Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Kerkbode doen verslag oor die jongste saamtrek van die NG Kerk in Wes-Kaapland by die Goudini Spa-konferensiesentrum en warmwaterbron naby Rawsonville.
Suid-Afrika se beweerde wapenverskaffing aan oorlogvoerende Rusland is ’n goeie voorbeeld van die tipe ding wat menige glo die NG Kerk meer uitgesproke oor moet wees.
“Ons moet iets duidelik sê,” was dan ook van die pleidooie tydens die jongste sitting van die Wes-Kaapland sinode (8-12 Mei). Of: “Hoe kan ons moontlik hieroor swyg?” vra ander, wat kerkleiers en publieke teologie se identifikasie met die profetiese rol hoog op prys stel en met al wat aktuele saak is, wag op die stem vanuit die woestyn, of ten minste van iewers ver verwyderd van die soustrein en magsetels.
Dan word ’n mens by dieselfde sinode herinner dat, indien dit dan gaan oor “speaking truth to power”, die kerk ook soms die maghebber kan wees. Die een wat uitgedaag word. Juis so ’n oomblik het aangebreek toe ds Charlotte Sibanyoni in haar stadig, afgemete Afrikaans en met ’n vaste blik na die moderatuur van die sinode langs haar op die verhoog gekyk het en gesê het: “Die topic (diversiteit in die kerk) help nie as ons dit alleen het nie,” met verwysing na die afwesigheid van ander rasse as gelyke stemme in die gesprek binne die NG Kerk.


As die NG Kerk se eerste swart vrouedominee, asook iemand wat wyd getuig van die ruim barmhartigheid wat NG lidmate op kernmomente teenoor haar in haar lewe betoon het, is Sibanyoni iets uniek in kerkkonteks – ’n unicorn in werwingtaal. Iemand met ’n unieke aanbod en ’n ooglopende verbintenis daartoe om volledig daaruit te leef. “Ons kompliseer diversiteit sodat ons dit nie prakties hoef toe te pas nie,” het sy gesê in ’n pleidooi vir sigbare diversiteit op kerkraad-, rings- en sinodale vlak van die NG Kerk.
LEES OOK: Kerkbode se volledige verslaggewing oor die sinodesitting
Die dominee van Pretoria, wat ook Hebreeus doseer, praat prontuit oor die swart ervaring binne die NG Kerk en loof die kerk enersyds opreg, maar daag dit ook andersyds uit om nie te ingenome te wees met vordering wat daar gemaak is vir ’n kerk wat Apartheidteologie as sonde bely het maar steeds tot ’n groot mate met die ideologiese babelas daarvan saamleef nie. “Ek dink as ons sê ons maak ons deur oop as ’n NG Kerk, is dit nie (’n geval van) kom in en sit agter en doen wat ons doen nie,” het Sibanyoni verduidelik. “Ek dink ook nie dit is ’n manier om te help – missionaal – nie … Ons het dit reg gedoen vir jare … don’t get me wrong. Maar wat ons nou moet doen, is om mense (aan) ons tafels te kry met equal voices.”
Net soos die NG Kerk se armesorg (en die impakvolle Diens van Barmhartigheid wat daaruit ontwikkel het) tot ’n groot mate vanaf 1915 uit die konsep van “inwendige sending” in Suid-Afrika gegroei het, wonder ’n mens wat “inwendige publieke teologie” sou kon oplewer as die kerk se ego-verdedigingsmeganismes genoeg verslap om na Sibanyoni se stem vanuit die NG Kerk se binne-woestyn te luister.
Die vrees vir lou wees, versigtig vir demokrasie
Goudini Spa, die plek waar die sinode afspeel, vergestalt die gevaar – die stryd miskien – van elke ding om sy radikale karakter te bou. Dink ’n oomblik daaraan: Die aardkors frons en water stoot op – 40° naaste aan die oog, met ’n reuk van chloor en net ’n tikkie radio-aktiwiteit – en die sandsteenberge hou vir eeue die waak … Lank genoeg vir ’n kultuurorganisasie om uiteindelik ’n louerige supertube en ’n paar swembaddens te kom bou. En nou, by hierdie venue in Mei 2023, met opwekkers wat gedienstig kreun soos beurtkrag die land bloots ry, hoor ’n mens onderling gelowiges se vrees dat wilde geloof, die oorrompelende genade wat hulle vasgegryp het, dalk God self – die grootste ontdekking van haar lewe, soos een dominee Hom beskryf – getem word deur proses, protokol, kerkreg en selfs deur kerkwees. Een afgevaardigde sê vir haar was die hoogtepunt van die week se saamtrek een ding: om saam met 700 mense te sing. Die soeke na outentieke ervaring by ’n sinode eerder as ’n soort teologiese redenaarskompetisie lê vlak onder die oppervlak. “Laat u koninkryk kom,” bid ’n dominee op die laaste dag van die saamtrek. “Nie die een wat ons self skep nie, nie die een volgens ons kerkorde of belydenisskrifte nie, nie die klein koninkrykies waaraan ons verbete vasklou nie.” Natuurlik was kerkreg en alle uitwasse daarvan ook ’n poging om hierdie gekerkerde God gepas en ordelik te dien, maar die teoloog dr Nadia Marais waarsku oor ’n aantal goed, waaronder die demokratiese aspek binne die kerkorde vervat: “As ons inkoop in die logika (tweederdemeerderheid om belydenis te verander), het ons alreeds iets prysgegee van ons kerkbegrip en wat dit beteken om te bely.”

Mosie om te treur
Selfs die dringende sinne van die Belydenis van Belhar het ’n sinode wat dit grootliks ondersteun gelei na ’n plek waar dit die aktuarius 12 A4-blaaie kos om uiteen te sit watter opsies die NG Kerk uit die hof gaan hou daarmee. Terwyl daar klaarblyklik groot waardering en ten slotte meerderheidsteun vir die omsig, deursigtigheid en versigtigheid van ds Charl Stander en ander op die moderatuur is, het Marais gewaarsku tydens haar deelname aan ’n omvattende bespreking van ’n mosie oor die Belydenis van Belhar, dat die wysiging van Artikel 44 van die kerkorde eintlik die enigste pad vorentoe is. Die artikel bepaal tans dat belydenis “alleen kan geskied nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid en twee derdes van alle kerkrade elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit,” volgens ’n gids wat by die jongste sinode uitgedeel is om stemmery toe te lig. Marais het oor die “uiters problematiese” tweederdemeerderheidsbeginsel gepraat. “Ons is ’n gereformeerde kerk, ’n waarheid-soekende kerk. Ons is nie ’n demokrasie nie. Ek weet ons kom ’n lang pad met hierdie woorde … maar dis iets wat op die langtermyn altyd ’n probleem gaan wees. Iewers gaan ons moet sê: ‘Is dit hoe ons wil besluite neem? Veral oor belydenisskrifte …’ Dit gaan oor Belhar, dit is so, maar ook oor meer as Belhar. Ek het al gewonder as ons nou sou stem oor die Drie Formuliere van Eenheid, sê nou maar die Dordtse Leerreëls, wat nie baie mense se gunsteling is nie, of ons die drie Formuliere van Eenheid met hierdie proses sou aanvaar? Dit is vir my ’n vraag hoe ’n mens die proses aanpas,” volgens Marais.

Toe dit by stem kom, het die afgevaardigdes wel gestem vir ’n mosie om Artikel 44 van die Kerkorde te probeer wysig, “sodat dit vir die deelnemende sinodes moontlik sal wees om op ’n kerkordelike wyse ander belydenisskrifte te aanvaar sonder om hulle of hulle gemeentes se posisie in die NG Kerk of in die Algemene Sinode te kompromitteer …”
Die teenstand daartoe was van afgevaardigdes soos ds Riaan de Villiers van die Groote Kerk en ander wat groter dringendheid soek: “Dit is prosesse wat hoeveel jaar gaan vat … 50, 100, ek weet nie,” het De Villiers gesê.
’n Daaropvolgende goedgekeurde mosie het verder gegaan en bewys dat die meerderheid van gemeentes selfs ’n wyer aanpassing van die kerkorde wil sien en “treur” oor die feit dat hulle kerkordelik sukkel om Belhar te aanvaar. “Die Sinode van Wes-Kaapland verklaar hiermee dat ons as sinodale gebied treur oor die feit dat die Belharbelydenis nog nie deel is van die NG Kerk se belydenisgrondslag is nie. Ons treur hieroor vanweë die feit dat daar ’n diskrepansie bestaan tussen Art. 35.7 en 44 wat dit vir die Sinode van Wes-Kaapland kerkordelik onmoontlik maak om self die belydenis van Belhar te aanvaar,” lui ’n deel van die mosie.
Die teruggrype is na ‘my groep’
Dit was moeilik om nie iets van ’n weemoed op te tel by dr Llewellyn MacMaster nie. Die uittredende moderator van die VGK, het vroeër die week ook by die afgelope sinode as gas opgetree. Hy het gesê: “Ons het almal skuld. Ons het skuld daarin dat ons nog nie een is nie. Dat ons eie wat ookal ons terughou om ten volle te verbind aan eenheid,” het die kerkleier gesê en ten minste een waarnemer herinner aan Krishnamurti se opmerking dat tyd plus nadenke gelyk is aan pyn.

Hoewel Belhar se aanvaarding binne die NG Kerk spruit uit die hoop om eenwording met die VGK, sukkel ook daardie kerk met eenheid. “Ons leierskap is besig om ringe te besoek, ons het 29 ringe om te praat oor How can we deepen our internal unity,” het MacMaster vertel. Hy het van die podium gesê “die skadus het lank geword vir my. Ek is aan die einde van my bediening.”
MacMaster het met betrekking tot kerkeenheid vertel: “Een ding wat ons vir mekaar sê, sedert ons een geword het in ’94 (die VGK het in 1994 uit die vereniging van die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk tot stand gekom), het ons ook gedink die Here gaan nou sommer alles laat gebeur … ons moet nou erken die Here het ons van die begin, soos met die skeppingsverhaal, medewerkers gemaak. En dat ons van ons kant ook dinge moet doen. Die een ding wat ons besef het, ook met ons verhoudinge met die NG Kerk, is ons kan nie die impak van apartheid op ons almal misken of onderskat nie. Ons is deel van ’n Suid-Afrika waar die afgelope klomp jare nou, daar ’n teruggrype is na ‘my groep’ … ons veilige ruimtes. En ons as kerkmense word ook daar ingetrek. So ons moet doelbewus sê ons weier. Want ons het alreeds bely dat geskeidenheid verkeerd is, ons het alreeds aanvaar dat dit nie in die wil van God is nie.”

Belhar: FAQs
Verfris ’n mens gou jou geheue oor Belhar (vernoem na die plek op die Kaapse Vlakte), lees jy in kerkgeskiedenisbronne dat dit in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry het tydens die sinode van die NG Sendingkerk, by die sinode van 1986 as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar is en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA). “Terwyl die NG Kerk in die 1980’s en 1990’s sterk afwysend teenoor die Belydenis van Belhar gereageer het, het die Algemene Sinode van 2011 tot ander insigte gekom en besluit om, as sinode, die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te aanvaar en om die kerkordelik-voorgeskrewe weg te volg sodat dit as ’n belydenisskrif van die NG Kerk as geheel aanvaar sou kon word. Twee jaar later het die Algemene Sinode besluit om aan kerkrade en streeksinodes voor te stel dat die formulering van Artikel 1 van die Kerkorde verander word sodat daarin ruimte gemaak word vir die Belydenis van Belhar – maar sonder dat die belydenis daarvan afgedwing sou word. Dié voorstel is aan belanghebbendes deurgestuur sodat op die kerkordelik-korrekte manier daarmee gehandel kon word. Dit is egter nie in 2015 deur kerkrade en streeksinodes op die voorgeskrewe manier aanvaar nie en die Belydenis van Belhar is dus nie as (opsionele) belydenisskrif in die NG Kerk se Kerkorde ingeskryf nie,” volgens die inskrywing in die eCKE.

Om beter te sien
En daar vergeet dr Coenie Burger sy bril op die sinodetafel.
Die oudmoderator en teoloog het ’n bedrywige sinode gehad en as medeskrywer van ’n nuwe boek oor Jesus by meer as een geleentheid afgevaardigdes met opvallende drif toegespreek. Hy’t vertel van die teoloog wat aan die hand van een van die Evangelies opmerk dat slegs twee mense Jesus verstaan het – die een was blind en die ander ’n Romeinse soldaat!
Burger se jongste boek heet Ons wil Jesus sien. Hy het dit geskryf tesame met die Nuwe-Testamentikus prof Marius Nel. Hulle fokus op die veelkantigheid van Jesus se lewe. “(Jesus) red ons nie net met een deel van sy lewe nie, het Calvyn al gesê, maar met sy héle lewe,” lui die inleiteks oor die boek, wat gedurende die sinode so flink verkoop het dat die betaalmasjientjie by die boekstalletjie se papier opgeraak het en die uitgewer inderhaas moes planne bedink. Burger se bril – dis nou die bril van iemand wat in kerkkringe bekend is daarvoor dat hy omtrent soveel boeke het soos wat Imelda Marcos skoene het – dra simboliese gewig. Die nuwe moderator, ds Marinus Theron, het dit opgetel (die bril en die simboliek). Van die verhoog het hy dit omhoog gehou en geskerts hy gaan dit as aandenking hou. Die bril van iemand wat Jesus wil sien.
Kyk ook | VIDEO: “Ons het by ons ekumeniese vriende gehoor dat die NG Kerk weer sigbaar en hoorbaar moet wees, het ds Marinus Theron, die nuutverkose moderator van die sinode na afloop van die sitting gesê. “Dit was soos ’n refrein by sprekers soos aartsbiskop Thabo Makgoba (van die Anglikaanse Kerk), die ekonoom Moeletsi Mbeki asook die ekumeniese gaste wat die geleentheid Donderdag bygewoon het, vertel Theron: “Dat ons die uitdagings wat hierdie tyd bring, saam sal aanpak.”
- Hierdie artikel is ná publikasie aangepas. Die opskrif is verander. – Red.
