Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Eddie Willemse, ’n fikse oud-soldaat, het in November meer as 700 km op ’n geleende bergfiets getrap ten bate van kankerpasiënte wat swaar kry in die Noord-Kaap. Foto's: Verskaf

Fietstoer met ’n doel: Ouderling (60) van Upington trap sowat 700 km om geld in te samel vir kankerorganisasies

Hy sal dit weer doen, sê Eddie Willemse, ’n fikse oud-soldaat wat onlangs meer as 700 km op ’n geleende bergfiets getrap het ten bate van kankerpasiënte wat swaar kry in die Noord-Kaap.

Omdat hy twee jaar gelede sy ma en ’n broer aan kanker verloor het, het hy ingestem om hierdie buitengewone fondsinsameling van 27 November tot 3 Desember aan te pak, vertel Willemse (60), ‘n ouderling by die VGK gemeente op Upington.

Eddie (heelregs) saam met sy vriend, Jakes Nakoo en sy vrou Susanna. Die twee vriende het beide mense na aan hulle aan kanker verloor.

Die roete het op sy tuisdorp langs die Oranjerivier begin om sewe dae, ’n sandstorm en twee pap wiele later te eindig op Kuboes in die Richtersveld.

Die pa van drie is eintlik ’n drawwer, vertel hy by navraag vir Kerkbode. Willemse sê sy belangstelling in fietsry het begin kort voor sy aftrede in Oktober na 40 jaar diens by die weermag. Ver van ‘oud en koud’ het hy gewonder, “hoe sê ek vir die Here dankie vir soveel jare wat ek gewerk het” en fietsry lyk toe ’n goeie manier om nader aan God in sy skepping te kom.

Lees ook: SkyRun met ‘n doel: Lidmaat van Pretorial hol 100km om geld vir gemeente in te samel

Só hy kry toe ‘n idee om met ’n fiets en ’n eenmantent sy kop skoon te trap tot in Alexanderbaai. Dit was sy goeie Kaapse vriend, Jakes Nakoo, wat ook onlangs iemand aan kanker verloor het, wat toe voorstel dat Willemse sy fietstog gebruik om mense bewus te maak van hoe swaar kankerlyers in die Noord-Kaap kry en om fondse in te samel vir organisasies wat kankerpasiënte help.

By die gemeente van Kakamas.

Willemse vertel op verskeie dorpies is hy en sy span gul deur die lidmate van die plaaslike VGK-gemeente ontvang, maar saam met die lag was daar ook trane. “Daar is baie hartseer verhale … ons mense sterf uit aan kanker,” vertel Willemse. In die Noord-Kaap maak die groot afstande, armoede en min kankersorgfasiliteite dit vir baie inwoners moeilik om die regte sorg te ontvang wanneer hulle of geliefdes siek raak.

“Ek het vir hulle gesê my trap gaan met soveel pyn gepaard … maar ek ken nie die pyn waardeur julle gaan nie…”, vertel dié tawwe oud-soldaat, en voeg by hy sal dit weer doen.

Nuus van hierdie projek het tot die ore van die SABC bereik en foto’s van sy vordering is ook wyd op sosiale media gedeel.

Met die fietstog suksesvol afgehandel, gaan die fondsinsameling nog voort op ’n Backabuddy-blad waar mense tot einde Desember skenkings kan maak. Teen 12 Desember het die ingesamelde bedrag op R13 739.67 gestaan.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top