Maak jy jou kind as ’n rassis groot?

Kwotas, korrupsie en kolonialisme. Dit is die vloekwoorde van ons tyd. En ouers is nie meer bang om voor hulle kinders te vloek nie. “Nou is ons kinders vasgevang in hulle ouers se interpretasies van politiek en hulle ontmoet selde die regte Suid-Afrika,” sê dr Sebastiaan van Dyk in ’n gesprek oor sy 2018-tesis aan die Universiteit van Pretoria, getitled “Racism amongst white Afrikaner adolescents: The challenge of I-Thou (Buber)”. Doret Niemandt vind meer uit.

Oor twee jaar vier ons 30 jaar van demokrasie. Dit beteken as jy vandag jonger as 28 is, is jy na Apartheid gebore. Hoekom is dit dan dat ons kinders vandag steeds praat asof hulle in hierdie ou wêreld lewe? Van Dyk vertel dat dít aanleiding gegee het tot sy tesis se tema – kinders wat neerhalende rassistiese taal gebruik, wat weet hoe om polities korrek op te tree, en of dit enigsins versoenbaar is met Christenwees.

Dr Sebastiaan van Dyk

Van Dyk skryf in sy tesis dat jou bestaan gedefinieer word deur hoe jy by God, die wêreld en by ander betrokke is en hy gebruik Martin Buber se ‘I-Thou’ en ‘I-It’-verhoudings om dit te beskryf. In ’n ‘I-It’ verhouding is jy die subjek en jy werk met ’n objek. In hierdie verhouding word jou belange en agenda vooropgestel, daar is nie gelykheid nie en geen dialoog nie. Dit is dus ’n probleem as jy met ander mense in so ’n verhouding werk, want mense is nie objekte nie. In ’n ‘I-Thou’ verhouding aan die ander kant, is jy die subjek en jy werk met ’n subjek. In hierdie verhouding ag jy iemand gelyk aan jouself en selfs hoër as jouself. Dit is die verhouding wat God met ons het, vertel Van Dyk. ’n God wat gelyk word aan die mens, wat kom sterf vir ons, en ons kom insluit in sy Goddelike liefde.

Van Dyk sê dat ons van kleins af sukkel met hierdie verhoudings, met ‘I-It’, ons-hulle, wen-verloor. Daar moet altyd ’n skurk in die verhaal wees. Little Mermaid, Aladdin, Lion King. Wat as Simba en Scar daardie dag op Pride Rock vrede gemaak het? Wat is die narratiewe wat ons grootword gevorm het? En wat is die stories wat ons vandag vir ons kinders vertel? As jou reaksie is, ‘maar dis hoe die storie gaan’, dan moet die storie herskryf word, meen Van Dyk.

Lees ook: Drie wenke vir vreemdelinge (en brugleraars)

Dit is dan juis in die herskryf van stories wat daar ’n beter pad vorentoe is vir Suid-Afrikaners, ’n beter toekoms vir jou kind. Van Dyk vertel dat dit in drie stappe gebeur:

Stap 1 – Jou storie

Ons elkeen het ’n storie, ’n vandaankom, ’n reeks gebeure wat ons gevorm het. Jou storie vorm die basis van alles. Begin deur jou storie te erken en te vertel. Simba probeer homself losmaak van sy verlede en hy hardloop weg, Hakuna Matata. Maar ’n paar jaar later tackle sy verlede hom plat.

Stap 2 – God se storie

Dit laat jou natuurlik weerloos, om jou storie te erken en te vertel. Dit is egter in hierdie oomblikke van weerloosheid wat jy God se onvoorwaardelike liefde ten diepste kan ervaar. Waar jy kan leer om okay te wees met jouself. Dit is wanneer hy daardie aand vir sy refleksie in die waterpoel skrik en sy pa se stem hoor, “remember who you are”, wat alles vir Simba verander.

Stap 3 – ’n Nuwe storie

Dit skep dan die geleentheid vir ’n nuwe storie. Wanneer jy nou uitreik na ander, grense afbreek, jou storie vertel en ook ander se stories hoor. Dit is hoe die storie herskryf word en ’n nuwe storie vertel word. Wat as Simba en Scar eerder ’n vuurtjie aangesteek het in daardie olifantbegrafplaas en hulle stories met mekaar gedeel het?

Ja, ek weet. Dis net ’n storie, en leeus kan nie regtig praat nie. Maar jou kinders kan. En hulle weet presies hoe om die regte goed te doen en sê tussen die regte mense. Hulle rassisme word bestuur, want daar het nog nie iets in hulle hart gebeur wat ’n nuwe storie moontlik maak nie. En dan kom hulle op universiteit en raak ’n aand dronk en dan bloei daardie rassisme uit deur hulle dade in ’n oomblik van swakheid.

Daar móét ’n veilige ruimte wees waar ons oor hierdie goed kan praat, sê Van Dyk. Ons kan nie net vir Scar doodmaak nie. Ons moet aan dieselfde kant kom en saam skryf aan ’n nuwe storie. Jou kind se toekoms hang daarvan af. Hoe gaan Suid-Afrika lyk oor nog 30 jaar van nou af? En watse aandeel het jy en jou kinders aan die prentjie wat jy nou in jou geestesoog sien? Die enigste ding wat nodig is vir die sonde van die verlede om voort te leef deur ons kinders, is vir goeie ma’s en pa’s om niks te doen nie.

  • Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
Word 'n vriend van Kerkbode