Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Mias Nortier van Jacobsdal skryf:
Tydens vanjaar se Groot Lydensweek probeer ons om met al die sintuie die evangelie te beleef. Van voetewas, saam Paasete eet, die liturgiese ruimte met simboliek te belaai.
So skrik ek as dominee toe ek Sondag hoor die span beplan om ’n lewendige donkie te bring om Jesus se intog by Jerusalem uit te beeld. Ek dink by myself: “Wat as die donkie verhoogvrees ervaar en weier om te loop? Of wat as die donkie besluit dat die mense in die kerkgebou hom te senuweeagtig maak en dan bemors hy die matte?”
Gelukkig het die donkie homself goed gedra en kon jonk en oud op ’n unieke wyse Palmsondag ervaar. Ek is seker die jongspan sal nooit hierdie besonderse dag vergeet nie.
