Narsisme, empatie en selfprysgawe

’n Mens kan diegene wat tot die ekstreem sonder empatie lewe, as boos beskou, skryf Francois Preiss

Gedurende Lydenstyd gedenk die kerk van die Here Jesus Christus hoe Hy aan die kruis in ons plek gesterf het. En dit is hierdie offer wat ons red. Lydenstyd is ’n tyd van refleksie oor hoe wonderlik dit was wat daar op Golgota gebeur het, want Christus se offer was nie alleen effektief nie, maar ook volmaak en ’n bewys van sy liefde vir ons. Maar ons moet ook bedink wat dit beteken om in sy voetspore te volg. Want buiten ons Verlosser wat Homself prysgegee het, is Hy ook ons Voorbeeld. En vir seker word ons as volgelinge van Christus ook opgeroep tot ’n lewe van selfprysgawe.

Wat is empatie?

Hoe kan ons as mense met wisselende grade van empatie ’n lewe van prysgawe lei? Met empatie bedoel ons die vermoë om jou in die plek van ’n ander te plaas.

Simon Baron-Cohen se definisie lui soos volg: “Empathy occurs when we suspend our single-minded focus of attention, and instead adopt a double-minded focus of attention.” Dit beteken dat jy iemand anders se denke terselfdertyd met jou eie denke in ag neem. Wanneer jou empatie-skakelaar af is, dink ons net aan ons eie belange. Empatie is ons vermoë om te kan identifiseer met wat iemand anders dink of voel en daarop te reageer met ’n geskikte emosie. Dit is moontlik dat mense gevange geneem word deur hulle selffokus. As ’n kortstondige emosie is dit aanvaarbaar, maar ’n volgehoue gebrek aan empatie is nie. Diegene wat tot die ekstreem sonder empatie lewe, kan ons as boos beskou.

Ons leef in ’n sosiale wêreld waar ons elke dag interaksie met mense het. Met watter empatie tree ons op teenoor gesinslede, ons mede-christene, kollegas, vriende, bure of ’n vreemdeling wat ons pad kruis? Hoe goed vaar ons as dit kom by empatie? Is daar hoop dat ons deur inlewing in die nood van ander van hierdie wêreld ’n beter plek kan maak?

Die twee goed waaroor dit hier gaan is zero empatie en selfprysgawe.

Persoonlikheidsteurnisse

Ons kies die narsistiese persoonlikheidstipe as aanduiding vir zero empatie. Maar voor ons praat oor die narsistiese persoonlikheidsteurnis moet ons eers iets sê oor persoonlikheidsteurnisse self.

Die meeste mense is goed aangepas en kan voldoen aan die vereistes en verwagtinge van die samelewing. In teenstelling hiermee is daar sekere individue wat nie noodwendig die voor die hand liggende simptome van ’n steurnis toon nie, nogtans sukkel hulle om volledig funksionerende lede van die samelewing te wees. Vir hierdie mense het persoonlikheidsformasie verkeerd geloop in so ’n mate dat hulle nie in staat is om aan die gepaste rolle wat verskillende gemeenskappe van hulle vra, kan voldoen nie (Carson, Abnormal psyhcology).

Narsisme

Wanneer ons praat van zero empatie kom die donker kant van menswees in die spel – spesifiek en onder andere soos dit beliggaam word in die Narcissistic Personality Disorder (NPD). Dit is belangrik om te onthou dat dit nie maar net ’n sosiale lastigheid is nie, maar inderdaad ’n persoonlikheidsteurnis. Die gebrek aan empatie word as een van die drie belangrikste eienskappe vir die diagnose van ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring beskou. Vir narsiste is empatie onmoontlik, want sy enigste perspektief is dié wat gesentreer is in homself. Hulle beskou ander mense as verlengstukke van hulleself. Ander mense se gevoelens laat hulle koud. Daar is weining aanvoeling vir die onafhanklike bestaan van enige persone buite hulleself. Hulle het net oë vir hulleself. En dit is veral ’n gebrek aan empatie wat probleme skep. In ’n e-pos het die lemnaeler Oscar Pistorius erken dat hy nie daaraan gewoond was om aan ander mense se gevoelens te dink en dit in ag te neem nie. Christopher Lasch, wat bekendheid verwerf het vir sy boek The culture of narcissism, skryf oor die narsis se lewe as “emosioneel vlak”. Skynbaar het Pistorius dwarsdeur sy hofsaak geen empatie betoon nie (sien André le Roux se boek Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste). Alles het oor homself gegaan en nie oor wyle Reeva Steenkamp nie.

Ekstreme narsiste vertoon ’n blatante gebrek aan belangstelling in ander, ’n emosionele koudheid. Soos die titel wat die biograaf Paul Johnson oor Bertolt Brecht gegee het: A heart of ice. Hoe minder empaties hulle is, hoe minder gesond is hulle. En wanneer hulle empatie betoon, is dit vir die skyn. Of hulle empatie is aangeplak om iets uit jou te kry. Daar moet onthou word dat narsiste uitstekende toneelspelers is. Hulle het ’n sterk behoefte aan bewondering. Hulle hou van ’n gehoor. Hulle is selfbemarkers en uitbuiters en het ’n gebrek aan empatie. Volgens die DSM-5 kan of wil hulle nie met die gevoelens van ander mense identifiseer nie. Hulle besef dikwels nie wanneer hulle mense seermaak met kwetsende opmerkings of beledigings nie. Simon Baron-Cohen praat in sy boek van “empathy erosion”. Hy doen dit omdat hy die woord “evil” wil vermy.

Ek wil tog dat ons die begrip “evil” behou omdat dit ’n religieuse begrip is.

M Scott Peck skryf verhelderend hieroor in sy boek People of the lie. Hy skryf oor patologiese narsisme as ’n komplekse en belangrike onderwerp. En dan verwys Peck na Erich Fromm wat gepraat het van “malignant narcissism” (kwaadwillige narsiste). Die woord malignant is afkomstig van die woord “malign” afkomstig van die Latynse woord “malus” wat “evil” beteken. Die narsistiese persoon is “evil”. ’n Narsis kan jou lewe hel maak. ’n Hedendaagse voorbeeld is stellig die Amerikaanse president, Donald Trump, met sy lae vlakke van empatie.

Selfprysgawe

Maar wat sou die teenoorgestelde wees van zero empatie? Om ons hiermee te help steek ons lig op by prof George Ellis. Hy is veral geïnteresseerd in die wisselwerking tussen die wetenskap en teologie. In 2004 ontvang Ellis die Templeton-prys wat akademici beloon vir navorsing oor die spirituele dimensie van die menslike bestaan. Ellis het hom besig gehou met die vraag: Wat is die ware aard van moraliteit? Hy ontdek uit die boek Filippense dat dit kenosis moet wees. Hy beskryf kenosis as selfopoffering en prysgawe.’n Klompie jare gelede het prof Piet Naudé by die Wes- en Suid-Kaapse Sinodesitting op die poduim gestaan en die volgende gesê: “Die kerk moet ’n kenotiese kerk wees!”

Dit is ’n kerk wat haarself weggee vir andere. Hierdie kenosis is “om jouself te ontledig” (OAV). En dit is wat Christus gedoen het. Christus die Hoogste het die Laagste geword. Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Christus het Homself prysgegee.

Wat onsself betref gaan dit oor ’n lewe van kruisdra. Telkens kom die apostel Paulus terug na die gesindheid van Christus wat ook in ons moet wees. Ek soek nie my eie belang nie, maar die van baie ander, sodat hulle gered kan word” (1 Kor 10:33). Beide Jesus en Paulus het ’n radikale selfprysgawe-etiek geleer en geleef. Hoe is so ’n lewe van prysgawe moontlik? Alleen deur die wedergeboorte. In plaas van ’n hart van klip benodig ons ’n hart van vlees. Ons lees in Esegiël 36:26 (NAV):”Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.”

Die ware mens, volgens die pastorale teoloog dr Kobus Anthonissen volg die weg van die liefde. Hy noem dat vir moderne mense, met hulle oordrewe selfsug, klink hierdie opdrag van liefdevolle selfprysgawe vreemd. Liefde is die weg om van jouself afskeid te neem en jouself te gee in verhouding met ander.

Is ’n ekstreme narsis wat met hierdie patologie lewe in staat om te verander? Die algemene siening is dat narsiste nie verander kan word nie. Dit is die siening van baie. Nie omdat ons die krag van die wedergeboorte onderskat nie, maar omdat ons rekening hou met die werklikheid van ’n gebroke wêreld en met die leer oor die eindtye. Daar is algemene instemming onder kenners van die Nuwe Testament dat daar ’n spanning bestaan tussen “nou” en “nog nie”. Die spanning wat bestaan tussen die huidige era en die hoop van die toekomstige era is beide teenwoordig deur die geloof. Die huidige era is besig om verby te gaan en die nuwe is aan die kom, maar moet in sy volheid nog deurbreek.

Eendag sal ons in die hemel by God wees en sal die nagmerrie van sonde en die gevolge van sonde vir altyd verby wees. Alister McGrath stel dit soos volg: “For Paul there is an element of postponement: The ultimate transformaton of the world is yet to come, but may be confidently awaited.” Om dit nog ’n keer te sê: Volkome heelheid van liggaam, siel en gees is ons nie beskore in hierdie bedeling nie. Daarvoor moet ons wag. Met vertroue en hoop.

  • Francois Preiss is ’n oudpredikant en konsultant in leierskapsopleiding.

One thought on “Narsisme, empatie en selfprysgawe

  1. Francois Preiss vestig ons aandag op die betekenis van KENOSIS in Fil. 2:7 soos verstaan deur Prof. George Ellis en Prof. Piet Naude.

    ‘n Ontslape teologiese professor van Stellenbosch prof. Jac.J.Müller se proefskrif het gehandel oor die christelike kenosisleer sedert die Reformasie. Van belang was onder andere sy siening dat Christus by sy menswording sy goddelike status op so ‘n
    wyse prysgegee het dat Hy die menslike gestalte van ‘n slaaf bygekry het. Hy het niks verloor van sy goddelike waardigheid nie maar is toegeval en ingeperk deur menslike swakheid en verganklikheid wat sy hemelse aard verduister het..

    Dit het dan daartoe gelei dat die volheid van die liefde van God kenoties deur ‘n menslike gestalte moes realiseer. So het die Heilige Gees hierdie wonder van goddelike erbarming aan die mens toevoeg om sy medemens op dieselfde wyse te kan betrek.

    Ongelukkig word die diepgang van die betekenis van die kenosis vervlak deurdat Francois die beskouing van dr. Kobus Antonissen oor selfprysgawe hierby inlaat. Antonissen praat van “liefdevolle selfprysgawe”. Wat is dit? Volgens berig blyk dit asof hy daardeur die liefde sien as ‘n weg waar afskeid van jouself geneem word. Maar liefde laat eenvoudig nie so-iets toe nie. Liefde skei nie. Dit vul eerder aan. Dit bring by en dra vrug. In die beskouing van prof.Muller is kenosis altyd dan ook te verstaan as ‘iets wat bygevoeg word om die liefde van Christus as slaaf aan ander slawe effektief uit te dra.

    Om die daad van selfprysgawe “liefdevol” te noem is om die smart van die kruis nie goed te verstaan nie. Sou ons ‘n liefdevolle aanvaarding van Christus verwag het op die oomblik toe Hy besef het dat sy Vader hom verlaat het?

    Die probleem wat die pastorale sielkunde vandag skep is om die nouweg van selfverloëning en kruisdra maklik en breed oop te stel vir die post-moderne mens. Dit is soos om die kokon waarin die vlinder worstel om uit te kom vir hom “liefdevol”
    oop te breek en te reken dat so ook jou naaste in sy swaarkry empaties gehelp kan word na selfverwesenliking en vryheid. So egter verloor die vlinder die vermoë om sy vlerkies te staal en oop te span vir die vlug na buite.

    Die kerk het teenswoordig ‘n diepe selfondersoek nodig ten opsigte van haar hele kreatiewe benadering tot medemenslikheid. Die besluit van die onlangse algemene sinode oor selfdegeslagverhoudings is vir baie lidmate ringe en streeksinodes die piek van tragiese minagting vir die Woord.

    Kenosis leer ook selfliefde maar dan volgens die vevulling van die wet. Anders is die liefdevolle omarming van die wettelose naaste niks anders nie as verskuilde narsissime.

    VDM emeritus Reddersburg

Comments are closed.