Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tydens die onlangse Murray 200 Jubileumfees op Wellington het die fokus opnuut geval op die nalatenskap en bydrae van Andrew Murray jr se nalatenskap. Wat minder bekend is, is dat 45 Springbokrugbyspelers deel is van die nalatenskap, skryf Johan van der Merwe. Foto: DJ Muller

Nalatenskap van Andrew Murray jr is boonop 45 Springbokrugbyspelers

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Murray 200 Jubileumfees het van 6-8 Mei op Wellington plaasgevind. Die fees het afgeskop met ’n konferensie waartydens die fokus opnuut op die nalatenskap en bydrae van hierdie merkwaardige leraar van die NG Kerk geval het.

Minder bekend, is die feit dat deel van Andrew Murray jr se nalatenskap 45 Springbokrugbyspelers is! Hierdie tong-in-die-kies opmerking verwys natuurlik na die feit dat hy die stigter van die bekende seunskool, Grey-Kollege, in Bloemfontein was. Grey-Kollege het van sy ontstaan tot op hede 45 Springbokrugbyspelers opgelewer! Op ’n meer ernstige noot, is die verhaal van Andrew Murray jr se aandeel in die ontstaan van Grey-Kollege beskrywend van ’n predikant van die NG Kerk se passie vir onderwys in die land.

Lees ook: Onderwys en die kerk: Dit is deel van die NGK se DNA

Die verhaal begin in 1855 toe Sir George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie, besluit het om die Oranje-Vrystaat te besoek. Dit het die tekort aan skole in die binneland onder Grey se aandag gebring. Na sy besoek aan Bloemfontein het hy op 17 Oktober 1855 tydens die sitting van die Ring van die Transgariep ₤2000 beloof vir die stigting van ’n seminarium in Bloemfontein. Nadat die fondse aan die kommissie wat deur die ring aangewys is, oorbetaal is, het die wiele vinnig begin draai. In Februarie 1856 het president Boshoff aan die Volksraad gerapporteer dat grond vir die vestiging van die skool aangekoop is. Nadat goewerneur Grey ’n verdere £3 000 pond geskenk het en die bouplanne goedgekeur is, is 100 000 stene en 100 vragte klip in Augustus 1856 bestel.

Dr Andrew Murray het op Sondag 12 Oktober 1856 tydens die erediens in sy boodskap na die belangrikheid van onderwys en die stigting van die nuwe skool verwys. Die volgende dag, Maandag 13 Oktober 1856, het die inwoners van Bloemfontein in ’n optog saamgeloop na die plek waar president Boshoff die hoeksteen gelê het. Op 7 Oktober 1858 het Murray ingewillig om tydelik die eerste hoof van die nuwe skool te wees.

Die finansiële ondersteuning van goewerneur George Grey en die passie en leierskap van dr Andrew Murray jr, het gelei tot die totstandkoming van een van die bekendste en invloedrykste skole in Suid-Afrika. Met Suid Afrika se onderwysstelsel in ’n reuse-krisis, kan die verhaal van Andrew Murray jr se passie vir onderwys en sy visionêre leierskap dalk iewers ’n vlammetjie in die NG Kerk aan die brand steek wat soos in die verlede ’n verskil kan maak. Dit sal in 2022 sy grootste nalatenskap wees.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top