Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gedurende die onlangse vakansie het vier NG gemeentes in Pretoria-Oos gesamentlik ’n vakansieprogram aangebied met die fokus om ’n veilige ruimte te skep waar kinders kon speel, saam met maats kon kuier, en bo alles, die Here wat hulle op ’n wonderbaarlike wyse gemaak het, kon prys. Foto's: Rikus Blom

Vier gemeentes hou saam vakansieprogram

Meer as 100 kinders uit Pretoria-Oos het gedurende die onlangse wintervakansie ’n vakansieprogram kon bywoon wat gesamentlik deur vier NG gemeentes aangebied is. Rikus Blom vertel meer.

Die tema vir die vakansieprogram het gekom uit Psalm 139:14 ‘Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering’.

Dit is die woorde wat Valleisig-, Tygerpoort-, Lux Mundi- en Garsfontein-gemeentes bymekaargebring het. Die vakansieprogram het gefokus op die skep van ’n veilige ruimte waar kinders kon speel, saam met maats kon kuier, en bo alles, die Here wat hulle op ’n wonderbaarlike wyse gemaak het, kon prys. Die predikante, jeugwerkers en kategete van die verskeie gemeentes se betrokkenheid met hulle verskillende gawes het ’n week van absolute joligheid tot gevolg gehad.

Daar was ook verskillende aktiwiteitstasies waartussen die verskillende ouderdomsgroepe saam met hulle leiers roteer het.

Wat hiérdie vakansieprogram só uniek maak, is dat ál die jeug in die ooste van Pretoria dit kon bywoon. Meer as honderd voorskoolse en laerskoolkinders het elke oggend met ’n opwarmingsessie begin waar hulle met strekbewegings ’n verhaal uitgeleef het. Hierna is saam gesing en gedans op maat van lewendige lofprysingsmusiek. Dit was wonderlik om te sien hoe elke kind teen die tweede dag alreeds elke beweging van elke liedjie geken het!

Elke dag was daar ook ’n kort Bybellessie wat met ’n aansluitende aktiwiteit gepaardgegaan het. Daar was ook verskillende aktiwiteitstasies waartussen die verskillende ouderdomsgroepe saam met hulle leiers roteer het. Elke dag is nuwe stasies bygevoeg, wat ingesluit het: boeresport, minute-to-win-it, oefensessies saam met ’n professionele sportafrigter Jolene Dippenaar, en ’n kunsaktiwiteit aangebied deur Alice Grobler waar elke kind ’n prent op hulle hemde kon laat druk.

Hierdie week was nie net hope pret nie. Die samekoms van die verskillende gemeentes se geestelike leiers en kinders was ’n getuienis sowel as ’n viering van die wonderbaarlike wyse waarop God elkeen van ons gemaak het. Nog meer was dit ’n getuienis van hoe elke persoon, groep en gemeente met hulle unieke gawes saam kan kom, jonk en oud, om ons Almagtige Skepper te prys. Die hoop is dat die verskillende gemeentes mekaar sal aanhou ondersteun met ’n bediening onder die jeug.

  • Rikus Blom is die jeugleier en gemeentejaarstudent by Garsfontein-gemeente.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top