Onderwys en die kerk: Dit is deel van die NGK se DNA

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vir duisende kinders en onderwysers beteken die begin van ’n nuwe jaar: Terug skool toe! Die Covid-19 pandemie het nie net in 2020 die onderwysjaar dramaties ontwrig nie, dit het ook die vergrootglas geplaas op die ernstige krisis waarin onderwys in Suid- Afrika gedompel is. Terwyl baie die skuld daarvan met reg op die skouers van die staat plaas, bied dit ’n unieke uitdaging aan die NGK. Die band tussen Kerk en skool loop immers soos ’n goue draad deur die geskiedenis van ons gereformeerse tradisie en daarom ook deur die geskiedenis van die NGK.

Alhoewel die kerk voor die reformasie reeds by onderwys betrokke was, het dit gedurende die reformasie nuwe momentum gekry. Marten Luther het reeds in 1520 in ’n brief aan die prinse grootskaalse hervormings aan die skoolstelsel voorgestel. In 1524 het hy in ’n dokument Aan die Raadslede van al die stede in Duitsland met die oog op vestiging en onderhouding  Christelike skole  by die raadslede gepleit dat geld bewillig moes word vir die vestiging van ‘n skool in elke stad en dorp.  Calvyn het voorts  oor hoe skole in Geneve georganiseer moes word, geskryf en het veral klem gelê op die belang van die werwing van goeie Christen onderwysers.

LEES OOK: Skryf 29 november 2020 in hoofletters

Dit is daarom ook nie vreemd dat die Sinode van Dordt in 1618 bepaal het dat skole in al die dorpe en stede gevestig moes word, onder beheer van die plaaslike magistraat sou funksioneer en dat gratis onderwys aan die armes verskaf moes word nie. Hierdie onderwysstelsel is deur Jan van Riebeeck in 1652 na die Kaap gebring waar die betrokkenheid van plaaslike predikante deurslaggewend was by die stigting van skole. Van die bekendste skole in Suid – Afrika is deur NGK predikante gestig: Paarl Gimnasium in 1858 deur ds GWA vd Lingen, Grey Kollege in Bloemfonteinin 1859 deur ds Andrew Murray jr. en Paul Roos Gimnasium in 1866 deur ds JH Neethling.

In 2021 is gemeentes se betrokkenheid by plaaslike skole nie ’n luukse nie. Die geskiedenis leer ons dat dit deel is van die NGK se DNA. Juis daarom is dit  deel  van die onmiskenbare roeping van elke gemeente. In die storm van die Covid-19 pandemie wat opnuut woed, sal plaaslike gemeentes ’n plan moet maak om ouers en onderwyspersoneel op elke denkbare wyse te ondersteun. Gebeur dit, word die verleentheid van onderwysstelsel wat dreig om in duie te stort vir die kerk ’n onmisbare geleentheid.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode