Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wanneer jou geleefde belewenis van ’n situasie afgewater, geïgnoreer of selfs ontken word, kan dit as “gaslighting” bestempel word.

‘Gaslighting’: Kyk uit vir hierdie kopsmokkelaars – ook in die kerk!

Wanneer jou geleefde belewenis van ’n situasie afgewater, geïgnoreer of selfs ontken word, kan dit as “gaslighting” bestempel word en dit kan gebeur binne verhoudings by die huis, werk en ook die kerk, berig Heléne Meissenheimer.

Wat is “gaslighting” in Afrikaans?

Dit gebeur dikwels in omgewings waar daar op ’n manier ’n magswanbalans is. Só verduidelik Kaapse sielkundige dr Elize Morkel haar verstaan van die hedendaagse gonsterm “gaslighting” wat ook as “gasbeligting” of as kopsmokkel in Afrikaans gevind word. As iemand met jare se ervaring in verhoudingsterapie asook in kerkleierskap is sy goed geplaas om ook ’n meer kerkeie perspektief te bied.

Die term duik deesdae oral op en ’n vinnige Google-soektog bring jou by nut-artikels met wenke oor alles van hoe jy as ouer kan keer dat jy jou kind gasbelig tot glansnuus oor die Britse koninklike egpaar Harry en Meghan wat beweer hulle is slagoffers van “institusionele gasbeligting”.

In November het die Amerikaanse woordeboek Merriam-Webster “gaslighting” as hulle woord van die jaar vir 2022 gekies na ’n 1740% toename in soektogte oor die term en daar is diegene wat meen dit is iets waaroor ook in die kerk gepraat behoort te word.

“Kerke laat mense goed oor hulleself glo wat miskien nie waar is nie,” meen Nicole Dickson, ’n pastorale terapeut in Pretoria met ’n passie vir gemeentesorg. “Hulle marginaliseer mense onnodig … ek dink kerke kan mense gasbelig op grond van teologiese en kulturele verskille, gender- en geslagsverskille en so meer.”

Vir ds Rethie van Niekerk van Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha verwoord die term die ervaring van so baie vroue wat voorheen moes hoor die Here roep nie vroue om predikant te word nie, “maar die Here het my – teen my sin – geroep en oor en oor my roeping bevestig.”

Een vrouepredikant wat anoniem wou bly het Kerkbode vertel hoe sy ’n verhouding moes verbreek omdat haar vriend die kennis dat sy soms haar eie emosionele belewenis van gebeure wantrou, misbruik het.

Wat is “gaslighting”?

Die term se oorsprong lê by ’n 1938-toneelstuk, Gaslight (waarvan ’n filmaanpassing in 1944 gemaak is met Ingrid Bergman in die hoofrol), waarin ene Gregory met hulle huis se gasbeligting peuter om sy veel jonger vrou, Paula, te laat glo dat sy besig is om mal te word sodat hy haar erfporsie kan kry. Elke keer as sy opmerk die ligte raak dowwer maak hy dit af as haar verbeelding totdat sy later aan haar eie belewenis van wat werklik is begin twyfel.

Die Amerikaanse sielkundige dr Robin Stern se boek, The Gaslight Effect (2019), word wyd geakkrediteer vir die tweede lewe wat die gebruik van die term tans geniet. In haar boek verduidelik sy in haar ervaring is min ‘gasbeligters’ bewustelik so diabolies soos Gregory, maar wat sy nuttig vind is Paula se intense behoefte aan haar man se goedkeuring. Haar idealisering van hom maak dat sy onwillig is om te glo dat hy haar doelbewus sal mislei.

Stern verduidelik die term het haar gehelp om ’n naam te gee vir die ooreenkomste wat sy opgemerk het in die stories van veral vroue wat by haar om hulp kom aanklop het. Daar sal ’n gasbeligter wees wat nodig het dat sy/haar weergawe van die werklikheid geglo word en een wat mislei word omdat hy/sy so graag die ander se goedkeuring soek.

“Gaslighting” en narsisme

Narsiste, byvoorbeeld, sal ’n verdraaiing van die werklikheid gebruik om mense emosioneel te manipuleer. Morkel sê as terapeut sien sy ook meestal dat dit vroue is wat slagoffers is van gasbeligting in huweliksverhoudings, maar dit kan in enige verhouding kop uitsteek waar daar op ’n manier ’n magswanbalans is.

“Die persoon wat mislei word, twyfel binne so ’n verhouding aan hulle eie realiteite omdat ’n gesagsfiguur dit ontken of ignoreer. Wat nog meer twyfel en magteloosheid veroorsaak is die besef dat die persoon met meerdere mag meer geredelik geglo gaan word waar ervarings en gebeure verskillend gerapporteer word,” verduidelik Morkel by navraag aan Kerkbode.

Morkel sê wat sake verder bemoeilik is dat ons in ’n samelewing leef wat sukkel met grys areas. Dat daar verskillende kante tot ’n saak kan wees oftewel dan verskillende belewenisse. Ons verskillende komvandaans maak dit feitlik ’n gegewe.

Soos Morkel dit stel: “Ons sukkel om mekaar se realiteite te aanvaar en erken … veral as dit verskil van wat vir ons bekend of aanvaarbaar is.”

“As iemand met ons verskil is ons gou om die saak af te maak met ‘ek het dit nie so bedoel nie’ … daarmee ontken ons die ander persoon se ervaring,” sê sy in antwoord op die vraag hoe mense kan maak om mekaar te midde van allerhande verskille te vind.

“Dit gaan nie oor jou intensie nie maar jou verantwoordbaarheid vir die maniere waarop jou woorde of aksies die ander persoon geaffekteer het … om met begrip te luister is deel van goeie kommunikasie. Dit is natuurlik ook belangrik om te onthou dat mense se ervarings en kennis verskil en dat daar nie net een regte antwoord op ’n vraag is nie!”

Hoe om jou vermoedens te toets

Prof Paige Sweet, ’n Amerikaanse sosioloog, en ander bronne maak die volgende aanbevelings op die Forbes-webblad:

  • Vertel soveel as moontlik mense wat jou ervaring is om te toets of jou waarneming gegrond is.
  • Bly in kontak met familie en vriende. Vermy ’n situasie waar jy geïsoleerd van ander is.
  • Hou gereeld dagboek.
  • Reik uit na hulporganisasies as jy jou in ’n situasie bevind waar jy psigies of fisies bedreig word.

Lees ook die artikel, Narsisme, empatie en selfprysgawe.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top