Ligbaken Gemeente het op 1 Junie vanjaar tot stand gekom na vyf gemeentes ’n samewerkingsooreenkoms gesluit het. Hulle nuwe herontwerpte kerkgebou sal ’n gemeenskapsentrum wees waar “die ligte nooit afgesit word nie”, skryf Theo Veldman en Jan Gouws onlangs aan Kerkbode.
Hulle vertel self meer:
Binne ons betrokke gemeentes is voorstedelike kerkweesuitdagings van minder Afrikaanssprekendes, ouerwordende lidmate, veranderde gesinsamestelling (enkelouers, hersaamgestelde gesinne), sterk nabinnegerigtheid (my behoeftes op my terme) en krimpende finansies.
In ons omgewing is sigbaar die uitdagings van groeiende demografiese diversiteit, vereensaming, toenemende armoede en werkloosheid en stedelike verval.
Dan is daar ook die groeiende invloed van sosiale media én die negatiewe beeld van die NG Kerk weens allerlei interne spanninge en verdeeldheid.
Die uitdaging op die gesprekstafel was om anders te dink oor hoe ons as kerk van Christus ’n wesenlike en sigbare verskil kan maak in ’n dinamiese veranderende en onvoorspelbare wêreld. Hoe ons sout en lig vir en in die wêreld kan wees en steeds kerk van Christus bly?
Deur talle deurlopende, dringende onderlinge gesprekke oor drie jaar het ons eers ’n strategiese raamwerk vir ’n nuwe gemeente geformuleer waarna vyf (eintlik drie na onderlinge eenwordings) van die sewe gemeentes in die Ring van Turffontein in die suide van Johannesburg in ’n samewerkingsooreenkoms gegaan het om die verdere moontlikheid van samesmelting te ondersoek. ’n Oorweldigende positiewe uitslag het tot die totstandkoming van ’n nuwe gemeente, Ligbaken Gemeente, op 1 Junie 2022 gelei.
’n Langtermyn meesterplan spel sterk en duidelik ons identiteit uit as ’n lewenskragtige gemeente met die visie van die bring van geloof, liefde en hoop in die suide van Johannesburg uitgeleef in veelvuldige bedieninge (ons ‘pizza’-model). Dié identiteit is begrond in deurlopende vernuwing wat soepelheid, aanpasbaarheid en spoed in denke, besluite en optrede sal vereis om in te pas by ’n ander, nuwe wêreld.
Ligbaken Gemeente sal nie in ’n twee-uur-per-week kerkgebou gevestig wees nie, maar in ’n meerdoelige, multifunksionele 24/7/365 (‘die ligte moet nooit afgeskakel word nie’) gemeenskapsentrum in diens van en vir die gemeenskap. Vanuit die sentrum wil ons ’n verskeidenheid van behoeftes – geestelik, sosiaal, opvoedkundig, vaardigheid en noodverligting, om net ’n paar te noem – aanspreek.
Tans is ons besig om die kerkgebou van NG Gemeente Mondeor te herontwerp as ’n gemeenskapsentrum. Die proses word gefinansier deur die verkoop van die onbenutte kerkgeboue en pastorieë.
Ons is ook besig met die vul van ons predikantspos (aansoeke word tot 31 Oktober 2022 ingewag), asook die ander spesialisbedieninge in ons pizza-model.
Ons is in opgewonde afwagting onderweg in opdrag en biddende afhanklikheid van Christus wie se koninkryk ons wil laat kom in die suide van Johannesburg. Ons passie is die vestiging van Ligbaken Gemeente as nuwe gemeente wat toekomsfiks vir ’n dinamies veranderende en onvoorspelbare wêreld is. Ons wil verskilmakende sout en veral lig wees.
Theo H Veldman (theoveld@mweb.co.za) en Jan Gouws (jangouws@vodamail.co.za) is onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van die gemeenteraad van Ligbaken Gemeente.
