Só verwoes dwelms oud en jonk

“Ons sien nou al gevalle waar daar drie generasies dwelmverslaafdes in ’n familie voor­kom,”volgens Charlé Schurink, maatskaplike werker van CMR Gauteng-Oos se Lyttelton-tak. Sy verwys hier na ’n kind wat deur sy verslaafde ma verwaarloos is en ander veilige heenkome moes vind, maar die kind se tannie en ouma is ook verslaafdes- en so word die spreekwoor­delike stokkie al langs generasielyne aangegee.

Die aantal kinders wat weens dwelm­afhanklikheidsprobleme in die gesin verwyder moet word, is besig om krisisafmetings aan te neem, volgens Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos. Die Lyttelton-tak moes in een week soveel as sewe kinders verwyder weens verwaarlosing en selfs kindermishandeling.

Schurink sê ouers wat middelafhanklik is, is ’n gevaar vir hul kinders. Sy vertel van ouers wat hul dogters dwing om prostitusie te beoefen om geld te kry, en selfs ’n ma wat haar baba probeer verkoop het vir geld om haar volgende “fix”mee te kan koop.

Sy voer aan dat ’n kind wat reeds op laerskool dagga rook ’n skrale kans staan om nie later in sy lewe van dwelms afhanklik te word nie. Daar word algemeen aanvaar dat dagga die “gateway drug” is wat die weg baan na afhanklikheid van sterker dwelmmiddels soos kokaïne en heroïne. “Dit is eg­ter nie die enigste faktor wat ’n rol speel nie,”verduidelik van der Merwe. “Nie alle daggagebruikers raak aan ster­ker middels verslaaf nie.”

Sommige meen dat die onlangse wetgewing, wat die gebruik van dagga onder bepaalde omstandighede wettig, boonop die indruk sal versterk dat daggagebruik nie gevare inhou nie. Maar ’n persoon wat sy probleme met bedwelming probeer aanspreek, sal selde stop as hy eers daaraan gewoond geraak het, maan hulle. Alkohol en oor-die-toonbankmedikasie val in die­selfde kategorie.

Tieners ervaar die bykomende pro­bleem van groepsdruk. As sy/haar maats ’n middel gebruik, en nie in die moeilikheid beland nie, hoekom sal hy/sy nie ook so uitkoms soek van sy/haar omvermoë om probleme op te los nie? “Hier is die vaslegging van gesonde waardes tydens die grootwordjare van kardinale belang,” sê van der Merwe.

“Een van die onderliggende pro­bleme is juis ’n ‘disconnect’ wanneer ’n kind nie die nodige ondersteuning en liefde ervaar nie. Om na ’n middel te gryp word die maklikste uitweg. Lange jare reeds is dit aan mense wat met verslaafdes werk, bekend dat men­se middels gebruik om dit wat hul nie kan hanteer nie, die hoof te bied. In stede daarvan om vaardighede aan te leer om emosionele/psigiese pyn te hanteer, word ’n middel gebruik om die pyn te (ontsnap).”

Navorsing wat by die Western Sydney Universiteit in Australië gedoen is, het getoon dat daar ’n chemiese ver­band bestaan tussen langtermyn daggagebruik en psigose, wat kan lei tot skisofrenie. Die navorsing wys dat strawwe daggagebruikers ’n vier keer groter risiko het om psigose te ontwikkel. Veral tieners en jong volwassenes is in gevaar omdat hul breine nog groei.

Juis in die lig hiervan, verduidelik Van der Merwe, behoort almal van ons alles wat ons kan, in die stryd te werp om te voorkom dat kinders in verslawende middele antwoorde begin soek om hul uitdagings die hoof te bied.