Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Bybel-Media is ’n inspirasievennoot vir gelowiges in Indië in samewerking met Echo of His Call Biblecor Ministries. Bybel-Media is al meer as 42 jaar betrokke by die werk in Indië en is baie dankbaar dat Bybelkor se materiaal so gebruik kan word tot uitbreiding van Jesus se koninkryk. Ons is dus ’n reisgenoot vir Biblecor India op die Jesusweg,” sê Hannelie Matthee, hoof van fondswerwing by Bybel-Media, in 'n fokus op die bediening in Indië. Foto’s: Verskaf

Bybel-Media in Indië: Van ’n boekie tot ’n omvattende bediening


Stephan Gill was ’n jong seun toe hy op aanbeveling van sy pastoor-oom in 2007 oor ’n Bybelse korrespondensiekursus navraag gedoen het. Dit is hoe sy pad die eerste keer gekruis het met dié van pastoor Sam Selva Raj van Echo of His Call Biblecor Ministries en indirek ook met hul evangelisasievennoot, Bybel-Media (BM).

Biblecor Ministries het vir Stephan die Hindi-weergawe van die Bybelkorgids New life for you gestuur. Dit verduidelik die evangelieboodskap vir mense uit ’n Hindoe-agtergrond. Stephan was so aangeraak deur wat hy gelees het, dat hy sy lewe aan die Here gegee het.

Pastoor Sam Selva Raj

New life for you is ook die boek waarmee pastoor Sam (soos almal hom ken) en BM se verbintenis meer as 42 jaar terug begin het. Hy het in 1979 die boek raakgelees en besluit dit is die ideale evangelisasiemiddel vir die omstandighede in Indië. Na hy met BM, Bybelkor se uitgewer, kontak gemaak het, is dit in Tamil en Hindi vertaal en vandag word jaarliks steeds duisende van die boekies versprei.

Slegs 2,5% van Indië se bevolking van ongeveer 1,25 miljard mense is Christene. Dit beteken dat evangelisasiewerk ’n ontsettende groot behoefte in Indië is.

Jong Stephan het by sy oom se gemeente ingeskakel waar hy sy musiektalent uitgeleef het as aanbiddingsleier. Na skool het hy as bankklerk begin werk terwyl hy ook ingeskryf het vir ’n teologiese korrespondensiekursus by die Nehemia-Bybelkollege in Indië. Dele van die kursus kom van die Nehemia-Bybelinstituut (NBI) van Bybel-Media.

Stephan Gill

Verlede jaar Junie het Stephan by sy oom oorgeneem as leraar van Nasari Church, ’n gemeente met sowat 200 lidmate. As tentmakerherder werk Stephan op weeksdae bedags in die bank en saans doen hy besoek by lidmate en lei kleingroepe. Op Sondae lei hy soggens die erediens en saans hou hy jeugbyeenkomste.

Die kennis en dissipline wat hy met sy studies by die Nehemia-Bybelkollege geleer het, help hom om enige uitdagings te hanteer en om die evangelie op ’n Bybelse wyse oor te dra, het Stephan getuig tydens die kollege se gradeplegtigheid in November.

“Ons is baie trots dat ons sulke goeie leiers, evangeliste en pastore kan oprig deur ons BIBLECOR en Nehemia-Bybelkollege bedienings in verskillende dele van Indië en in naburige lande,” sê pastoor Sam Selva Raj.

‘Reisgenote op weg’

Danksy Raj en die Echo of His Call-bediening is die Bybelkorgids New life for you in verskeie dorpies gebruik om groepsgesprekke te hou. As gevolg van hierdie gesprekke het bestaande gemeentes gegroei soos meer mense aangesluit het, en het nuwe gemeentetjies ook gevorm. Daar is nou meer as 2 000 van hierdie gemeentetjies regoor Indië.

Bybelkor-sentrums is vervolgens in verskillende dele van Indië (sien kaart onder) gevestig om kontak en kommunikasie tussen die gemeentes te vergemaklik. Die hoofkantoor is in Chennai, in die suidooste van Indië, waar Tamil die voertaal is.

Die groei in gemeentes het volgende meegebring dat daar ’n behoefte aan teologiese opleiding ontstaan het. In 2010 is ’n teologiese skool gebou in Velachery, aan die buitewyke van Chennai, met ruim ondersteuning van BM. Dit word vandag steeds vir voltydse teologiese opleiding gebruik.

Oor die afgelope klompie jare is ’n teologiese korrespondensiekursus ook gevestig. Vir dié doel word dele van BM se NBI-kursus ook gebruik. Die kursus is beskikbaar in Engels, maar is ook in Tamil vertaal. Jaarliks doen meer as 5 000 studente hierdie kursus.

’n Paar jaar gelede het ’n leiersgroep van BM Indië besoek en persoonlik ervaar watter groot impak hierdie bediening het (foto).

Van die uitstaande indrukke was die volgende:

  • die wye erkenning vir pastoor Sam en sy werk; die invloed van sy bediening wat wyd oor Indië strek; die besonderse toewyding van Christene wat in gemeentetjies in beknopte wonings bymekaarkom; talle vroue wat betrokke is, en semi-opgeleide pastore wat vrywillige diens lewer.
  • Die kinders neem entoesiasties deel aan die eredienste en ken ritse Bybeltekste uit hulle kop. Die Bybelkennis van gewone lidmate is opvallend goed. Gebed speel ’n deurslaggewende rol in hierdie gemeentes.
  • Die bediening fokus op Christelike literatuur en opleiding, maar daar word ook baie gedoen vir maatskaplike hulp en ontwikkeling.

Vir Bybel-Media is dit duidelik dat hulle vennootskap met Echo of His Call Biblecor Ministries ’n betekenisvolle manier is om hulle missionale roeping uit te leef. Ds Danie Mouton, voorsitter van BM se direksie vertel meer: “Die vennootskap met Echo of His Call Ministries is ’n Godgegewe geleentheid waardeur Suid-Afrikaners daar ’n verskil kan maak. Die inisiatief, energie en visie waarmee Echo of His Call opereer vermenigvuldig die bydraes van Bybel-Media en voeg geweldige waarde toe. Wanneer ’n mens hierdie gelowiges in aksie sien, skep dit nuwe energie vir ons eie bedieninge in Suid-Afrika.”

“Bybel-Media is ’n inspirasievennoot vir gelowiges in Indië in samewerking met Echo of His Call Biblecor Ministries. Bybel-Media is al meer as 42 jaar betrokke by die werk in Indië en is baie dankbaar dat Bybelkor se materiaal so gebruik kan word tot uitbreiding van Jesus se koninkryk. Ons is dus ’n reisgenoot vir Biblecor India op die Jesusweg,” voeg Hannelie Matthee, hoof van fondswerwing by BM by.

As jy graag vir Bybel-Media of enige van hulle projekte wil ondersteun, besoek gerus www.bybelmedia.co.za (Vir ‘n Artikel 18A-belastingsertifikaat om vir belastingverligting aansoek te doen, epos gerus vir adele@bmedia.co.za).

  • Bron: Bybel-Media Jaarverslag Februarie 2021

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.