Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Mens hoef nie alles van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer te weet om te besef ’n Hitler kan weer gebeur nie. Elkeen van ons kan ’n Hitler help moontlik maak, skryf Dana Snyman na sy onlangse besoek aan ‘n Berlynse museum ingerig rondom die tema: Hoe het Hitler gebeur? en daarna die gedenksteen opgerig vir Bonhoeffer in die Dorotheenstadt-begraafplaas. Foto: Dana Snyman

Oor Hitler, Bonhoeffer en die wekroep tot verset

Die Uber-taxi, ’n swart Mercedes nogal, hou tussen ’n paar moderne geboue naby die middestad van Berlyn stil.

“Here you are,” sê die bestuurder, ’n kêrel uit Sirië.

Eers wil ek dit nie glo nie. “We’re looking for Hitler’s bunker.”

“Go and read there.” Hy wys na ’n kennisgewingbord op die sypaadjie.

’n Mens weet ’n groot gedeelte van Berlyn is in die Tweede Wêreldoorlog deur die Geallieerde magte se bomme platgevee, maar jy verwag om meer te sien op die plek waar Adolf Hitler en sy vrou, Eva Braun, in 1945 hulle laaste ure deurgebring het.

Op die kennisgewingbord is ’n paar swart-wit foto’s van hoe dit in ’45 hier gelyk het. Net dit. Die bunker is ná die oorlog heeltemal vernietig. Asof almal net wou vergeet.

Hoekom fassineer Hitler my so? Ons het die vorige aand per trein in Berlyn aangekom en ek is pal op die uitkyk vir tekens van Hitler se Duitsland. Ek sien weer daardie fototjies in ons geskiedenishandboek in my gedagtes: Die Olimpiese stadion wat Albert Speer, die Nazi-argitek, vir die Olimpiese Spele van 1936 ontwerp het: Duisende Duitsers staan in rye, met een arm uitgestrek in die Nazi-saluut. Op ’n ander foto staan Der Führer regop in sy oopdak-Mercedes, met sy donker snorretjie.

Ek onthou hoe ek die boeke van Heinz G Konsalik (skryfnaam vir Heinz Günther) op skool verorber het – stories wat in die Tweede Wêreldoorlog afspeel en waarin die Duitse soldate se ontberinge beskryf word. Op ’n Dinsdagaand in die 1970’s was The World at War oor ons TV’s, dan het alles tot stilstand gekom. Die Tweede Wêreldoorlog en Hitler het ons aangegryp.

Vir party het dit verder gegaan: Robey Leibbrandt, wat as Springbokbokser aan ’36 se Olimpiese Spele deelgeneem het, is later in Hitler se weermag opgelei en was deel van ’n onsuksesvolle operasie om ’n Hitleragtige bewind in Suid-Afrika te vestig. Hans van Rensburg, leier van die Ossewabrandwag, het Hitler in Duitsland ontmoet. Adv John Vorster, ons eerste minister, was as jong man ’n lid van die Ossewabrandwag.
Baie Afrikaners het met Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog gesimpatiseer. Hulle kon nie die Britte vir die Anglo-Boereoorlog se vergrype vergewe nie.

Ek moet my woorde fyn kies: As kind is amper van my verwag om respek, selfs ’n mate van bewondering, vir Hitler en die Nazi’s te hê. Dit kan ek nie verswyg nie. Ek onthou ’n gesprek in ’n geskiedenisklas in standerd 7 op Nylstroom toe ons vir mekaar gesê het: Is jammer Hitler het die oorlog verloor, hy was teen die kommuniste, hy moes dalk die hele wêreld regeer het. Van die gruwels in Dachau en die ander doodskampe is ons min vertel.

Maar dit sal dom wees om die Ossewabrandwag en ou Nasionale Party regstreeks met Hitler en die Nazi’s te vergelyk.

Nie te ver van waar Hitler se bunker nie meer is nie, is ’n soortgelyke bunker as ’n museum ingerig rondom die tema: Hoe het Hitler gebeur?

Ons gaan stap deur die benoude bunkervertrekke, verby die toonkaste en uitstallings waarin Hitler se opkoms verduidelik en uitgebeeld word.

In die 1930’s, toe hy aan bewind kom, was Duitsland op ’n finansiële ashoop en militêr en andersins lamgelê. ’n Outokraat soos Hitler weet byna instinktief hoe om mense se denke met krom waarhede en samesweringsteorieë te verander. Met behulp van Joseph Goebbels, sy propagandahoof, het hy na die media – hoofsaaklik koerante en die radio – as in wese vyandiggesind begin verwys. “Lügenpresse,” het Hitler die pers genoem. Die koerante, ou, eerbare instellings, is knaend van leuens beskuldig. Klink dit bekend?

Ook is daar al hoe meer teen minderhede gediskrimineer. Nie net die Jode nie, ook gays en die Europese sigeuners. Skrywers en kunstenaars is verdag gemaak.

En dan merk ek dit: In een van die toonkaste is ’n foto van Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog en predikant wat hom teen Hitler en sy bewind verset het. ’n Man wat ’n lewe van lydelike verset teen ongeregtigheid geleef het.

Lees ook: ‘Bonhoeffer vra dade, nie net woorde’

Hoe vergesog dit ookal klink, ’n gedeelte van die Duitse Kerk het Hitler ondersteun. Net soos die NG Kerk apartheid aanvanklik as Bybels geregverdig beskou het.

Het ek maar vroeër van Bonhoeffer gehoor? Op oorlede Pa se rakke was nie van sy boeke nie – Bonhoeffer wat iewers skryf: “Ons was getuies van bose dade en is deur storms rondgeslinger. Ons ervarings het ons sinies gemaak en ons kyk na mekaar met agterdog … Hoe vind ons die pad hieruit?”

’n Uur of wat later is ons weer in die son buite die museum. Bonhoeffer bly in my gedagtes. Ek google op my selfoon: In die Dorotheenstadt-begraafplaas is ’n gedenksteen vir Bonhoeffer, ’n paar kilometer weg. Ons uber nie soontoe nie. Ons stap verby die oorblyfsels van die Anhalter-treinstasie vanwaar duisende Jode en ander van geringstes onder ons na die doodskampe gestuur is.

Bonhoefer is in 1943 deur Hitler se Gestapo in hegtenis geneem en vir agttien maande in die stad aangehou. Hy het onder meer Joodse mense gehelp om uit Duitsland te vlug.

’n Mens hoef nie alles van Bonhoeffer te weet om te besef ’n Hitler kan weer gebeur nie. Elkeen van ons kan ’n Hitler help moontlik maak.

Op verskeie plekke in Berlyn is op die oomblik noodposte waar vlugtelinge uit Oekraïne gehelp word. Wat gaan in Rusland gebeur? En in Amerika?
En wat gaan in Suid-Afrika gebeur? Gaan die dag aanbreek dat ons ons moet begin verset teen ons nuwe bedeling, ’n korrupte regering wie se wanbestuur en versuim hoeveel mense se dood en erge armoede en swaarkry veroorsaak?

“Ons moenie net die wonde verbind van slagoffers wat deur die wiel van ongeregtigheid vertrap word nie,” skryf Bonhoeffer. “Ons moet ’n stok in die wiel steek.”

Op die oggend van 9 April 1945 is Bonhoeffer in die Flossenburg-konsentrasiekamp gehang saam met ses mans wat deel van ’n komplot was om Hitler te vermoor.

Die Dorotheenstadt-begraafplaas is nie groot nie, die grafstene oud, op party groei mos. In die lug is die reuk van nat gras.

Dit neem ’n rukkie om die gedenksteen te kry, ’n marmerblad, eenvoudig, waardig, met ’n kruis daarby. ’n Lewe opgeoffer “… für Freiheit, Recht und Menschenwürde …”

Ek gaan sit op ’n bankie oorkant die gedenksteen. Oor die kruis val ’n streep sonlig. Voëls kwetter vrolik in die bome, en dit voel of dit so móét wees. Dit was ’n ver pad van 1977 op Nylstroom tot hier.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top