Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe onbeheerbaar het ons kinders geword?

Watter faktore dra daartoe by dat kinders met woedebuie sukkel of ander afknou? Ilse Ferreira vind meer uit oor die voorkoms van kinders met onbeheerbare gedrag by Henda van der Merwe, direkteur by CMR Gauteng-Oos.

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Lank gelede was dit die norm en het ouers dit daagliks toegepas.

Hedendaagse tendense is nou wel nie die teenoorgestelde nie, maar tog ’n baie ander soort verstaan van hoe kinders hul behoort te gedra, oftewel hoe om kinders op te voed.

Skole en onderwysers word maklik die skuld gegee vir gebrekkige dissipline; maar hoe lyk die kind se dissipline by die ouerhuis? Word daar hoegenaamd reëls vasgestel, en duidelike riglyne gegee waarbinne die kind weet hy moet beweeg? Verstaan die kind die verskil tussen aanvaarbare, en onaanvaarbare gedrag? Of is die kind onbeheerbaar?

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-oos, wys daarop dat die kinderbeskermingsorganisasie, met meer as 30 maatskaplike werkers in sy diens, in die laaste jaar ’n groot toename gesien het in kinders met onbeheerbare gedrag. “Ons statistieke toon ’n 77% toename in hierdie gevalle – wat al die grense oorskry, dit hou nie verband met een geografiese gebied, of kultuurgroep, of ouderdomsgroep nie.”

LEES OOK: Gesinne kan herenig – selfs na groot trauma

Wat is onbeheerbare gedrag – en wat is van die oorsake wat aanleiding daartoe gee?

Kinders wat met woede reageer, of ander afknou, en ander fisies aanval, is buite beheer. So-ook kinders wat op digitale media ander afknou. “Dit is jammer dat hierdie platforms juis ’n bykomende manier geword het waarop mense mekaar kan aanval, en emosioneel knou. Die feit dat dit digitaal gebeur, beteken dis gesigloos, en makliker om te doen,” verduidelik Van der Merwe.

Die vraag bestaan ook watter rol speel die gebruik van gewoontevormende middels soos alkohol en dwelms in hierdie gedrag? Daggagebruik word al hoe meer algemeen in jonger en jonger kinders. Laerskole kan getuig dat kinders selfs so jonk as tien jaar oud al daarmee kontak het.

Van der Merwe brei uit: “Die probleem word natuurlik aangevuur deur die feit dat dit al hoe makliker is om in die hande te kry. En kinders besef nie die gevaar van afhanklikheid nie. Hulle gebruik maklik iets net omdat hul maats sê dit sal hul lekker laat voel, en net ’n keer of twee se gebruik kan ’n kind verslaaf maak. Alkohol, aan die ander kant, is net so verslawend, en natuurlik baie makliker om in die hande te kry.”
Maatskaplike werkers gaan ook gebuk onder ’n lading groterwordende gevalle – en daar is ’n tekort aan rehabilitasie/sorgfasiliteite, voeg van der Merwe by.

LEES OOK: Só verwoes dwelms oud en jonk

Maar wat dra daartoe by vir ’n kind om ’n gewoontevormende middel te gebruik? Kinders en tieners wat probleme met skoolwerk ervaar, of sosiale probleme het, soek na antwoorde om die situasie te hanteer. So baie kere is ouers ontoeganklik, of dalk selfs die oorsprong van die probleem – en die maklikste antwoord is om ’n middel te gebruik, wat die emosionele pyn wat die kind ervaar, verdoof. “Een van ons uitdagings is ouers wat weier om te glo hul kind het ’n probleem – of dit nou dwelmverwant is of net gedragsprobleme is,” verduidelik Van der Merwe.

“Ouers wat min aandag aan hul kinders gee, dra ook by daartoe. As ’n kind se emosionele tenk se vlakke goed is, sal daaglikse probleme hom nie onderkry nie – en sal hy nie geneig wees om na antwoorde te soek deur middels te gebruik nie.”

  • Ilse Ferreira is ’n mediakonsultant vir CMR Gauteng-Oos.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top