Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Gert Cordier en sy vrou Koekies was onlangs vir 18 maande op Tulbagh waar hy brugleraar was. Foto : Verskaf.

Drie wenke vir vreemdelinge (en brugleraars)

Ons lewe in ’n wêreld waar ons die mure om ons al hoe hoër bou, trek na sekuriteitskomplekse met hekwagte en vingerafdrukskandeerders, en nie oogkontak wil maak met die ou wat langs ons motorvenster bedel nie. Ons sonder onsself af en is maar sku en agterdogtig vir die vreemdeling.

 

Dit is in hierdie wêreld wat dr Gert Cordier en sy vrou Koekoes besluit het om vir ’n paar maande vreemdelinge te wees. Cordier is as brugleraar na NG Gemeente Tulbagh beroep. Doret Niemandt vind meer uit.

 

Cordier vertel dat dit vir enige iemand moeilik is om ’n ‘inkommer’ te wees. Dit is nie jou plek nie, jy het nie jou eie goed daar nie en as brugleraar weet jy dit is net tydelik. Dit vat daarom ’n stukkie waagmoed om jou tas in die kattebak te laai en dit in ’n vreemde huis weer uit te pak.

 

Hulle is egter al die eerste aand, toe hulle in die klein plattelandse dorpie ingery het, met ope arms verwelkom. Tulbagh se mense het hulle hart en deure vir hierdie twee vreemdelinge oopgemaak. Dit is kosbaar om in ’n gemeente se storie, wat al 277 jaar oud is, ingenooi te word.

 

Cordier se rol as brugleraar het gefokus op die gemeente se storie wat in ’n oorgangsfase was en hy het die oorgangsproses gefasiliteer. Dit is ’n rusperiode tussen bedieninge, sê Cordier, ’n tyd vir afskeid neem, herbedink en voorbereiding vir dit wat kom. Dit is juis hoekom hy as vreemdeling hierdie rol so goed kon aanneem, daar is ’n bietjie afstand tussen hom en die gemeente se storie en hy kon met nuwe oë na alles kyk.

 

As brugleraar het Cordier dan op hierdie drie areas van die gemeente se storie gefokus – verlede, hede, en toekoms.

 

Verlede: Die bemagtiging van die gemeente om regtig van die verlede afskeid te neem. Om te gesels oor dit wat was, die rou en seer aan te spreek en dit dan af te lê. Dit bly steeds deel van die gemeente se storie, maar dit kan nie meer die storie vorentoe vat nie.

 

Hede: Die herbedink van ’n gemeente se identiteit. Wie die gemeente is, waar die gemeente haarself bevind, en haar unieke gawes. Wat is dit wat God se Gees nou op hierdie mense se hart kom druk? Waar is God besig en waartoe nooi God hulle uit? Dit skuif dan die fokus na die laaste area.

 

Toekoms: Die voorbereiding vir ’n nuwe bediening saam met ’n nuwe leraar. Die herbevestiging van die gemeente se toekomsdroom en hoe die gemeente se storie kán lyk. As deel van hierdie laaste area is daar ook die praktiese aspekte van die beroeping van ’n nuwe leraar wat saam met die gemeente die toekoms ingaan.

 

Dit is wat Cordier in hierdie gemeente gaan doen het. Hy vertel dat hy en sy vrou tydens hierdie 18 maande baie goeie vriende en kosbare herinneringe gemaak het. Vir ’n rukkie is hulle ingenooi in Tulbagh-gemeente se storie. Terwyl die gemeente met lof praat van hom en sy vrou, sê hy ook dat hulle besluit om as vreemdelinge in hierdie dorp in te trek ’n baie verrykende ervaring was.

 

As Jesus dan sê dat ons almal eintlik net bywoners en vreemdelinge is, wat sal gebeur as jy besluit om vir ’n paar maande so te gaan lewe? Want kom ons wees eerlik, ons is maar gemaksone-mense. Ons hou vas aan wat en wie ons ken en ons bou baksteen vir baksteen daardie mure nog hoër. Cordier en sy vrou was aangenaam verras en hy sê dat dit ons almal goed sou doen om so nou en dan ’n vreemdeling te wees.

 

Waar nooi God jou uit om ’n vreemdeling te wees? Moet jy ja sê vir daardie werk in Johannesburg? Is dit tyd om by jou sussie in Australië te gaan kuier? Gaan jou volgende beroep as brugleraar wees? (Dit is nie net vir emeriti nie.)

 

Cordier gee drie wenke vir dié wat ook besluit om vir ’n rukkie ’n vreemdeling te wees (en spesifiek vir brugleraars):

 

  1. Respek vir die gemeenskap waarheen jy gaan – God se Gees is reeds daar aan die werk en besig om daardie gemeenskap voor te berei. Jy hoef nie ‘nuwe’ goed na die gemeenskap toe te bring nie. Om dit te respekteer beteken om jouself oop te maak om te ontdek wat reeds daar is.
  2. Sien die groter prentjie – jy hoef nie alles te bestuur nie. Dit is belangriker dat mense jou vertrou en saam met jou sal werk aan die groter prentjie. Maak seker jy het die regte toerusting om mense te betrek, bemagtig en begelei.
  3. Wees net jouself – ’n mens tussen mense.

 

Pak jou tas, klim in die kar, bespreek ’n vliegkaartjie, vul daardie aansoekvorm in – word ’n vreemdeling en ontdek hoe God jou wil gebruik.

 

Dr Doret Niemandt is leraar by die NG Gemeente Valleisig.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top