Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gerhard Griesel skryf: Teologiese opleiding: ‘NG Kerk moet ten volle beheer’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Gerhard Griesel van NG Kerk Pietermaritzburg-Noord skryf:

Ek verwys na twee artikels in die papieruitgawe van Kerkbode van 31 Maart.

In die eerste (‘Nelis Janse van Rensburg: Opleiding vir almal in die kerk’) sê Nelis Janse van Rensburg dat opleiding vir almal in die kerk meer geredelik beskikbaar is en nog verder uitgebou moet word. Dit is goeie nuus. Die beleid by opleidingsinstansies moet egter voldoen aan die vereistes van die werkgewer, die NG Kerk. Wat verwag ons as kerklidmate van die dosente by akademiese instellings wat ons predikante oplei? Afgesien van akademiese bekwaamhede, moet hulle toegewyde manne en vroue van God wees. Hulle moet self voorbeeldig, vroom en aan God gehoorsaam wees in hulle persoonlike en intieme lewe. Hulle moet regtig glo dat Jesus is Wie Hy gesê het Hy is. Hulle moet Gereformeerd in hulle teologiese denke wees. Hulle moet glo dat Jesus die enigste weg tot God is, en dus brandend begeer dat hulle studente geroepe sal uitgaan om dissipels vir Jesus te werf. Hierdie eienskappe moet ’n voorvereiste wees vir dosente se aanstelling, nie net ’n toevallige eienskap waaroor hulle beskik nie. Om werklik hieroor toesig te hou, moet die NG Kerk volle beheer oor die opleiding hê, selfs hulle salarisse betaal.

Ek is dus baie bekommerd as ek lees: “Die ekumeniese aard van die teologiese fakulteite verryk en verruim die leerervaring van studente.” Beteken dit dat die studentekorps, maar veral die dosente, deel vorm van ’n potpourri van allerlei godsdienste? Word voornemende predikante in so ’n omgewing opgelei?

Ek verwys ook na die naasliggende artikel (Christo Lombaard skryf: ’n Denkelose geloof nóg Bybels nóg Christelik) deur Christo Lombaard. Ja, predikante moet akademies opgelei wees, maar ons as kerklidmate wil seker wees dat ons predikante deur dosente soos hierbo beskryf opgelei word. Is die universiteite in Suid-Afrika hoegenaamd die regte plek om NG predikante op te lei? Net soos “’n Denkelose geloof nóg Bybels nóg Christelik,” is, is dit ook die geval met ’n gelooflose denke. Ek bou uit op sy voorbeeld van ’n chirurg. ’n Mens verwag dat ’n chirurg opgelei moet wees. Maar sê nou maar ek sou ontdek dat my chirurg ’n spreker is by ’n seminaar getiteld ‘Queering the operation theatre,’ of dat hy nie glo dat ’n mens ’n brein het nie? Ek sal myself ontslaan so vinnig as wat my siektetoestand dit toelaat.

Die NG Kerk kan nie toelaat dat haar predikante deur sekulêre dosente by sekulêre inrigtings opgelei word nie. Die kuratoriums moet onverwyld ons teologiese opleiding in ooreenstemming met God se opdragte bring, want dit is waar ons toekomstige predikante nie net akademies nie, maar ook geestelik gevorm word.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Gerhard Griesel skryf: Teologiese opleiding: ‘NG Kerk moet ten volle beheer’”

  1. “Is die universiteite in Suid-Afrika hoegenaamd die regte plek om NG predikante op te lei?” Gerhard Griesel vra hierdie belangrike vraag(Kerkbode, 11.04.2023) en kyk na teologiese opleiding uit die oogpunt van die lidmaat. Ek kan my vereenselwig met sy siening. Die eienskappe wat hy voorstel vir teologiese dosente is wat in die Bybel staan vir alle kerklike voorgangers (lees 1 Tim 3:1-13: Hand 20:28-31): toegewyde manne en vroue van God, voorbeeldig, vroom en aan God gehoorsaam, gereformeerd in hulle teologiese denke met ‘n brandend begeerte om dissipels vir Jesus te maak.

    Kairos Netwerk het by verskillende geleenthede hul kommer uitgespreek oor tendense by die huidige teologiese fakulteite, onder meer die feit dat dosente daar se salarisse deur die universiteite betaal word. “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt” is ‘n Nederlandse spreekwoord wat daarop neerkom dat ‘n mens die voorskrifte uitvoer van die een deur wie ‘n mens betaal word. Wanneer teologiese dosente in diens van die staat is, begin dinge verkeerd loop en jong mense word deur sekulêre dosente by sekulêre inrigtings opgelei, soos Griesel skryf.

    Blykbaar het die GKSA dit ook raakgesien. Die NWU het besluit om die ooreenkoms oor die opleiding van predikante vir die GKSA uit te faseer as die kerk nie bereid is om die nuwe ooreenkoms te onderteken nie. Die ooreenkoms sou bepaal het dat die universiteit die inhoud van die kurrikulum sou saamstel en die reg sou hê om teologiese dosente van sy keuse aan te stel. “Hulle sou nie meer soos in die verlede effektief in diens van die kerk staan nie en teologiese studente sou nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie. Hierdie voorwaardes is na die oordeel van die sinode nie in ooreenstemming met die skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding van die GKSA se predikante nie” – dit is besluit op die GKSA se laaste sinode volgens ‘n berig in Rapport (5.02.2023).

    In ‘n insiggewende artikel in Rapport vandag (16.04.2023) skryf prof. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat dat goeie teologiese opleding privaat gedoen moet word en aan die hand van die heel beste Christelike tradisie, as die Afikaanse kerke ‘n stelling wil inneem in die onontkombare stryd oor werklikheidsbeskouings wat vandag beslis word.

Comments are closed.

Scroll to Top