Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Ek het nie ’n storie van hoop nie, maar my storie is steeds geldig’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anoniem van Pretoria skryf: Ek het nie ’n storie van hoop nie. Ek is een van die groep beroepbare proponente wat sukkel om werk te kry in die NG Kerk. Ons name is in die Jaarboek. Daar is ongeveer 200 beroepbare proponente (waarvan nie almal noodwendig werksoekend is nie. – Red). Ons bestaan word net nou en dan erken. My ervaring is: As jy nie georden is en in ’n gemeente aangestel is nie, dan is jy niks.

Daar word gesê ons is lui as ons nie verniet by ’n kerk wil gaan werk nie. Ons roeping word bevraagteken. God sal mos voorsien as ons waarlik geroep is. Ons kwalifikasies maak ons ongeskik vir ander loopbane. Mense sê gaan swot weer, word ’n entrepreneur. Word ’n tentmaker en doen twee werke. As die kerk jou nie wil hê nie, is die opsies min. Winkels, restaurante en ander besighede wil ons nie aanstel nie. Ons is oorgekwalifiseer. Mense sê “jok oor jou grade”. My integriteit weier.

Op skool was ek aktief betrokke in die kerk. Ek voel toe geroep om teologie te gaan swot en studeer direk na skool. Ek word lief vir teologie, veral akademiese teologie. Mense het gesê ek sal ’n aanwins vir die kerk wees. Ek word gelegitimeer. Daar word vir ons vertel daar gaan ’n oorvloed van beroepe wees om uit te kies. Na meer as ’n dekade doen ek steeds aansoek. Ek sien hoe my klasmaats en dié wat na my gekom het beroepe kry. Mense wat saam met my klaargemaak het, word dominees en dosente. Hulle sit op die moderamen. Ek sien hoe voltydse leraars van gemeente na gemeente skuif. Ek hoor hoe predikantsposte al hoe minder raak. Nuwe opleidingsbane word geskep. My hoop om ooit beroep te word, kwyn soos mis voor die son.

Daar is niks wat my ongeskik maak vir die bediening nie. Ek knoop nie buite-egtelike verhoudings aan nie, verduister nie geld nie. Ek weet mense sal sê dit is my skuld. Dat ek nie genoeg glo nie. Dat ek dan nie waarlik geroep is nie. Ek ken die leë antwoorde, die beskuldigings. Ek weet hoe mense my karakter en woorde uitmekaar skeur net sodat niks behalwe ek die probleem kan wees nie. Ek is nie ’n dominee nie, maar leef steeds onder die vergrootglas. Ek kan nie waag om kwaad of gefrustreerd te word nie, want dan regverdig dit die feit dat ek nie aanvaarbaar is nie.

Ek het nie ’n storie van hoop nie, maar my storie is steeds geldig.

Die naam van die skrywer word op versoek weerhou. Brief verkort. – Red.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top