Die Algemene Sinode van die NG Kerk vind binnekort plaas. Dit is die tyd van agendapunte en amendemente en missionale kerkordes. In hierdie uitgawe van die So What–rubriekreeks gesels dr Doret Niemandt met dr Antionette Janse van Rensburg oor die waarde van die kerkorde terwyl Marileen Steyn by prof Johan van der Merwe meer uitvind oor die beperkinge van ’n missionale kerkorde. Só het hierdie laaste gesprek verloop soos vertel deur Marileen Steyn.
Ek was in ’n hoërskool wat baie van reëls gehou het. Alle skole hou seker van reëls, maar vandag nog verwonder ek my oor die dag toe ek in die moeilikheid gekom het omdat ek ’n haarrekkie om my regterhand gehad het. Die reëls was daar om van ons goeie skoliere te maak.
Enige 16-jarige kan jou egter vertel dat ’n reël nie noodwendig jou gedrag bepaal nie. Die rokers het steeds gerook. Die meisies het steeds hulle hare gekleur en die seuns se broeke het steeds hier en daar onder die boude gehang. Die “pliggies” was ook nog steeds pligsgetrou. Dalk deels omdat hulle die reëls wou volg, maar ek dink primêr omdat die reëls reeds ingepas het by hulle familie, vriende en eie ideale. Ongelukkig dink ek nie dit het veel met ons dissiplinêre sisteem te doen gehad nie.
Prof Johan van der Merwe was my dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg en hy beklee steeds dié pos aan die Universiteit van Pretoria. Dit is hy wat my geleer het dat die kerkorde ’n staf is wat lei en nie ’n stok is wat slaan nie. Ek onthou sy klasse in kerkreg vir die bottom-line benadering wat behels dat jy doen wat reg is; nie net volgens reëls en regulasies nie, maar ook volgens wat reg is in die aangesig van God. Vir Van der Merwe, gaan reëls ook net so ver om mense te beïnvloed. Dit geld ook vir hom in die geval van die missionale kerkorde.
Die ‘missionale kerkorde’ is kerktaal op sy beste en val vir die meerderheid van ons maar snaaks op die oor. Dit kom daarop neer dat die NG Kerk besig is om hulle amptelike reëls só te herskryf sodat dit iets reflekteer van die feit dat die kerk haarself as ’n geroepene van God sien.
’n Voorbeeld van hierdie taal is alreeds sigbaar in Artikel 2 van die kerkorde, soos wat dit in 2013 gewysig is: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is deur God Drie-enig geroep om deel te neem aan die missie van God in die wêreld …” Só is die kerk besig om die kerkorde in hierdie lyn te wysig. Die einddoel is om gemeentes te help om as gestuurdes van God ’n verskil rondom hulle te maak.
Vir Van der Merwe is daar egter net een probleem: Die vere maak nie die voël nie en die kerkorde maak nie die kerk nie. So min soos my geliefde hoërskool ons kon ‘beheer’ deur die skoolreëls (ons was gereeld in die nuus …), so min kan ons kerke iets maak doen of wees deur die kerkorde te wysig.
“Ek verstaan die hele beweging agter ’n missionale kerkorde, maar ek dink nie deur die kerkorde te verander gaan die kerk missionaal word nie. Die kerk moet in wese eers missionaal wees en dan moet die kerkorde bloot die ruimte skep of wees waarbinne dit kan gebeur,” sê Van der Merwe.
Missionaliteit voor ’n missionale kerkorde
In 2018, berig Kerkbode (‘Steynsrus is op reis met God’) hoe NG Steynsrus die middelpunt van versorging geword het vir die perde, sowel as vir die mense in hulle streek.
In 1974, is die groot Jeug-tot-jeugaksie onderneem wat derduisende jongmense bereik het en wat gelei het dat vele jongmense vir teologiese opleiding aangemeld het.
In 1860 begin die groot herlewingsbeweging in Paarl wat verder uitgekring het na die res van die land. Dit is vanweë hierdie beweging dat ons nou nog jaarliks Pinksterbidure hou.
In 1855 kry dr Andrew Murray jnr befondsing om Grey Kollege in Bloemfontein te stig.

“Wat is dit anders as missionale kerkwees?” vra Van der Merwe oor bogenoemde gevalle? En bowendien het dit alles gebeur in die tyd vóór ’n missionale kerkorde. Baie NG kerke was al missionaal voor die verandering en soortgelyk kan baie kerke steeds inwaarts gekeer bly selfs na die “nuwe” kerkorde, sê Van der Merwe.
Soos wat Van der Merwe praat, word ek diep bewus van die veranderende en vloeibare tye waarin ons leef. Die wêreld skuif gedurig en die kerkorde moet dit vir gemeentes moontlik maak om ook te skuif – nie net saam met die wêreld nie, maar na die wêreld.
As ek hom reg verstaan, dan kan die kerkorde gemeentes help om missionaal te leef; nie soseer deur die taal wat gebruik word nie, maar eerder deur die manier waarop hulle gemeentes in sommige opsigte minder reguleer en meer beweegbaar maak. Sy vrees is dat die kerk haar redding in die regulering van kerk-wees probeer vind in plaas daarvan om haar roeping in die georganiseerde chaos van kerk-wees te leef.
Ter afsluiting vra Van der Merwe: “Kan ’n missionale kerkorde lidmate van ’n gemeente sover kry om die gate in die pad reg te maak? Of is dit iets anders wat dit gaan doen … miskien roeping?”
Prop Marileen Steyn is besig met haar navorsing vir ’n PhD in Teologie en prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode. Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
