Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Junie verlede jaar het ek die voorreg gehad om in die Slotkapel in Wittenberg, Duitsland te preek. Kerkhistories is dit ’n belangrike ruimte en word dit dikwels aangetoon as die plek waar die Reformasie begin het. As prediker is jy dus wel deeglik bewus van die historiese en teologiese belang van waar jy jou bevind. In die Lutherse liturgiese tradisie lei die prediker nie die hele erediens nie. So jy sit onder die hoë preekstoel en wag deur die eerste liedere en Skriflesings. Dan volg die gebed voor die prediking en die liturg knik vir jou. Jy haal diep asem. Staan op. Klim die lang stel trappe na die kansel.
Daar is ’n ligte bewing in jou hande wanneer jy jou papiere reg skuif, twyfel oor die waarde van die paragrawe voor jou, opkyk na die mense wat met afwagting na jou kyk en opnuut wonder waarom jy die uitnodiging aanvaar het; daar is soveel predikers met voorbeeldiger lewens wat dit eerder kon gedoen het. En dan, net soos wat jy met jou openingsin wil begin, vang jou oog ’n grafsteen reg onder jou. ’n Enkele graf tussen die kansel en die banke. Dit is die graf van Martin Luther. Soos my kinders ironies sal opmerk: “No pressure.”

Die ligging van Luther se graf reg voor die preekstoel beklemtoon die belang van prediking in die Lutherse tradisie. Dit is mooi, maar dis nou nie juis bevorderlik vir ’n besoekende prediker se nerwe nie. Natuurlik val die klem in hierdie tradisie nie op die prediker nie. Volgens Shauna Hannah in Preaching the manifold grace of God, ’n boek wat handel oor die verskillende teologieë van prediking in die groot kerklike tradisies van die wêreld, is die hoofaksente van Lutherse prediking die Bybel, dat die Woord as beide wet en evangelie funksioneer, en ’n fokus op Christus. Dit is mooi, dit gaan nie oor my as prediker nie, dit gaan oor God. Desnieteenstaande, daar reg onder my sien ek hoe lê Luther deur geskreefde oë vir my en loer. En elke prediker weet dat jy bewustelik in die kansel daaraan moet werk om die prediker op sy plek te hou.
LEES OOK: Elders gelees: | Toe trek kletsbot weg met eie preek
In die Slotkapel in Wittenberg het ek groot waardering gehad vir die skoonheid van die Lutherse aanbiddingstradisie – die vaste (bykans Katolieke) diensorde, die gebede en Skriflesings en mooi gesange met orrelbegeleiding, die altaar en Eucharistie. En terselfdertyd was ek dankbaar vir my eie gereformeerde tradisie. Toegegee, ek mis soms van hierdie liturgiese elemente in gereformeerde eredienste, maar die feit dat ons nie weet waar Johannes Calvyn begrawe lê nie, was daardie oggend ’n groot troos vir hierdie prediker. Met Luther se graf reg onder my het ek probeer konsentreer op Calvyn se graf. Daardie een wat ons, volgens Calvyn se uitdruklike instruksies, nie weet waar dit is nie. Vir Luther kon ek sien. Vir Calvyn kon ek nie sien nie, selfs nie al sou ek die voorreg hê om in Geneve of Straatsburg te preek nie.
Luther se graf knap voor die kansel is ’n aanduiding dat prediking uiters belangrik is. Indien jy geroep is om te preek, wel, jou broek bewe, maar daar moet jy staan, jy kan nie anders nie. Calvyn se graf wat nie geïdentifiseer kan word nie is nie ’n aanduiding dat die prediking of prediker van minder belang is nie, dit voeg wel iets by oor die belang van die mens wat praat, die prediker, wat nie al te veel klem moet kry nie. Ja, sonder ’n prediker is daar geen preek nie en ’n preek moet deur ’n spesifieke lyf gefiltreer word. En tog, tog moet jy perspektief behou oor jou rol en jou plek.
LEES OOK: Saamreis na lig verras op retraite
Bullinger, gereformeerde teoloog uit Zurich wat ’n groot aandeel in die opstel van die Eerste Helvetiese Belydenis gehad het, se bekende formulering oor prediking lui: “Die prediking van die Woord van God is self die Woord van God.” Nogmaals, “no pressure”. Luther loer vir my en dis goed so. Maar lees net verder: “… die Woord self is van belang, nie die prediker nie; want selfs as hy boos en ’n sondaar is, bly die Woord van God steeds waar en goed.” En Calvyn voeg oor die prediker by: net ’n mensie wat uit die stof verrys … slegs ’n mondstuk … soos ’n vakman (God) wat ’n stuk gereedskap (die prediker) gebruik (Insitusie 4.3.1). Johan Cilliers skryf treffend dat die klein “ek” van die prediker in diens staan van die groot “Ek”. So jy sê vir jouself: “ek, ken jou plek!”
In Wittenberg het ek beleef dat jy as prediker op die kansel eintlik in die graf staan, oftewel, in meerdere grafte. Jy staan in Luther se graf: Jý moet daar staan, en, jy móét daar staan. Jy staan ook in Calvyn se graf: As prediker is jy soos gras, soos ’n veldblom … wat ewig bly is die Woord. So ja, ek kan gerus stres oor die gewig van die saak, maar dit gaan nie oor my as prediker nie, so moet nou ook nie te veel stres nie. Dit gaan ook nie oor die graf wat ek kan sien of die graf wat ek nie kan sien nie, maar oor ’n leë graf. ’n Leë graf en daarom oor die Gees van God wat ten spyte van predikers die Woord lewend maak.
Na die diens gaan drink jy dus ’n Duitse bier op die stadsplein, diep dankbaar dat die prediking van die Woord, ten spyte van die prediker, self die Woord van God is. “No pressure”.
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
