Teologiese opleiding aan universiteite asook die “uitbreiding van die opleidingslandskap” vir teologie beloof om van die energieke wegbreeksessies te wees wanneer die NG Kerk in Wes-Kaapland van Maandag 8 tot Vrydag 12 Mei naby Rawsonville sinode sal hou.
Die gesprekke sal plaasvind teen die agtergrond van die krimpende finansiële vermoë van sommige gemeentes om leraars te beroep, soos blyk uit die jongste kerknavorsing. Sowat 30% van predikantposte in die NG Kerk het weggeval en 4% van gemeentes gesluit, volgens Kerkspieël, ’n vierjaarlikse opname wat in 2022 gedoen is en reeds by verskeie geleenthede deur die Taakspan Navorsing bespreek is.
Intussen is die politieke ekonoom mnr Moeletsi Mbeki genooi om die sinodesitting op die eerste dag as hoofspreker by te woon. “Hy gaan die vergadering toespreek oor die nood in ons land en die rol wat die bugerlike samelewing nou kan speel in die heling van ons land,” volgens ds Nelis Janse van Rensburg, die voorsitter van die sinode. Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk sal ook die sinode toespreek, via ’n aanlyn uitsending.
Moeilik beroep?
Die paneelgesprek op Dinsdag oor die Teologiese Opleiding aan Universiteit Stellenbosch sal gevolg word deur ’n sessie oor Teologiese Navorsing (“Waarmee dosente besig is”). Dit vorm deel van ’n wydlopende agenda vir die omvangryke vergadering van gemeentes, wat saamtrek by ATKV Goudini Spa.
Van 2017 tot 2022 is 45 studente as leraars gelegitimeer. “Ongeveer ’n kwart van hulle is nie in vaste kontrakte nie, maar het verbintenisse by gemeentes. Die indruk is dat proponente wat slegs in die Wes-Kaap beroepbaar is, moeiliker beroepe ontvang vanweë die groot aantal aansoeke wat tans uit die noorde vir poste in die Wes-Kaap ontvang word,” luidens ’n verslag in die agenda van die sinode wat vooraf gepubliseer en wyd versprei is.
Vanaf 2020 tot 2023 is 50 diensleraars gelegitimeer as deel van toevoegings tot “bane” van teologiese opleiding. Diensleraars is gelegitimeerde leraars met ’n spesifieke opdrag ooreenkomstig die terrein van opleiding. Die minimum teologiese opleiding vir hierdie baan is ’n drie-jaar graad in teologie of ’n Honneursgraad in teologie aan geakkrediteerde sentra van die NG Kerk.
’n Opname onder diensleraars het die onderstaande getoon oor die samestelling van hierdie groep:
- 47% staan ook in ander beroepe. Dit sluit in berader; klavierbegeleier; SAPD; eiendomsbedryf; ontvangspersoon; kunstenaar; vertaler; navorsingsassistent; safari- operateur; rekenaarbesigheid; B&B; verkoopsbestuurder; paramedikus; onderwyser; argivaris.
- 75% is in stadsgemeentes.
- 60% is mans en 40% vroue.
- 30% is jonger as 40 jaar en 25% is bo 50 jaar.
Teologiese opleiding aan universiteitsfakulteite figureer gereeld in kerkgesprekke, ook op die brieweblad van Kerkbode. “Die dosenteraad is steeds bekommerd oor ’n soort ‘anti-teologiese’ etos wat selfs nog sterker geword het sedert die vorige sinode …” skryf prof Louis Jonker in ’n verslag as voorsitter van die dosenteraad wat in die sinode-agenda vervat is. “Die dosenteraadslede bevestig hiermee ook nogeens ons beskikbaarheid om op te tree by ringsbyeenkomste, streekskonferensies of soortgelyke geleenthede en om diensbaar te wees in kerklike taakspanne. Waar sulke geleenthede voorheen geskep is, het dit tot baie positiewe resultate aanleiding gegee,” skryf Jonker.
‘Wanaanwending van fondse’
Afgevaardigdes sal ook kennis neem van die skade wat grootskaalse wanaanwending van fondse deur ’n voormalige werknemer van die kerk berokken het.
’n Ondersoek deur ’n firma genaamd Mubesko Africa het gedui op ’n bedrag van R5,9 miljoen wat wanaangewend is, luidens ’n kort verslag in die sinode-agenda. Die verslag verskaf konteks oor die gebeure wat terugdateer na Mei 2020 en gelei het tot die werknemer se bedanking uit die pensioenkantoor en die lê van ’n strafregtelike klag teen die werknemer by die polisie.
Die saak word glo steeds deur die Valke ondersoek en ’n “groot deel van die verlore fondse kon … verhaal word.”
“Deeglike en presiese finansiële bestuur was altyd in navolging van Christus deel van ons getuienis. Ons het ons stelsels en kontrole- en bestuursmaatreëls sedertdien weer deeglik in oënskou geneem en verbeter. Die impak op die personeel van ons finansiële kantoor was omvangryk,” luidens die verslag.
Nuwe leiers gou verkies
Dit is Wes-Kaaplanders se eerste sitting sedert 2019 en die die laaste van die NG Kerk se streeksinodale sittings voor die Algemene Sinode in Oktober vanjaar in Johannesburg saamkom.
Die vergadering verteenwoordig 224 gemeentes en sowat 168 000 belydende lidmate. Die agenda vermeld dat agt gemeentes in die Sinode van Wes-Kaapland doleer oor die 2019-besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse. Dit is die 49ste vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland en kom te midde van spanning in die kerkverband oor daardie einste besluit wat dit uitspel dat die Algemene Sinode “kennis (neem) dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.”
Janse van Rensburg is tans voorsitter van die Wes-Kaapse sinode asook voorsitter van die Algemene Sinode. Sinodegangers sal Maandag vroeg-vroeg stem vir nuwe leiers (moderatuur). Die verkiesing van die moderatuur geskied per geslote stembriefie so gou moontlik na die opening op Maandag 8 Mei.
Waaroor word gepraat?
Besprekings sal by Goudini in sewe temas val, soos bepaal op grond van streeksbesoeke in 2022 na Caledon, Wellington, Vanrhynsdorp, Beaufort-Wes, George en Bellville-Uitsig.
Die temas is:
- Ons sosio-maatskaplike werklikheid (Maandag, 8 Mei van 15:30-16:30)
- Ons roeping en identiteit (Dinsdag, 9 Mei van 08:30-09:30)
- Die geestesgesondheid (Dinsdag, 9 Mei van 08:30-09:30)
- Spiritualiteit in ’n tyd van sekularisasie (Woensdag, 10 Mei van 08:30-09:30)
- Jeug & Familie (Woensdag, 10 Mei van 13:00-14:00)
- Vorming van netwerke (Donderdag, 11 Mei van 08:30-09:30)
- Diversiteit (Donderdag, 11 Mei van 13:00-14:00)
Die huwelik, Midde-Ooste … en nog geldsake
Verdere bylae tot die agenda sluit onderwerpe in soos
- Die huwelik en seksualiteit
- Israel en Palestina
- Bybelgenootskap van Suid-Afrika
- Hugenote Kollege
- Finansiële state (van die sinode), Predikante Pensioenfonds-trusteeverslag en ander sake.
In aanloop tot die sinode het sameroepers gevra vir ’n benadering wat in “Vyf bewegings” opgesom word:
- Van debat na dialoog.
- Van standpunte inneem na perspektief (“sense making”).
- Van kompromie na konsensus.
- Van finale sekerheid na helderheid.
- Van eie-wysheid na wysheid.
Pastorale situasies eerder as debat
Nog nuanses wat lesers mag interesseer, sal sigbaar wees in bydraes deur die Sinodale Taakspan vir Leerstellige en Aktuele Sake (STALS), wat ’n “gespreksmatige benadering” oor uitdagende onderwerpe in die kerk probeer bevorder. ’n “Raamwerk word verskaf vir groepbyeenkomste wat groter gesamentlike helderheid en wysheid, eerder as ’n wen-verloor-situasie, soek,” luidens ’n verduideliking in die agenda. “Onderliggend hieraan lê die besef dat etiese kwessies in ons gemeentes dikwels in konkrete en komplekse pastorale situasies voorkom. Ons het nie te doen met sake nie maar met mense in die geloofsgemeenskap.” – Le Roux Schoeman


