Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Liesel Pauw-Smith skryf: Vrouepredikant is ‘domina’, nie ‘dominee’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Liesel Pauw-Smith skryf: Die Afrikaanse woord “dominee” of soms “dominees” (vgl die afkorting “ds”) is gebou op die Latynse woord “dominus” wat “meester” of “leermeester” beteken. Die vroulike vorm is “domina”: daar is nie ’n -s aan die einde van laasgenoemde Latynse woord nie. Dit beteken dat ons ’n damespredikant moet aanspreek as “domina” (meesteres). Die woord “domina” val maklik op die Afrikaanse tong.

Oor die afkortings van hierdie aanspreekvorms sal ’n mens effens moet besin. Die vorm “ds” (die afkorting vir ’n manlike predikant – vgl “dominus”) is heeltemal korrek.

Om die vroulike “domina” af te kort is minder eenvoudig. Ons kyk vlugtig na die moontlike afkortings hiervoor. “Da” is waarskynlik ’n heel aanvaarbare afkorting vir “domina”. As “domina” in die middel van ’n sin verskyn, sal die afkorting byvoorbeeld “da” wees; aan die begin van ’n sin of adres sal dit “Da” wees. Gelukkig word die politieke party (die DA) se afkorting altyd met hoofletters geskryf – verwarring is dus onwaarskynlik.

Ander moontlike afkortings sou kon wees “dmn” of “dna” of “dma” – net een letter langer as “da”, maar dit word te lank.

’n Vrouepredikant behoort aangespreek te word as “domina” en nie as “dominee” nie. Ook moet die afkorting van haar titel nie “ds” wees nie maar byvoorbeeld “da”.

Die meervoud van “dominee” (manlik) word afgekort “di”: die Latynse meervoud is “domini”. Die meervoud vir vroulike predikante is “dominae” in Latyn en die afkorting hiervoor kan byvoorbeeld wees “dae” – of dalk “dme”.

Nog iets om in ag te neem is dat as daar op skrif na predikante, mans en vrouens gemeng, verwys word, moet die manlike meervoudsvorm gebruik word, naamlik “di” vir “domini” – soos in die manlik-oorheerste wêreld gebruiklik is.

Die foutiewe gebruik van “dominus / dominee” vir ’n vrouepredikant het ontstaan toe die eerste vrouepredikante hulle opwagting gemaak het. Sedertdien het die foutiewe gebruik van die titel “ds” vir ’n vrouepredikant baie algemeen geraak maar dis eintlik ’n flagrante fout soos elkeen wat Latyn gestudeer het sal beaam. Dit is soos om te sê: “Die volgende spreker is mnr Anna-Maria Bruwer”.

Ek hoop werklik dat hierdie saak reggestel sal kan word voor die foutvorm sig nog dieper ingrawe!

Baie dankie vir u aandag aan die saak.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top