The Scots Afrikaners: Identity politics and intertwined religious cultures in Southern and Central Africa deur Retief Müller
Uitgewer: Edinburgh University Press, 2022
Resensent: Ruhan Fourie
Die verhaal van die NG Kerk, wat bestaan uit ’n ryk verskeidenheid kleiner verhale, is diep verweef met die geskiedenis van Suid-Afrika. Tog is daar ’n gebrek aan verantwoordelike geskiedskrywing van hierdie verhale.
The Scots Afrikaners deur Retief Müller is ’n voorbeeld van hoe ’n verhaal met die nodige akademiese ywer en historiese bewussyn verweef kan word in ’n boeiende narratief. (Dit is wel ’n jammerte dat Müller se boek ontoeganklik is vir die meeste belangstellendes in Suid-Afrika, aangesien die publikasie moeilik bekombaar is, terwyl die e-boek-weergawe oor ’n duisend rand kos).
Müller, een van ons vooraanstaande kerkhistorici, dek die Skotse invloed op die NG Kerk – en die effekte daarvan – van die middel-negentiende eeu toe Lord Charles Somerset die kerk wou angliseer tot die middel-twintigste eeu toe die Skotse invloed gekwyn het onder die meer dominante volkskerk-tradisie van groeiende Afrikanernasionalisme.
Sentraal tot Müller se analise is die Skotse Afrikaners se sendingidentiteit. Hierbinne het die Skotte, met die alombekende Murray-clan as spilpunt, deel geraak van die gemeenskap waarna hulle as gestuur gevoel het: die Afrikaners van die NG Kerk. Hier ontwikkel Müller ’n oortuigende argument rondom die hibriditeit van dié Skotte wat steeds hulle Britsheid behou, terwyl hulle assimileer as Afrikaners. Hierdie hibriditeit word deurgaans genavigeer en herbeding en plaas die Skotse Afrikaners in die ironiese posisie van invloedryke rolspelers in proto-Afrikaner-nasionalisme, segregasie, en apartheid, terwyl hulle volksvreemdheid later deur Afrikanernasionaliste soos DF Malan gebruik is om die Skotse invloed in die NG Kerk te verwerp. Dus is die verhaal van die Skotse Afrikaners, soos wat Müller dit beskryf, ’n spanning tussen verskeie identiteite, ideologieë en teologiese oortuigings.
The Scots Afrikaners span omvangryke literatuur met skatte uit die NG Kerk se argief saam, om ’n vars dog statige interpretasie van die kerk se geskiedenis te gee. ’n Mens sou meer sulke historiese werke wou sien wat berus op navorsing uit die NG Kerk se besonderse argief waarby min bewaarplekke in Suid-Afrika kan kers opsteek.
Beskikbaar via Edinburgh University Press.
Dr Ruhan Fourie is ’n postdoktorale genoot by die Internasionale Studies Groep aan die Universiteit van die Vrystaat.
