Dit is bitter om te erken dat ons gemeentes besig is om die kapasiteit te verloor om voltydse predikante te kan bekostig, maar dit is die werklikheid van baie plattelandse gemeentes in die Noord-Kaapland, skryf Estian Mentz.
Die landskap van die kerk is besig om te verander …
’n Mens hoor dit op verskillende plekke, in verskillende gesprekke, by verskillende mense … ook tydens ’n onlangse bedienaarskursus aangebied in Kimberley.
Een van die maniere hoe hierdie landskap besig is om te verander, is juis die nuwe bane van teologiese opleiding. Die bedienaarskursus, wat deur Hugenote Kollege aangebied word, bied byvoorbeeld aan lidmate van ons kerk die geleentheid om opleiding te kry in prediking, pastoraat, jeugwerk of diakonaat om sodoende jou plaaslike gemeente te help om vooruit te beweeg.
Lees ook: Hugenote Kollege vier eerste ‘eie’ gradeplegtigheid
Die bedienaarskursus kan aanlyn gevolg word, maar hier in die Noord-Kaap wil ons mense bymekaar wees. Soos een oom eenkeer genoem het, die “Zoom-besigheid” is nie vir ons heeltemal die oplossing nie.
Daarom het nege deelnemers vir ’n hele naweek saam kom dink, droom en bid oor verskeie konsepte of idees wat deur die program op die tafel geplaas word. Prof Hannes Knoetze van die Universiteit van Pretoria het dit aangebied. Sy aanvoelbare passie wat hy het vir hierdie nuwe bane in teologiese opleiding maak ’n mens saam ook opgewonde daaroor.
Prof. Knoetze vertel my dat hy ons manier van doen verkies. “Want daar gebeur iets in die groep as hulle so saam moet werk, daar is iets aan ons bymekaar wees,” sê hy toe ek hom vra hieroor. Dit maak vir my sin, want ek woon ook die hele naweek by, en beleef elke oomblik saam met die groep asof ek ook die kursus deurloop.
Die eerste naweek gesels ons oor die bou van ’n sterk gereformeerde fondasie met ’n spesifieke fokus op die gereformeerde Godsbegrip. Die gesprekke wat plaasvind is diep en laat ’n mens nadink oor die rol wat God speel in die lewe van mense van die Noord-Kaap. Iemand het eenkeer gesê ons is maar eenvoudige mense, ons leef naby die grond, en van die grond af wat die Here vir ons gee.
Tydens die daaropvolgende naweke gaan opleiding volg in die Gereformeerde kerkbegrip, hermeneutiek en prediking.
Die derde geleentheid wat in die kursus aangebied word, bied vir studente die geleentheid om te kies tussen een van die vier bane. Die groep wat vanjaar begin het met hierdie reis is almal ingeskryf vir die predikingbaan, en kan na afloop van hierdie eerste kursus die ander modules ook voltooi om sodoende die volledige opleiding van al vier bane te ontvang.
Die landskap is besig om te verander, sê iemand anders weer later oor die naweek. Dit word duidelik vir my dat die toekoms van die kerk, veral in die Noord-Kaapland, hier lê, in lidmate wat opstaan en hulle plek inneem in ons gemeentes. Die gemeenskappe van die Noord-Kaapland se platteland sukkel maar om voltydse predikante te kan bekostig, en indien ons nie gou ’n plan gaan maak nie, gaan ons ’n baie groter probleem in die gesig staar het ’n medeleraar by laasjaar se sinode opgemerk.
In die naweek se groep is vier mense wat vanuit die Ring van Mafikeng kom, waar daar deesdae slegs een voltydse predikant is. Dit is bitter om te erken dat ons gemeentes besig is om die kapasiteit te verloor om voltydse predikante te kan bekostig, maar dit is die werklikheid van baie plattelandse gemeentes in die Noord-Kaapland. Wat egter hoop bied, is dat ons lidmate die stap neem om self op te staan, self hulle eie roeping te herken en erken en sodoende hulle regmatige plek as leiers van gemeentes in te neem.
Lees ook: Stephan Joubert op Upington: Kerk van die toekoms ‘begin en eindig by Jesus’
Die bedienaarskursus bied ’n ongelooflike geleentheid vir ons as kerk om iets te sê oor hoe ons dink oor die verkondiging van die evangelie. Soos daar in die Bybel van ‘gewone’ mense gebruik gemaak is, so word daar deur hierdie kursus gesê dat die verkondiging en gemeentewerk wat eers toegeskryf was aan voltydse leraars, by die ‘gewone’ lidmate hoort, en dat die vooruitgang van ’n gemeente nie gebonde moet of kan wees aan die teenwoordigheid van ’n predikant in ’n gemeente nie.
Iets wat oor die naweek duidelik geword het, is dat al nege mense wat daar kom sit het, ’n baie spesifieke roeping ontvang het om by verkondiging/prediking betrokke te raak. En dit is waar ons krag lê met hierdie opleiding. By mense wat sê “hier is ek, stuur my” en bereid is om die reis aan te pak om preekbevoegdheid te verkry in die NG Kerk van Suid-Afrika.
Dit ís die toekoms, dit is hoe die landskap van die kerk gaan begin lyk danksy lidmate wat sê ons gemeente bly en gaan aanhou om die evangelie te verkondig in ons gemeenskap. Die groep van nege sê: Hier in die Noord-Kaap sal die Woord van God aanhou uitgaan, sal ons aanhou gemeente wees, sal ons aanhou en aanhou tot die einde toe.
- Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie.
