Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

An-Mari do Carmo se 'Toe als groen was', het die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk gewen by vanjaar se Andrew Murray-Prysfondstoekennings. Foto: Verskaf

Andrew Murray-prysfonds 2023: Wenskrywer vertel: “Ek het die erge wettiesheid beleef …”


Een van my gunstelingboeke van 2022, An-Mari do Carmo se Toe als groen was, het die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika gewen. Danksy Zoom kon ek met haar gesels oor dié jeugroman.

 

Do Carmo vertel hoe sy mense se lewe wou aanraak en wou wys wat by die KwaSizabantu Sending aangaan. “Ek wou ook eer bring aan die Here se Naam, wys hoe groot sy genade en liefde is. Meeste van alles wou ek wys hoe mense die evangelie kan verdraai vir hulle eie gewin. Toe ek begin skryf, het Efesiërs 5:10-11 swaar op my hart kom lê.”

 

Deurgaans beleef ek dieselfde as met die lees van haar boek: Do Carmo is deurweek van die Bybel, waar sy ’n liefdevolle, genadige God vind.

Lees ook Rethie van Niekerk se boekresensie: Stories oor diep geloofsvrae in die lewe van jonges

Ons gesels oor die wegbeweeg van ’n ou verstaan van jou geloof. “My raad aan mense sal wees om die Bybel en die Here as hulle Alfa en Omega te hê. Probeer om te laat gaan wat ander sê. Bid daaroor en vra die Here om deur sy Heilige Gees vir jou te lei om die Bybel te verstaan en ’n persoonlike verhouding met Hom te ontwikkel. Dit is hoe ek uit daardie wettiesheid gekom het na ’n intieme verhouding met die Here: deur net op die Bybel self te fokus, net vir ’n rukkie te laat gaan wat al die ander mense sê, sodat die Here self met my kan praat deur sy Woord.”

Op ’n stadium verduidelik sy hoe sekere dinge in haar boek – “die dinge wat ‘Die Sending’ doen, die mishandeling, die verdraaiing van die Woord, baie baie akkuraat” is. “Al die preke wat hulle in die boek preek, het ek amper woord vir woord gevat uit regte preke wat Die Sending gepreek het.”

Tog was ek met die lees van Toe als groen was getref deur die deernis wat Do Carmo met haar karakters het – ook diegene wat sukkel om die dwaling en manipulasie by Die Sending raak te sien.

Do Carmo getuig hoe haar eie lewensreis haar deernis met ander gegee het. “Ek het die ekstreme weergawe van Christenskap beleef: Ek het die erge wettiesheid beleef. Toe ek daar weg is, moes ek versigtig wees dat ek nie heeltemal oorleun na die ander kant nie. Ek glo die Here gebruik alles waardeur ek is om my te bemagtig om ander mense te help, veral jongmense. Ek verstaan die tipe vrae wat ’n mens het as jy op daai ouderdom is.”

Toe als groen was is beskikbaar by BybelMedia en kos R250.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.