Hoe demokraties is voorgestelde ‘pandemieregulasies’?

As daar een ding is wat die Covid-pandemie ons geleer het, is dit dat ons nie “’n vergemakliking en stroomlyning van outoritêre maatreëls om ‘noodtoestande’ links en regs te ‘bestuur’” nodig het nie, maar wel ’n genormaliseerde demokrasie, skryf Anton van Niekerk.

Ons het almal ’n sug van verligting geslaak toe dit blyk dat die regering planne het om die noodtoestand, afgekondig op sterkte van die Wet op Rampbestuur, vanaf 5 April te beëindig. Dit het toe ook gebeur, maar sonder dat die effek daarvan op die oog af ’n aanduibare verskil aan ons lewe gaan maak. Die mees beduidende gevolg was dat die verpligte dra van maskers buitenshuis (maar nie binnenshuis nie, waar die meerderheid werkende mense hulleself elke dag bevind) afgeskaf is en dat die getalle van byeenkomste wat mense wil bywoon, vergroot is (mits hulle bewys van inenting kan voorlê).

Om hierdie enkele wysigings ingestel te kry, verg blykbaar ’n katnes van burokratiese prosedures. Die vernaamste hiervan, soos ek dit verstaan (en ek is geen regsgeleerde nie!) is dat die bestuur van ’n gesondheidskrisis voortaan bepaal word, nie deur die Wet op Rampbestuur nie, maar deur die Nasionale Gesondheidswet van 2003. Ten einde laasgenoemde moontlik te maak, moet die Gesondheidswet gewysig word om die “vereiste” maatrëels in so ’n krisissituasie in te stel. Die maatreëls wat die veranderinge behels, moet dan egter eers in die Staatskoerant gepubliseer word en aan die publiek voorgelê word vir kommentaar (Dis waar ons nou blykbaar is). Eers as laasgenoemde afgehandel is, kan die hele masjinerie in plek kom via ’n parlementêre proses waarin die wet gewysig word.

Om veel sin te maak van die voorgestelde gewysigde Wet op Nasionale Gesondheid, is makliker gesê as gedoen. ’n Mens moet eerstens taamlik rondblaai om uit te kom by formulerings wat ter sake lyk vir die kwessie op die tafel. Covid word selde by die naam genoem; die voorkeurterm is “aanmeldbare siektes”, maar ek kon nie daarin slaag om ’n helder en ondubbelsinnige definisie van “aanmeldbare siekte” te vind nie. Die mees beduidende formulering wat ek kon vind is “general measures to contain the spread of a notifiable medical condition that can spread through droplets or aerosol”.

Van meer betekenis as die spesifieke maatreëls wat identifiseerbaar is, is die groter wetgewende konteks van die gepubliseerde Staatskoerant. Soos wat ’n mens deurlees (die oorgrote meerderheid van die maatreëls handel oor die hantering van lyke) is dit duidelik dat die regering se voorgenome afskaffing van die ramptoestand slegs in teorie voorsien word. In praktyk gaan dinge grootliks dieselfde bly. Dit beteken nie dat al die maatreëls wat ons tans het, onveranderd gaan bly voortbestaan nie. Wat dit wel beteken, is dat die betrokke minister (slegs van Gesondheid; daar is darem nie meer as een minister betrokke nie) willekeurig en sonder parlementêre oorsig die maatreëls kan in- of afstel.

Een van die ernstigste probleme met die situasie die afgelope twee jaar was die feit dat die regering, in naam van ’n vermeende “noodtoestand” (wat de facto reeds in 2020 tot ’n einde gekom het) arbitrêr kon voortgaan om op ’n gans ondemokratiese manier die “noodtoestand” te verleng en nie onder verpligting was om dit rasioneel te motiveer nie, of om dit te onderwerp aan parlementêre oorsig nie. Dit verg nie veel om die indruk te gekry het dat dr Nkosazana Dlamini Zuma en haar kabinetskollegas dit altevol baie geniet om links en regs maatreëls in te stel sonder om behoorlik aan iemand daaroor verantwoording te moet doen. Daarmee is die sentrale instelling van ons demokrasie – die parlement – grootliks gesystap en is ’n openbare debat oor die werklike nodigheid van hierdie maatreëls effektief in die tande geskop.

Wat ons nodig het in Suid-Afrika, is nie ’n vergemakliking en stroomlyning van outoritêre maatreëls om “noodtoestande” links en regs te “bestuur” nie. Wat ons nodig het, is ’n genormaliseerde demokrasie. Demokrasie word daarby verkeerd verstaan as ons bloot daaraan dink as die wil van die meerderheid. Die meerderheid kan immers tiranniek regeer, of beskik soms oor te min inligting om goeie besluite te neem. Demokrasie is daarom nie gelyk te stel met mense wat meen hulle vertolk altyd die wil van die meerderheid nie. Demokrasie is veeleer die verskansing van instellings – nie om “goeie regering” te waarborg nie, maar juis om ons te beskerm teen swak regering. Die pandemie het duidelik aan ons uitgewys hoe gevaarlik dit is om bloot al hoe meer mag in al hoe minder hande te plaas.

Hierdie magskonsentrasie was immers verantwoordelik vir talle van die sinnelose en teenstrydige maatreëls wat ons, veral in die eerste jaar van die pandemie, gesien het. Hoef ek die lesers nog daaraan te herinner? Dit was ʼn tyd van 

  • Effektiewe huisarres.
  • Beletsels op praktyke wat ’n vernietigende effek op die ekonomie gehad het. Ons steier nog steeds van die dramatiese effek wat die regering se maatreëls op groeiende werkloosheid gehad het. Ons mag nie weer toelaat dat hierdie land, wat ekonomies reeds so swaar kry, ’n herhaling van so iets sien nie.
  • Totaal verspotte en amateuragtige pogings om, as ’n soort polisiestaat, inbreuke te moes verdra op ons privaat lewe. Hieronder tel maatreëls soos wát in ’n winkel gekoop mag word, óf mense mag rook en/of alkohol by geleentheid gebruik, die (onwaardige) spektakel van ’n Minister van Polisie wat strande patrolleer om toe te sien dat mense wel in die straat langs die strand mag loop, maar nie op die sand nie, ensovoorts. Voeg daarby – later in die pandemie – die logika daarvan om teaters te sluit, maar mense, wat dig langs mekaar sit, in vliegtuie toe te laat.
  • Die sluit van skole wat kinders se onderwys – reeds so ’n krisis by ons – enorme skade berokken het.

Dit is wel so dat ons aanvanklik onkant betrap is deur die virus en nie altyd kon weet wat werk en wat werk nie in terme van vereiste nie-farmakologiese gedragsmaatreëls. Maar ons weet nou baie meer, en dit behoort ons in staat te stel om ’n pandemie veel effektiewer te bestuur as twee jaar gelede. Wat ons daarom ten alle koste nie nodig het nie, is die magspaternalisme van dié lede van die regering wat die bloed van magsverwerwing geruik het en daardie mag nou ten alle koste wil behou. Hulle moet eerder ten alle koste gestuit word.

  • Prof Anton van Niekerk is tans die direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek van die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode