Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

God is veel groter as ons idees en gedagtes, en juis daarom mag ons soms maar meer radikaal oor God dink, vertel dr Nico Smit vir Marileen Steyn tydens hul onlangse gesprek oor die taal wat ons gebruik om oor God te dink en praat, selfs dig. Foto: Verskaf

Ons mag soms maar meer radikaal oor God dink

Marileen Steyn gesels met dr Nico Smit oor Teopoëtika en die manier waarop ons taal oor God nie so beperk hoef te wees soos wat ons soms vrees nie.

Eerste woorde is ’n besonderse ding. Vir maande gebruik mense taal rondom ’n klein bondeltjie en eendag, wonder bo wonder, begin die bondeltjie daardie woorde eggo. Woorde soos “Mamma”, “nee” en “myne”.

Byna meer as die eerste woorde, onthou volwassenes dikwels daardie woorde wat kinders hulle eie maak. Woorde soos kitaar word “kietiekaar”. Die perd word ’n “habeda”. Die rekenaar, ’n “neukenaar”.

Mettertyd word hierdie woorde egter afgeleer. Dit is oulik tot op ’n punt, maar dan moet die kind tog leer om soos almal anders te praat, of hoe?

Dan is daar ’n paar onder ons: die Shakespeares, die Lewis Carrolls, die DJ Oppermans en mense soos IL de Villiers wat weer aan die ander kant van daardie taal speel, wat nuwe taal en woorde skep.

Dr Nico Smit mag dalk teoloog en pastor wees, maar sy hart is ook Afrikaans. Hy is in die besonder lief vir Afrikaanse poësie en dit is hierdie drievoudige liefde vir liturgie en ritueel, vir pastoraat en vir Afrikaans, wat Smit gedryf het om sy PhD-tema te kies.

Smit het sy doktorsgraad in 2020 verwerf met sy tesis, getiteld “Teopoëtika: Radikale Godstaal en IL de Villiers se gedigte”. Smit is die eerste om in Afrikaans na die veld van ‘Theopoetics’ te kyk deur sy bestudering van sy gunstelingdigter, IL de Villiers, se gedigte.

Teopoëtika is ’n interdissiplinêre veld wat verrykend tot die teologie is en wat kyk na die manier waarop mense se taal oor God ontwikkel. “Kan daar oor God gepraat word anderste as wat daar oor God gepraat is oor die afgelope hoeveel duisend jaar?” vra Smit. “Kan mense hulle eie geloofstaal aanleer en ’n eie styl ontwikkel wanneer hulle oor God praat?”

Soos ons as Christene ontwikkel, word ons ’n sekere Godstaal aangeleer, aldus Smit. Wanneer ons oor God die Skepper, Vader, Rots en Redder praat, is ons besig om die Godstaal wat ons aangeleer is, te gebruik. Is dit egter die enigste taal wat ons mag gebruik? wonder hy. Teopoëtika sê dit is nie.

Tot ’n groot mate gaan dit oor wat buite die Bybel oor God gesê kan word wat eintlik bydra tot die Bybel. Deur “buite die Bybel” te praat, bedoel Smit nie dat ons onbybels moet praat nie. “Die Bybel,” beklemtoon hy, “sê vir ons alles wat ons nodig het om te weet oor God.” Dit beteken wel nie dat ons tot daardie taal beperk hoef te word nie.

“Teopoëtika is nie die wegbeweeg van die Bybel nie, maar skep wel ruimte, net soos poësie. As ek sê: God is die Karoo, wat sê ek? Só, baie … maar tog só bitter min.”

Deur IL de Villiers se gedigte oor die tydperk van 30 jaar te bestudeer, het Smit gesien hoe De Villiers se taal geskuif het vanaf die konvensionele taal wat hy aangeleer is na meer poëtiese, misterieuse taal oor God. Net so, skuif mense, vanuit hulle unieke lewenservaringe en traumas in hulle taal oor God en ontwikkel hulle eindelik ’n Godstaal wat eie aan hulle is.

Smit verduidelik dat daar ’n groot uitdaging lê in die manier waarop mense nie mekaar se ‘Teopoëtika’ (elkeen se Godstaal) verstaan nie en vandaar kom daar dikwels misverstande. Ook in die pastorale spreekkamer verstaan ons nie altyd wat mense met hulle kietiekare en habedas en neukenare probeer sê nie en die gevolg is dat ons dan mense wil kry om dieselfde oor God te praat as wat ons praat.

Smit pleit egter dat mense nie so vinnig sal wees om ander se Godstaal af te breek nie en eerder te werk met die taal wat hulle help in hulle verhouding met God.

Beteken dit dat ons mense dan maar net moet los om oor God te praat soos wat hulle wil? Glad nie. Taal moet immers steeds in lyn met die Bybelse beginsels wees hoewel dit nie tot Bybelse taal beperk hoef te word nie.

“God is meer as ons idees en gedagtes, veel groter!” aldus Smit. En juis daarom, is daar altyd plek vir meer taal as wat ons het. “Ons mag soms maar meer radikaal oor God dink.”

Ons Godstaal doen meer as om ons net taal te gee waaruit ons kan leef. Smit sê dat ons ook in ons taal inleef en om hierdie rede maak die taal wat ons gebruik so baie saak.

Smit beskryf homself as ’n soeker wat ook verby Godstaal wil beweeg om uit te kom by die onbekende God. God maak Homself bekend, deur Homself te versluier. Die uitnodiging aan die Christen is om hulle tradisie se Godstaal aan te leer, om verder te beweeg deur hulle eie taal te ontwikkel en dan eindelik ook verby daardie taal in die stilte in te beweeg om eindelik God buite die beperkinge van taal te mag en kan ontmoet.

Prop Marileen Steyn is vryskutnavorser en PhD-student aan Universiteit Stellenbosch.
Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top