Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Nico Smit van Dalpark Kaléo Gemeente skryf:
Ek is onlangs besig om ’n groep jonger predikante op te lei in FaithStyle. Dit is Bybel-Media se inisiatief om mense te help en toe te rus om hulle geloof te kan verwoord en te verstaan.
Die groep begin toe oor beroepe oor die algemeen gesels wat geadverteer word in Kerkbode. Een van die predikante maak toe die aanmerking dat sy al in dié jaar van 2023 vir ses poste aansoeke gedoen het, maar sy neem aan dat sy nie vir één bevoeg of bekwaam is nie, want van die ses gemeentes het net een haar laat weet sy is onsuksesvol. Die res het haar nie eens laat weet dat haar aansoek onsuksesvol was nie.
Dit is toe die algemene indruk van die groep … dat elkeen al aansoek gedoen het en dan maar in die amptelike nuus van Kerkbode moet lees wie beroep is en nie eens ’n e-pos (of WhatsApp) ontvang het dat hulle aansoek onsuksesvol was nie.
Ek het nog weinig in ’n beroepsadvertensie van ’n gemeente gesien dat daar geskryf staan dat as daar binne drie of vier weke geen terugvoer is nie, die aansoeker moet aanvaar dat die aansoek onsuksesvol was nie.
En dit laat my wonder, raak ons nie net meer en méér soos die sekulêre wêreld ook in ons beroepingsproses nie? Veral as dit by aanstellings en beroepe kom. Ek is geleer die kerk werk anders, want die kerk ís anders. Glo ek dit nou nog? Ek wil met my hele hart.
Maar as gemeentes nie eens die moeite kan doen om ’n eenvoudige e-pos terug te stuur nie, dan weet ek nie.
Gemeentes se eerste sinnetjie is 99%, altyd: “In biddende afhanklikheid.” ’n Sin waarmee ek nie gemaklik in die eerste plek is nie, maar moet ons dan nie maar as gemeentes begin byvoeg dat ons ook in dié “biddende afhanklikheid” onsuksesvolle kandidate in kennis sal stel, want as liggaam van Christus bid ons vir elkeen om op die plek te kom waar die Here hulle wil hê en gebruik om sy koninkryk te laat groei nie.
Ek het na die jong predikante geluister. En kon vereenselwig, want ek is ook al deur ’n beroepingsproses of twee en baie het nie eens dankie gesê vir my CV nie of laat weet dat ek onsuksesvol was nie.
My punt is, as ons wil sê: “in biddende afhanklikheid” kom ons bedoel dit. Kom ons bly bid dat die regte persoon die beroep sal kry, maar dat ander aansoekers darem ’n e-pos of WhatsApp ontvang om dankie te sê vir die moeite met hulle aansoek en dat ons vir hulle óók bid.
Dit is my gebed op die stadium vir die beroepingsproses binne die kerk van die Here Jesus.
