Zyl het die owerheid met die aanvang van COVID kennis geneem van lyding en sterftes en is hulle op prysenswaardige wyse aangevuur om dringende noodmaatreëls in te stel wat beskerming vir die totale Suid-Afrikaanse bevolking sou bied.
“Die staat moes vinnig kyk na ons gesondheidstelsel. Binne ’n kort tydsbestek is veldhospitale opgerig en noodmaatreëls in werking gestel. Die wetenskap en owerheid het op ’n manjifieke wyse kragte saamgesnoer om sterftes te voorkom. Gesondheidstelsels in die breë en al ons mense het hierdeur baat gevind,” sê hy.
Venter oor doodservaring se positiewe impak
Venter self het lewensverlies van mense naby aan haar ervaar, maar ongeag van die hartseer en trauma, koester sy die positiewe uitwerking hiervan op haar en haar gesin se lewe.
“Vir my persoonlik was van die moeiliker goed die lewensverlies van mense naby aan ons. Een van my matriekdogter se vriende het beide sy ouers en oupa binne vyf dae verloor. Hoe skeef en krom dit ookal is dat ’n mens by die positiewe in só iets kan uitkom, is die feit dat ons kinders saam met ons ten diepste bewus geraak het van die gawe, die geskenk van lewe van gesin en familie,” sê Venter.
“Een van my dosente op kweekskool het destyds die opmerking gemaak dat ons hopeloos te min, indien enigsins, oor die dood preek en dit terwyl dit die een enkele werklikheid in ons lewe is wat niemand kan ontvlug nie. Moontlik het die pandemie ons ’n groter vrymoedigheid gegee om hieroor te praat,” vertel sy.
Venter doen self COVID op
In 2020 het Venter self COVID opgedoen waarna sy gehospitaliseer is. Met haar ontslag het sy tuis begin om voorkomende maatreëls te tref wat sal verseker dat haar gesin beter voorbereid is op ’n ontydige sterfte.
“Met my terugkeer huis toe het ons die hele gesin se persoonlike dokumente in orde gekry en op ’n plek gesit waar almal weet om dit te kry. Bewustheid van die dood het ons gehelp om sake soos dié in orde te kry en met almal te bespreek,” sê sy.
Virus bied magdom nuwighede
Van Zyl sê die virus gee aanleiding om ’n magdom nuwighede te leer en effektief te gebruik. Tegnologie is byvoorbeeld verfyn om by isolasie aan te pas en daar is ’n balans gevind tussen huis en werk. In baie gevalle was die tuiskantoor só suksesvol dat etlike maatskappye regoor die wêreld besluit het om daarmee voort te gaan.
“Die impak van COVID-19 op mense se gesondheid in die breë het beslis ’n stap vorentoe beweeg – dit skep ’n bewustheid van jou eie fisiese stand. Laasgenoemde wat veral geestesgesondheid nou meer onder die kollig plaas waar dit hoort.”
“Daar is beslis groter fokus op geestesgesondheid soos angs, depressie en slaapversteuring – ongesteldhede wat voorheen dikwels in stilte verduur is. Mense is nou gemakliker om by terapeute aan te klop vir professionele bystand,” sê hy.
Jeannette Ceronio, opvoedkundige sielkundige, aan die woord
Jeannette Ceronio, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Wesrand wat ook bystand lewer aan leerders en onderwysers, meen COVID-19 het mense genoop om weer aandag te skenk aan hulle gees en psige.
“Die rol van die berader, terapeut of sielkundige het groter en belangriker geword in die breë samelewing. Waar dit in die verlede bloot afgeskiet is, word dit weens COVID nou as belangrik geag en woon mense, veral mans wat nooit gedink het hulle sal hulleself in terapie bevind nie, beradingsessies by.”
Sy sê mense oor die algemeen, maar veral skole en kerke, wend heldhaftige pogings aan om hulp aan skoliere en gemeentelede te bied.
“Ouers van laerskoolkinders en kleuters het ook nou ’n fyner ingesteldheid op hulle kinders se emosionele behoeftes en besef dat hulle kinders aandag, liefde en tyd nodig het. Hulle meld vinniger aan vir terapie wanneer hulle onraad merk of vermoed dat iets onderliggends hulle kinders mag raak of hulle gedrag negatief beïnvloed. Ouers van hoërskoolleerlinge merk ook nou vinniger op wanneer kinders moontlik aan depressie ly,” sê Ceronio.
“Wat kerke betref merk ons dat berading op groter skaal beskikbaar gestel word. By skole sien ons dat beraders en sielkundiges voltyds aangestel word om hulp te verleen.”
Volgens Ceronio is berading en terapie tans beslis nie net van toepassing op COVID-19 verbandhoudende sake nie, maar geestesgesondheid van skoliere en gemeentelede oor die algemeen. Die mens het weer tot die besef gekom dat hy siel, liggaam en gees is en nie slegs liggaam nie; dat daar daadwerklik na die gees en siel omgesien moet word.
Churchill oor krisis en die Verenigde Nasies (VN)
Winston Churchill het na die bloedige Tweede Wêreldoorlog gesê: Never let a good crisis go to waste. Hierna het hy in 1945 meegehelp om die Verenigde Nasies (VN) te stig vir die bevordering van internasionale vrede en sekuriteit – ’n organisasie wat steeds sy vuis bal teen geweld in konfliksituasies wêreldwyd.
Stigting van eerste Nasionale Departement van Gesondheid
In Suid-Afrika was die stigting van die eerste Nasionale Depatement van Gesondheid in Junie 1919 ’n direkte gevolg van die Spaanse grieppandemie. Die huidige Departement van Gesondheid is ’n uitvloeisel hiervan wat met die aanvang van Covid-19 ’n kardinale rol vertolk het met voorkoming en beheer van COVID-19 en dit steeds doen.
- Marietjie Warrington is ‘n oudjoernalis wat as vryskut werk.
Bronne
The origin of the Public Health Act of 1919
Netwerk24.com: ‘Covid-19: ‘Dit kan ons lewe beter maak’
Maroela Media: ‘Die geleenthede wat hedendaagse krisisse ons bied’
