Dr Jannie Theron is in ’n stabiele maar ernstige toestand weens beserings wat hy Maandagoggend opgedoen het toe hy tydens ’n drafsessie raakgery is deur ’n motoris wat glo deur ’n rooi verkeerslig by ’n besige kruising in Northcliff, Johannesburg gery en daarna weggery het.
Sy jongste seun, Coetzee Theron, het by navraag vir Kerkbode vertel “dit gaan onder omstandighede goed” met sy pa, sy toestand is stabiel.
Hy is saam met sy broer LJ en hulle suster ds Sunell Ribbens by hulle ma Annelize om haar te ondersteun. “Ons hoop net my pa word beter,” het hy gesê vanuit Milpark-hospitaal waar sy 61-jarige pa Dinsdagmiddag ’n tweede operasie ondergaan het.
Ds Ribbens is leraar by NG Kerk PE-Hoogland wat in ’n plasing Dinsdag op hul Facebookblad skryf hy is in ’n koma. “As geloofsfamilie bid ons vir ds Sunell en haar familie,” lui die plasing verder.
Haar pa het Maandagoggend soos sy gewoonte is met Beyers Naudérylaan langs gedraf na sy oefengim toe die botsing gebeur het. Dr Jurie Schoeman, sy medeleraar vir die afgelope drie jaar by Aan-die-berg NG gemeente in Northcliff, bly stapafstand van waar dit gebeur het.
Hy vertel Kerkbode by navraag ’n onbekende man het hom die oggend by die huis kom roep dat hy moet kom kyk ‘the pastor is lying in the road’ waarop hy dadelik soontoe is, maar aanvanklik nie die ernstig beseerde drawwer in die ambulans as sy kollega herken het nie.
Hy het egter geweet dit is Theron se gebruiklike drafroete soggens na sy gimnasium. Na drie oproepe na sy kollega se selfoon onbeantwoord gebly het, het Schoeman vir Theron se vrou Annelize, ’n opgeleide suster, gekontak wat toe kon vasstel haar man is in Helen Joseph-hospitaal opgeneem. Hy is hiervandaan oorgeplaas na Milpark-hospitaal.
Schoeman meen die raaisel oor wie sy kollega raakgery het is moontlik opgelos danksy ’n CCTV-video-opname van die oggend se gebeure wat vir hulle beskikbaar gestel is. Daarop kan glo gesien word hoe ’n blou Ford EcoSport by die besige verkeerskruising op Beyers Naudérylaan ten spyte van ’n rooi verkeerslig die kruising oorsteek en vir Theron hard tref.
Schoeman hoop dat regsaksie hieruit mag volg want hy meen “mense vat kanse by daardie kruising”.
Intussen neem hy, self pas afgetree, in sy vriend se plek waar as leraar by die gemeente waar hulle altwee geestelike leiding geneem het sedert dit in 2018 tot stand gekom het uit die NG gemeentes Linden en Aasvoëlkop.
“Dit is swaar,” sê Schoeman. “Ek het nog nooit so ’n lekker kollega gehad nie. Hy is ook ’n begaafde teoloog en pastoor,” sê hy oor sy Vrystaatgebore vriend.
- Die berig is aangepas na plasing.
All sterkte dr. Jannie! Mag u die Here se teenwoordigheid beleef en sy genesende aanrakingskrag op ‘n wonderbaarlike manier ervaar!
Bid vir spoedige herstel vir Ds. Theron.
Dink aan sy familie.