Die Goeie Nuus: ‘meer as ’n oorvloed stellings’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons sal heeltemal anders moet dink oor ons evangelisasie en inruiming van eredienste, skryf Nelus Niemandt.

Daar is baie lidmate wat wonder hoe die Goeie Nuus deesdae gebring moet word. Oral word kursusse uitprobeer. Die Algemene Sinode het ’n groep wat navorsing doen. Tog ontwyk herlewing ons.

Die rede is omdat die wêreld waarbinne ons leef so baie verander het. Dit is nie ’n geval dat mense minder glo nie, maar dalk eerder anders glo. Boonop het dit nie juis besondere negatiewe sosiale gevolge indien mense ongelowig is nie. Die vraag is nou – hoe verduidelik ’n mens die Goeie Nuus in hierdie omstandighede? Ons het ’n kreatiewe benadering nodig oor die beste maniere om die Bybelse storie geloofwaardig oor te vertel.

Lees ook: Dissipelskap – 5 dinge wat jy moet ophou doen

Punt is – dit help nie juis meer om mense met die hel bang te praat nie. Ook nie om te vertel watter wonderlike plek die hemel eendag gaan wees nie. Allerhande dogmatiese stellings oor geloof help die minste. Mense is meer geïnteresseerd in die goeie lewe hier en nou, as in dogma oor geloof. God is doodgewoon nie meer deel van die daaglikse lewe van baie mense nie. Hulle is besorg oor hulle eie omstandighede en sukses. Die nie-tasbare einddoel om eendag gered te word en hemel toe te gaan, word verruil vir onmiddellike geluk. Menslike geluk sluit sake in soos waardering vir die natuur, die soeke na besondere ervarings en aandag aan die nood van hierdie wêreld.

Wat beteken dit dan deesdae vir mense om gered te word? Hoe lyk die verlossing wat Jesus bring? Anders gestel – as Jesus die antwoord is, wat is die vraag? Ons moet ernstig dink oor wat geloof en versoening in ons tyd beteken. Veral in ’n wêreld waar die idees oor wat waarheid is, dramaties verander. Jy kan immers uit soveel dinge kies wat jy wil glo – die spyskaart is byna onbeperk. Insigte in godsdienste, pelgrimstogte, ander spiritualiteite is alles beskikbaar. Globalisering en moderne media bring byna oneindige moontlikhede na vore. Iemand praat van ’n individualistiese epistemologie – elke mens kies wat en hoe jy wil glo. Mense is ook nie juis vreeslik bekommerd oor verkeerde keuses nie, want dan kan jy dit doodgewoon omruil vir ’n ander keuse. Vir baie mense is “waarheid” nie meer iets objektief daarbuite nie. Waarheid is relatief en mense voel hulle kom oor die weg met ’n vermenging van stellings wat gemeet word aan die praktiese bruikbaarheid van geloof. Selfs al weerspreek insigte mekaar, leef mense daarmee saam. Moderne kultuur bevraagteken al ons sekerhede. Wetenskap leer ons in ieder geval dat enige waarnemer die bevindings (van wat waargeneem word), wesenlik beïnvloed. Waarheid is wat binne in ’n mens se gemoed aangaan en hoe die mens self sake verstaan. Eerder as om jou te laat voorskryf, dring mense aan op innerlike prosesse van ontdekking.

Lees ook: Teologie as wetenskap: in gesprek met ’n A1-gegradeerde teoloog

Die groot uitdaging is steeds hoe mense sin van die lewe maak. Hoe maak jy as dogmas nie werk nie? Hoe kommunikeer ons in hierdie dae? Veral as mense meer besorgd is oor die wêreld se oombliklike welsyn, as in die belofte van ’n hiernamaals. Al meer gelowiges wonder of ons nie ’n ander pad kan loop nie. Evangelisasie is nie ’n geval van die beter verpakking van ’n ou waarheid nie. Mense gaan dit net as nog iets op die spyskaart ervaar. Miskien moet ons ’n ander pad kies, soos dat waarheid vir baie mense alles te doen het met hulle ervaring daarvan. Iets is betekenisvol, eg en positief as dit ervaar word en nie wanneer iemand bloot teoretiese kennis aanvaar as waarheid nie. Verhale, kuns en emosionele indrukke is sterker as abstrakte stellings.

Die Goeie Nuus het meer as ’n oorvloed stellings nodig. In vandag se wêreld moet die Goeie Nuus in die alledaagse lewe werk. Wat doen ons byvoorbeeld as mense sê die wese van menswees is nie in ons kop nie, maar in ons hart. Geloof is nie die daad van denke nie, maar om mens te wees met hart, siel en verstand en “al jou kragte”. Die roete is nie kop, hart en dan hande nie, maar eerder hande, hart en dan kop. ’n Mens leer die beste deur met jou hart, siel en hande iets te doen! Dit is ’n soort beliggaamde geloof. Eintlik moet ons nie denke en doen skei nie, maar dit wat ons dink in ons dade uitleef. Om dinge doodgewoon te doen is ook ’n daad van onderskeiding. Dink dan nou vir ’n oomblik na hoe lyk ons eredienste – die verbale gesprekke (preek) is belangriker as die liggaamlike heelmens-deelname. Ons teologie is woorde, en woorde oor woorde. Dit is besig om te verander. Ons ontdek al meer dit gaan ook oor teologiese vorming en holistiese ervaring van oortuigings. Mense is veel meer as denkende wesens wat tevrede sal wees met abstrakte idees. Selfs teologiese kennis behoort beliggaamde kennis te wees.

Verlossing moet betekenis hê vir die lewe en dit wat vandag gebeur, en nie net ’n antwoord wees op “waar jy heen gaan wanneer jy eendag sterf ?” nie. Die Nederlandse sendingkundige Stefan Paas vertel uit ervaring dat Christene nodig het om te weet dat die Goeie Nuus nie net relevant is vir ’n mens se siel en die lewe hierna nie, maar ook vir ons liggaam, verhoudings en lewe.

Mense is in ieder geval nie so sonder godsdiens as wat ons dink nie – films, TV-reekse, musiek en kuns is deurtrek met godsdiens. Miskien sal ’n nuwe manier van evangelisasie aandag gee aan hoe mense godsdiens beleef. Dit vra ’n fokus op:

*   die belang van stories

*    rituele en geloofsgewoontes

*   liturgie wat nie net bloot met woorde te doen het nie, maar mense help om te ervaar (soos om ’n stil Nagmaal tydens Paasfees te vier)

*   liggaamlikheid bepaal ons menslikheid, en geloof moet daarmee rekening hou dat ons met ons liggaam dink

*   geloofsgemeenskappe wat saam onderskei om saam te ontdek

*    kuns

*   pelgrimstogte

Ek het grootgeword in ’n tyd toe die roete kop, hart en dan hande was. Dit het my baie kosbare insigte in kerklike dogma geleer, en mooi teologie. Dit lyk my ek sal net ’n getroue getuie van hierdie reis kan wees, indien ek leer dat die roete vir vandag se mense hande, hart en dan kop is. Ons sal heeltemal anders moet dink oor ons evangelisasie en inruiming van eredienste.

  • Prof Nelus Niemandt is die rektor van Hugenote Kollege op Wellington en ’n voormalige moderator van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Die Goeie Nuus: ‘meer as ’n oorvloed stellings’

  1. Malan says:

    Hello Nelus,

    Wat is jou enigste troos of jy lewe of besig is om dood te gaan? Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos te kan lewe of die dood te ervaar?

    Die evangelie is nie ‘n “gimmick” nie. Dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo. Herlewing is nie iets wat ek en jy doen nie. Geen pelgrimstog, geloofsgemeenskap of retreat kan dit doen nie. Johannes 6:63; Romeine 10:13-15; 1 Korinthiers 2. Preek die evangelie nederig en dapper deur die krag van die Heilige Gees en God sal vleis aan die die dooies se bene sit.

    Alle mense is op soek na die genielampie wat hulle kan warm vryf en drie wense gee om hulle probleme op te los of sin in die lewe te gee. In Christus besef ek dat EK die probleem is en dat daar niks is wat ek kan doen om dit op te los nie maar dat alles 2000 jaar terug vir my gedoen is. Ek besef dat EK warm gevryf moet word en lewend gemaak moet word en uit dankbaarheid en vrymoedigheid vir my Here soveel wense toeken as wat Hy vereis.

    Die mensgesentreerde sogenaamde “evangelie” van vandag kan nie red nie. Daar word nie gepreek van die geboorte van bo af vandag nie. Ons kerke is Christusloos. Christenskap word deesdae geadverteer as ‘n slegte godsdienstige verskoning vir terapie. Ons kort nie nog spiritualiteit nie. Ons kort geloof. Ons kort Christus. Gee vir ons die ware brood en wyn. Gee vir ons die Weg, Waarheid en die Lewe. Gee vir ons ons Redder wat vir ons sondes gesterf het aan die kruis, vir ons opgestaan het vir ons regverdiging en vir ons dag en nag pleit by die Vader.

    Ons behoefte aan ‘n verlosser vir ons sondige, korrupte en rebelse bestaan is dieselfde vandag as wat dit nog altyd was. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Dank die Vader vir Sy genade.

    Baie dankie vir jou artikel!

Comments are closed.