Dr Frederick Marais weet al van jongs af dat dinge in die kerk nie so kan aangaan nie. As agtjarige het hy dalk vir meer opwinding gehoop. Nou is sy droom een van transformasie wat met die hulp van reisigers, vroedvroue en dromers kan geskied, skryf Marileen Steyn
In Graad 2 staan Frederick Marais op ’n Sondag na kerk voor sy predikantpa en met die erns van die agtjarige, verklaar hy aan sy pa: “Ek weet en jy weet dit kan nie so aangaan nie. Hier moet ’n bietjie verandering kom.” Dit is tot ’n groot mate ook ’n tema in die volwasse Marais se lewe: Daar moet verandering kom. Daarom is transformasieleierskap ’n tema wat na aan sy hart lê.
Transformasieleierskap voel altyd vir my soos ’n groot woord. Dit is soos daardie hamburger wat jy ewe lomp probeer eet: Jy weet wat dit is, maar dit is amper te groot om aan te kou. In gesprek met Marais het ek egter besef dat transformasieleierskap, net soos my hamburger, in kleiner stukkies opgesny kan word sodat ek uiteindelik ook die kern daarvan kan geniet. Dit blyk dat hierdie tipe leierskap na drie rolle vra: die reisiger, vroedvrou en dromer.
’n Reisiger
In 2014 het ek drie maande in Amsterdam deurgebring. Ek het so uitgesien daarna dat ek vooraf die kaart van Amsterdam letterlik bestudeer het totdat ek ’n redelike greep van die stad en al sy belangrikste besienswaardighede gehad het. Op Dag 1 het ek presies geweet watter trem om te vat in watter rigting na watter plein. Verdwaal was nie in my woordeskat nie. Toe kom daardie een aand, toe ons om middernag nie meer ’n trem of ’n trein kon vang nie en ons verplig was om die bus na Jan van Galenstraat (waar ons hotel was) te neem. Daar in die middernagtelike ure het ons verdwaal. Jan van Galenstraat is toe effe langer as wat ons gedink het en wat 30 minute moes neem, het verander in twee en ’n half ure se ronddwaal op soek na ons tuiste.
LEES OOK: ‘Elders’ se rustelose totruskoms op Tuinroete
Marais beskou die onderskeid wat gemaak word tussen die kaart (wat ’n mens vooraf in die veiligheid van jou huis kan bestudeer) en die terrein (wat jy beliggaam moet deurmaak, soms in middernagtelike ure) as behulpsaam om transformasieleierskap te verduidelik. In ’n gemeente gaan dit nie soseer of die predikant alles vooraf bestudeer het nie, maar eerder of hulle die vermoë het om saam met mense in onbekende terrein en tye te reis, op soek na God se pad. “Dit is ’n kunsvorm om saam met mense te stap,” sê Marais. Hierdie saamreis is ’n transformerende reis waar mense gevra word om te verander. “Verandering kan nie met ander mense gebeur as dit nie met jou gebeur nie.”
Ek vra hom oor die angs wat predikante kan ervaar tydens hierdie reis in die onbekende; hulle vrees dat die gemeente hulle sal oordeel wanneer hulle nie die pad presies ken nie. Hierdie angs, verduidelik Marais, word deur die predikant op die gemeente geprojekteer. Hou op om jou te bekommer, meen hy. “Al wat jy kan doen wanneer die bus jou iewers aflaai, is om te probeer.”
LEES OOK: Doktorale navorsing nou ’n erflating aan die NG Kerk
Dit gaan eerder oor die ontspanne teenwoordigheid van die predikant as leier as wat dit gaan oor die perfekte pad. Marais kwalifiseer die stelling verder: Natuurlik beteken dit nie dat ’n mens roekeloos moet wees nie. Daar moet nog steeds vooraf sover moontlik voorberei word, maar wanneer jy jouself geblinddoek in die terrein vind, kan jy met rustigheid en in vertroue op God saam met jou reisgenote die pad soek.
’n Vroedvrou
Transformasieleierskap vra van predikante om nie net reisigers te wees nie, maar ook vroedvroue van verandering. Marais wys uit dat gesprekke met gemeentelede (en met mekaar) “geboortemomente” kan wees wat in die lig van die evangelie geïnterpreteer moet word. Die predikant is nie die bron van die verandering nie, maar eerder die een wat bloot die verandering fasiliteer, soos ’n vroedvrou.
Hierdie verandering het sy oorsprong in ’n konstante ongedurigheid met die stand van sake wat deur die Gees geïnspireer word, glo Marais. Dit is immers deel van die gereformeerde identiteit: om voortdurend te reformeer, te verander.
’n Dromer
Om te verander vra dromers; dromers wat glo dat ’n pad en ’n alternatiewe toekoms moontlik is. “Geestelike leiers moet kan droom. Jy gee jou energie tog vir dit wat jy glo die Gees vir ons gee.” Ons drome bepaal die manier waarop ons die pad aanpak.” Die droom wat die Gees gee trek ons dus vorentoe in hierdie drome en op hierdie paaie.
’n Pelgrim
Die reisiger, die vroedvrou en die dromer; wanneer hierdie drie in ’n kerk instap, mag transformasie in die gemeente en gemeenskap dalk net moontlik wees. Marais vat die drie saam in die metafoor van ’n pelgrim. “Jy is nog nie ’n pelgrim as jy nog nie verdwaal het nie,” lag Marais. Miskien is dit tog transformasieleierskap: om in hoop en vreugde te verdwaal.
- Prop Marileen Steyn is besig met doktorale studie in die Praktiese Teologie.
- Dr Frederick Marais is predikant in sinodale diens vir teologiese opleiding in die Wes-Kaap
Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
