Skryf 29 November 2020 in hoofletters

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel op 29 November die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans bekend. Te midde van die chaos wat die Covid-19-pandemie in 2020 in Suid-Afrika veroorsaak het, is dit teen die einde van hierdie anderste jaar miskien simbolies van die lig wat in die duisternis inbreek.

In die geskiedenis van die NG Kerk het daar drie amptelike vertalings van die Bybel verskyn. Die eerste besending van 10 000 Bybels in Afrikaans het op 29 Mei 1933 met die skip die Carnarvon Castle uit Brittanje in Kaapstad aangekom. Dit is op 27 Augustus 1933 deur die drie Afrikaanse kerke in Bloemfontein by ’n seremonie in die ou Gedenksaal in gebruik geneem terwyl gemeentes landswyd oor die koms van die Bybel in Afrikaans feesgevier het. Die gebeure is gevolg deur ’n Hersiene Bybelvertaling in 1953 en die Nuwe Verta­ling wat vyftig jaar na die oorspronklike vertaling in 1983 verskyn het. Prof Pie­ter Verhoef het die belangrikheid van die 1983-vertaling soos volg beskryf: “Die doelstelling van die vertalers was om die boodskap van die grondteks in idiomatiese Afrikaans weer te gee. Alle Afrikaanssprekendes, hier of in die buiteland, moes in staat wees om die groot dade van God in Christus deur die Heilige Gees in hulle eie taal te lees en te hoor.”

Die eerste tree op pad na die jongste 2020-vertaling is reeds in 1997 gegee toe ’n versoek vir ’n sogenaamde kon­kor­dante vertaling voor die Kerklike Ad­vies­komitee: die Bybel in Afrikaans, ge­dien het. Na intensiewe navorsing is die Bybelgenootskap op 25 Oktober 2004 versoek om met so ’n nuwe vertaling voort te gaan. Die versoek is op 17 Fe­bruarie 2005 goedgekeur waarna die werk in 2006 begin het. Die vertaling is 13 jaar later op 1 Julie 2019 aan die Bybelgenootskap oorhandig met die oog op publikasie in 2020 min wetende wat in 2020 sou gebeur.

Min of meer twee weke gelede het ek die 2020-vertaling vir die eerste keer in my hande gehou. Skielik het ek meer verstaan van hoe Keurvors Frederik 500 jaar gelede moes voel toe hy met bewende hande die Bybel in Duits van Martin Luther ontvang het. Vir ’n oomblik kon ek vergeet van die masker op my gesig, die handreiniger aan my hande, sosiale afstand, korrupsie, armoede en plaasmoorde. Het ek my verbeel of het my hande ook effens gebewe toe ek die nuwe Bybel vir die eerste keer oopmaak?

Miskien is dit waarom die geskiede­nis van die NG Kerk 29 November 2020 in hoofletters sal skryf.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.